Verbruikersake: Maak só seker jou vakansieplanne draai reg uit

Foto: Sai Kiran Anagani/Unsplash

Dis al amper die einde van die skooljaar en vir baie (gelukkige) verbruikers beteken dit tyd om uit te span en die spanning van die afgelope jaar af te skud. Baie verbruikers het reeds hul plek by hul vakansiebestemmings bespreek, maar daar is ook heelwat verbruikers wat nou eers planne maak. Of jy nou al bespreek het of nie, jou vakansieplanne kan skipbreuk ly as jy nie oppas nie. Ina Opperman het gaan kyk wat jou regte as verbruiker is wanneer jy vakansieplek en vervoer bespreek.

Mens kry sommer lus om liewer tuis te bly as jy op die internet sien hoe mense ingeloop word met vakansieverblyf. Van wonderlike verblyf op die strand wat toe nie bestaan nie, tot vlugte wat vertraag is en plekke wat dubbel bespreek is – die probleme wat jy gedurende jou vakansie kan raakloop, is oneindig. Maar wees gerus: daar is stappe wat jy kan doen om te verseker jou vakansieverblyf stel jou nie teleur nie en, indien jy wel probleme het, is die Wet op Verbruikersbeskerming daar om jou te beskerm.

As jy wil kanselleer

As iets soos ernstige siekte veroorsaak dat jy jou vakansie moet kanselleer, is artikel 17 van die wet aan jou kant. Hierdie artikel bepaal wat jou regte is ten opsigte van jou plekbespreking, blyplek of vervoer (vlieg- of buskaartjie).

Die verskaffer van die blyplek of vervoer mag ’n redelike deposito vereis of dat jy ten volle betaal. Daar moet egter ʼn duidelike proses wees vir kansellasies en ʼn aanduiding van hoeveel van die deposito jy sal verbeur gegrond op hoe lank voor die tyd jy die bespreking gekanselleer het.

Hoe langer voor die tyd jy kanselleer, hoe meer tyd het die verskaffer om iemand anders te vind om die bespreking te vul. Verskaffers mag egter nie ʼn kansellasietarief hef indien die mens wat die bespreking sou gebruik, ernstig siek, in die hospitaal is, of gesterf het nie.

Jou blyplek of sitplek op die regte tyd en plek

Artikel 19 bepaal dat die verskaffer dienste of goedere moet lewer op die vasgestelde datum, tyd en plek. Indien jou blyplek nie beskikbaar is nie, om watter rede ook al, moet hy vir jou ander blyplek aanbied wat jy kan kies om te aanvaar of nie of jy kan jou geld terugeis sonder dat jy ʼn kansellasieboete betaal.

Standaarde vir bemarking

Volgens artikel 19, wat die standaarde vir die bemarking van goedere en dienste bepaal, mag ’n diensverskaffer nie valse of misleidende voorstellings maak oor die aard, eienskappe, voordele of gebruike, verskaffing, pryse of enige ander wesenlike aspekte van jou blyplek nie. As jy betaal vir ʼn blyplek met ʼn mooi uitsig oor die see, moet jy ʼn blyplek kry wat wel ʼn goeie uitsig het (die uitsig oor die see moet nie net sigbaar wees as jy op jou tone op die bad se rand staan en deur die badkamervenster loer nie).

Geen valse, misleidende of bedrieglike voorstellings

Artikel 41 sluit aan by die bepalings van artikel 29 en bepaal verskaffers mag nie valse, misleidende of bedrieglike voorstellings maak, soos dat jou blyplek ʼn uitsig oor die see het as dit nie die geval is nie.

Verskaffers mag ook nie direk of indirek ’n wesenlike feit impliseer of oordryf of dubbelsinnige aansprake maak, soos dat jou blyplek “naby restaurant en kuierplekke is” as dit nie die geval is nie. Hulle mag ook nie inligting, soos dat daar ʼn brand in die hotel was waarvan die skade nog nie herstel is nie, verswyg nie. En as dit duidelik is dat jy nie mooi verstaan nie, moet die verskaffer jou reghelp. As die agent dus agterkom jy is onder die indruk dat jou blyplek “teenaan die strand is” en dit is eintlik 5 kilometer die binneland in, moet hy jou reghelp.

Die verskaffer mag ook nie onwaarhede verkondig oor die kenmerke, nut, voordele en gehalte van jou blyplek en die standaard, gehalte, graad en styl daarvan, geriewe en enige heffings nie.

“Vyfster gehalte” beteken inderdaad ʼn luukse blyplek.

Oorbespreking

Artikel 47 fokus op oorverkoping en oorbespreking en bepaal dat verskaffers nie jou bespreking mag aanvaar as hulle nie van plan is om die blyplek te lewer nie of as dit wesenlik verskil van die blyplek wat jy bespreek het.

In onvoorsiene omstandighede soos ʼn groot storm die dag voordat jy by jou blyplek aankom wat die dakke afwaai, kan die verskaffer vir jou ʼn ander plek kry van dieselfde, of beter gehalte, klas of aard, of hy moet jou geld teruggee. Jy kan self besluit of die alternatiewe blyplek sal deug.

Billike en regverdige ooreenkomste

Artikel 48 bepaal dat verskaffers nie onbillike, onredelike en onregverdige kontrakvoorwaardes mag gebruik nie en nie van jou mag verwag om enige regte prys te gee nie.

Voorwaardes is onbillik, onredelik en onregverdig wanneer dit uitsonderlik eensydig is tot die verskaffer se voordeel of so ongunstig teenoor jou dat dit onbillik is.

Die eienaar kan byvoorbeeld nie van jou verwag om ʼn ooreenkoms aan te gaan dat jy die volle prys sal betaal en geen deel daarvan sal terugkry as jy moet kanselleer nie. Daar mag ook nie ʼn voorwaarde wees dat jy jou regte kragtens van die wet prysgee nie.

Inligting eerste

Verskaffers moet jou, volgens artikel 49, inlig wat die kennistydperk is vir kansellasies en enige kennisgewing of voorwaarde wat sy risiko of aanspreeklikheid verminder, onder jou aandag bring wanneer jy bespreek.

Wenke

  • As jy nog nie self by die plek was waar jy bespreek nie, kyk op die internet wat ander mense daarvan dink.
  • Luister na jouself. As jy voel iets is fout, bespreek liewer by ʼn ander plek.
  • Doen alles skriftelik wanneer jy bespreek en hou bewyse van betaling, bevestiging van vlugte en blyplek. Sorg dat alle beloftes oor die blyplek ook op skrif is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

San ·

Het laasjaar met my gebeur. Het Airbnb in Mosselbaai reeds in Junie bespreek net om twee dae voor ons met vakansie moes gaan te hoor dat die eienaar kamstig ń dubbelbrspreking gemaak het. Het gelukkig deposito terugontvang.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.