Verbruikersake: Oppas vir hierdie vakansieslenter

Argieffoto: Pixabay.com

Terwyl die Nasionale Verbruikerskommissie nog besig is met sy ondersoek na tyddeelvakansies, kla verbruikers al hoe meer oor ʼn Kaapse maatskappy, Vacation Hub International,  wat dit onmoontlik maak vir mense om die kontrak wat hulle onder groot druk teken, te kanselleer. Ina Opperman vertel meer oor die bepalings van die Wet op Verbruikersbeskerming wat jou die reg gee om ʼn kontrak wat gesluit is tydens direkte bemarking te kanselleer en hoe om hierdie reg toe te pas.

Die maatskappy bel verbruikers aanhoudend totdat hulle inwillig om ʼn “bekendstelling” by te woon, waar hulle na ʼn praatjie moet luister voordat hulle hul vakansiekoepons kan kry. Hulle word dan omgepraat om lede te word.

Een van die ontevrede verbruikers moes ʼn deposito van R14 000 betaal nadat hy belowe is dat 12 gassertifikate vir verblyf verkoop sou word, wat in sy bankrekening inbetaal sou word. Hy moes dan van dié geld gebruik om die bedrag wat hy die maatskappy nog skuld af te betaal en die res van die geld sou syne wees.

Nadat hy tuis die kontrak goed deurgelees het, het hy agtergekom hierdie belofte is nie die papier werd waarop dit geskryf is nie. Toe hy die kontrak wou kanselleer, is hy in kennis gestel dat hy R23 000 moet betaal voordat hy kan kanselleer. Die maatskappy probeer maandeliks nog bedrae per debietorder van sy rekening verhaal en hy moes sy rekeningnommer verander om dit stop te sit.

ʼn Ander verbruiker, wat ook ingeloop is, vertel elke keer as hy vrae gevra het oor die afkoelperiode, is hy nog ʼn koepon aangebied, maar hy het nooit ʼn antwoord gekry nie. Hy het ook nie die volle dokument gesien voordat hy geteken het nie.

Nog verbruikers kla dat hulle meegedeel is dat hulle nie per e-pos mag kanselleer nie, al was daar ʼn hofuitspraak dat mense op enige manier mag kanselleer indien dit vereis word dat jy ʼn kontrak op skrif kanselleer.

The Holiday Club, ʼn bekende vakansieklub, het al op sy webtuiste aangekondig dat hy niks te doen het met Vacation Hub International nie. Volgens The Holiday Club word hul lede genader om hul punte te verkoop met beloftes van groot huurinkomste, maar the Holiday Club glo nie die maatskappy het die vaardighede of middele om internasionale bemarkingsveldtogte van stapel te stuur nie. The Holiday Club sê Vacation Hub International is gewetenloos en het geen verbintenis met The Holiday Club nie en geen mandaat om in die punte handel te dryf nie.

Wat sê die Wet op Verbruikersbeskerming?

Wanneer iemand jou bel om iets aan jou te verkoop sonder dat jy eerste met die maatskappy in verbinding getree het, word dit geklassifiseer as direkte bemarking. As iemand jou bel om te sê jy het ʼn vakansiekoepon gewen, is dit ook direkte bemarking.

Volgens artikel 16 kan jy ’n transaksie wat voortspruit uit direkte bemarking sonder rede of boete terugtrek, deur skriftelik, binne vyf werksdae nadat die kontrak geteken is, kennis te gee dat jy die kontrak wil kanselleer. Die maatskappy moet dan binne 15 werksdae jou geld terug betaal en mag nie meer debietorders vir betaling aanbied nie.

Artikel 29, wat handel oor algemene standaarde vir die bemarking van goedere of dienste, bepaal niemand mag verbruikers mislei oor die aard, eienskappe, voordele of gebruike van goedere of dienste, voorwaardes, pryse of enige ander wesenlike aspek daarvan nie.

Onder die bepalings in die wet oor kompetisies, bepaal artikel 36 dit is onwettig om jou in te lig dat jy iets gewen het as geen kompetisie gehou is nie of om te vereis dat jy eers aan ʼn voorwaarde voldoen om jou prys te kry.

Volgens artikel 40, wat handel oor gewetenlose gedrag, mag iemand nie fisieke geweld, dwang, onbehoorlike beïnvloeding, druk, teistering, onbillike taktiek of enige soortgelyke gedrag gebruik om verbruikers in ʼn ooreenkoms in te dwing nie.

Artikel 41 bepaal ook dat niemand direk of indirek valse, misleidende of bedrieglike voorstellings oor ’n wesenlike feit aan verbruikers maak nie. Dit sluit oordrywing, insinuasie of dubbelsinnigheid in, sowel as versuim om ’n wesenlike feit bekend te maak. Dit is ook verbode om te sê goedere of dienste is nuttig of het voordele wat dit nie het nie.

Volgens artikel 48, mag niemand ʼn ooreenkoms met ʼn verbruiker sluit teen ’n prys wat onbillik, onredelik of onregverdig is nie of onderhandelings of bemarking wat onbillik, onredelik of onregverdig is nie.  Transaksies word as onbillik, onredelik of onregverdig beskou indien dit uitermate eensydig is ten gunste van enigiemand anders as die verbruiker en die voorwaardes van die ooreenkoms só ongunstig vir die verbruiker is dat dit onregverdig is.

Wat sê die Nasionale Verbruikerskommissie?

Die kommissie het ondersoek ingestel na Vacation Hub International en het in sy verslag verwys na sy aanklageenheid wat dit tans oorweeg. “Die kommissie sal bekend maak wat hy gaan doen om die wet toe te pas sodra die oorweging afgehandel is. Ons besef die omvang van hierdie kwessie en hanteer dit met die nodige dringendheid om verbruikers se probleme op te los,” sê Trevor Hattingh, woordvoerder van die kommissie.

Wat sê Vacation Hub International?

Die maatskappy het nie gereageer op ʼn versoek om kommentaar nie.

  • Die kommissie se verslag oor die tyddeelbedryf word einde Maart verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Magda ·

Pasop vir ouens soos MSANSI wat jou sms en sê jy kwalifiseer vir n persoonlike lening wat deur FNB onderskryf word. Hulle verkoop n “goedkoop” begrafnispolis van R 89 per maand aan jou. Die webtuiste lyk 100% geldig en aanvaarbaar… maar dit is nie.
Jy hoor nooit weer van hulle as jy jou leningsaansoek ingedien het nie, en hul trek elke maand die R 89 af. Jy kry dit nie gestop nie, hul verander bloot die verwysingsnommer.

CB ·

Holiday Club is presies dieselfde!!! Vra ons ons was ook daar!!!!!

Daan Erasmus ·

Ons is by The Holiday Club. Dit is die enigste punte klub wat werk. Al die ander het nie genoeg plek om in die vraag te voorsien nie. The Holiday Club het die plekke wat hul adverteer. Natuurlik gaan jy sukkel om Desember in spitstyd plek te kry as jy laat slaap. Ons is nou besig om ons buite seisoen plek te bespreek.

Mw ·

Vacation Hub is uiterste skelms. Hulle het erken dat ons ons ‘kontrak’ wettig gesluit het, maar het steeds geweier om die deposito terug te betaal. Ek kon ook nie die Verbruikersunie in die hande kry om ‘n klag te lê nie. Duur skoolgeld…

Speedguard ·

My ondervinding gedeel maar MM besluit ander ….. verstaan nie !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.