Verbruikersake: Dink hieraan as jy jou vakansie beplan in die pandemie

(Foto: Simon Migaj
/Unsplash)

Ons weet verbruikers het op die harde manier geleer toe hulle oor die afgelope paar maande geld verloor het weens vakansies wat gekanselleer is weens Covid-19 en die vakansieplekke dit nie kon bekostig om hulle terug te betaal nie. Mense kan nou weer reis en ons weet vooraf van Covid-19. Maar sê nou jy kom in aanraking met iemand wat Covid-19 het of doen self Covid-19 op? Jy sal nou moet tuisbly om te herstel of te isoleer, maar die punt is dat jy nie meer met vakansie kan gaan nie. Gaan jy hierdie keer jou geld terugkry? Ina Opperman het ondersoek ingestel.

Die gemene reg

Die reëls van die gemene reg verduidelik hoe om ’n kontrak te hanteer as dit onmoontlik is vir een van die partye om hul kontraktuele verpligtinge na te kom. Hierdie reëls sal geld indien jy ’n paar dae voor die tyd moet kanselleer weens selfisolasie of kwarantyn.

Indien jy in kwarantyn is, verhoed regeringsregulasies dat jy jou bespreking nakom en dan word die vakansieplek kwytgeskeld van sy verpligting en jy word verskoon om vir die dienste te betaal. Aangesien jy nie meer met vakansie kan gaan nie weens omstandighede buite jou beheer, kan die vakansieplek nie eis dat jy betaal vir skade of verlies nie.

Die vakansieplek kan egter uitkontrakteer uit die reëls van die gemene reg deur ’n kansellasietarief te hef, maar die kansellasietarief moet dan voldoen aan die Wet op Verbruikersbeskerming se vereistes dat die tarief billik en regverdig moet wees. In die meeste gevalle sal die heffing van ’n kansellasietarief in die geval van selfisolasie nie billik en regverdig wees nie en daarom kan die vakansieplek nie die tarief hef nie.

Artikel 17 van die Wet op Verbruikersbeskerming bepaal dat die kansellasietarief onbillik is in die volgende omstandighede: indien dit meer is as ’n billike bedrag onder omstandighede; hoe lank jy kennis gee; die moontlikheid vir die plek om ’n nuwe bespreking te kry; en die algemene praktyk in die bedryf. ’n Billike kansellasietarief is gewoonlik omtrent 10% van die koste.

Die Wet op Verbruikersbeskerming

Artikel 17 van die Wet op Verbruikersbeskerming beskerm jou reg om voorafbespreekte verblyf te kanselleer. Hierdie artikel bepaal dat iemand wat hom verbind tot ’n bespreking of ’n bespreking aanvaar vir ’n datum in die toekoms, kan vereis dat jy vooraf ’n billike deposito betaal, maar ook ’n bedrag kan hef as jy kanselleer.

Die plek kan egter nie ’n kansellasietarief hef indien jy nie meer die bespreking kan gebruik as jy sterf of in die hospitaal opgeneem word nie. Dit is waar die vraag ontstaan of dit tel as “hospitaalopname” as jy tuis moet bly omdat jy aan Covid-19 blootgestel is of dit opgedoen het? Is dit ’n force majeure?

Wat is ’n force majeure?

’n Force majeure verwys na enige gebeurtenis wat die eienaar van die blyplek nie kon voorsien of vermy nie al het hy hoeveel moeite gedoen. Dit kan enigiets insluit van oorlog en dreigende oorlog, opstande, burgerlike ongehoorsaamheid, terroriste-aanvalle of dreigemente daarvan, bedryfsdispute, natuurlike of kernrampe, slegte weer en brande tot epidemies en pandemies soos SARS en Covid-19.

Kansellasievoorwaardes

Ek het gaan kyk na webwerwe van verskillende vakansieverblyfplekke en dit is duidelik dat niemand nog mooi hieroor gedink het nie. Ek kon nie een kry wat duidelik uitsluitsel oor hierdie kwessie gee nie. Dit lyk asof jy net jou geld gaan terugkry as jy tot drie maande voor die tyd kanselleer, terwyl baie plekke jou volle betaling vereis as jy ’n paar dae voor die tyd kanselleer.

As jy nog nie bespreek het vir die Desembervakansie nie, is dit ’n goeie idee om te vra watter voorwaardes geld as jy weens selfisolasie of kwarantyn nie meer kan reis nie. En as jy wel al bespreek het, kan jy steeds vra wat die voorwaardes is. Kry ook die voorwaardes op skrif om seker te maak wat gebeur as jy ’n paar dae voor die tyd moet kanselleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chantel ·

Hierdie jaar het voorwaar vir ons almal geleer dat mens nie regtig vooruit moet beplan nie. Die probleem is net, dat talle vakansieplekke reeds hulle Nov, Des & Jan besprekings oopmaak in Februarie. Het hulle ook hieruit iets geleer? Ek twyfel sterk.
Dit is skokwekkend om te sien watse astronomiese bedra sommige plekke vra vir die huur van vakansieverblyf. Sommige van hierdie mense vra soveel dat ek geen twyfel daaraan het dat dit hulle hele jaar se kostes dek. Ons het ‘n absolute mooi land, maar vir die normaal verdienende persoon is dit net eenvoudig onmoontlik om vakansie te gaan hou. As ek net kyk wat van die plekke per nag per persoon vra, dan wonder ek of daar regtig mense is wat dit kan bekostig om ons groot vyf of selfs net die see kan sien. Dis eintlik ‘n skande, ja dis ‘n geldmaak situasie vir mense, maar hoekom ons as SA’burgers in ons eie land so uitgebuit moet word, gaan werklik my verstand te bowe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.