Verbruikersake: Planne vir ’n vakansie wat glad verloop

vakansie

Foto: Vicko Mozara/Unsplash.com

Desember bied aan baie verbruikers die geleentheid om hul tone in die sand te gaan steek of êrens in die bos te gaan uitspan. Maar dalk is daar ’n liggie wat rooi flits in jou agterkop. Sê nou net die plek is nie so wonderlik soos wat die advertensie aangedui het nie? Niemand wat jy ken, was al daar nie en jy het dus geen ander verwysing as die advertensie nie. Het mens enige regte as jy vind die plek wat jy bespreek het, is nie vakansieplek van jou drome nie? Ina Opperman verduidelik wat jou regte as verbruiker is en hoe om hierdie regte, wat in die Wet op Verbruikersbeskerming vervat is, te gebruik.

Wanneer ʼn mens luister na vriende en familie se nagmerrievakansies oor vlugte wat vertraag is of vakansieplekke wat nie bestaan nie, wonder jy of jy nie liewer tuis moet bly nie. Die goeie nuus is dat dit nie nodig is om met Jan Tuisbly se karretjie te ry nie, want die Wet op Verbruikersbeskerming beskerm jou regte as verbruiker (en vakansieganger).

Artikel 17

Artikel 17 gee jou die reg om besprekings te kanselleer en bepaal ook wat jou regte is wanneer jy plek bespreek op ’n vliegtuig of vir blyplek. Die verskaffer van die vliegkaartjie of blyplek kan vereis dat jy ’n redelike deposito betaal, maar moet jou ook vooraf inlig hoeveel van die deposito jy sal verbeur as jy kanselleer.

Artikel 19

Jou regte ten opsigte van die lewering van goedere of verskaffing van ’n diens word in hierdie artikel vervat, wat bepaal dat die verskaffer verantwoordelik is daarvoor om dienste of goedere te lewer op die vasgestelde datum, tyd en plek. As jy dus by jou vakansiewoonstel aankom en jou blyplek is nie meer beskikbaar nie, kan die eienaar nie daarmee wegkom nie. Maak egter ook seker jy klok betyds in.

Artikel 29

Hierdie artikel bepaal dat ’n diensverskaffer nie valse of misleidende voorstellings mag maak oor die aard, eienskappe, voordele of gebruike, verskaffing, pryse of enige ander wesenlike aspekte van jou vakansiebestemming nie. Indien jy ’n rondawel reg teen die wildtuinkamp se heining bespreek het, moet jy dit kry, teen die prys waarteen jy bespreek het.

Artikel 41

Artikel 41 bepaal verskaffers mag nie:

  • valse, misleidende of bedrieglike voorstellings maak nie;
  • direk of indirek oor ’n wesenlike feit impliseer of oordryf of dubbelsinnige aansprake maak nie;
  • inligting verswyg nie; en
  • as dit duidelik is dat jy nie mooi verstaan nie, moet die verskaffer jou reghelp.

“Reg langs (of teenaan/reg oorkant, ens.) die hoofstrand” beteken jou blyplek moet presies daar wees en nêrens anders nie. As daar reg langs die blyplek gebou word met daaglikse geraas, moet jy ook daaroor ingelig word.

Die verskaffer moet ook die waarheid praat oor die kenmerke, nut, voordele en gehalte van jou vakansiebestemming en die standaard, gehalte, graad en styl daarvan, sowel as die geriewe en enige heffings. As jy bespreek het vir ’n “kindervriendelike” vakansie, moet die plek inderdaad vriendelik en veilig wees vir kinders.

Artikel 47

Artikel 47 handel oor oorverkoping en oorbespreking. ’n Verskaffer mag nie jou bespreking aanvaar as hy nie van plan is om die blyplek te lewer nie of indien die blyplek wesenlik verskil van die blyplek wat jy dink jy bespreek het nie.

Indien iets wat die verskaffer nie kon voorsien nie, gebeur, en jou plek is nie meer beskikbaar nie, kan hy vir jou ’n ander plek kry van dieselfde, of beter gehalte, klas of aard, of hy moet jou geld terugbetaal. Jy kan dan kies of jy die alternatiewe blyplek wil aanvaar. Indien die vakansieplek afgebrand het, kan die verskaffer vir jou ander verblyf reël, maar jy is die een wat besluit of jy dit aanvaar of jou geld wil terughê.

Artikel 48

Hierdie artikel bepaal dat verskaffers nie onbillike, onredelike en onregverdige kontrakvoorwaardes mag gebruik nie en nie van jou mag verwag om enige regte prys te gee nie.

Kontrakvoorwaardes is onbillik, onredelik en onregverdig wanneer dit uitsonderlik eensydig is tot die verskaffer se voordeel of so ongunstig teenoor jou dat dit onbillik is. Die eienaar kan byvoorbeeld nie van jou verwag om ’n deposito van 75% te betaal en verwag jy moet self iemand kry om jou bespreking oor te neem as jy weens siekte nie meer kan gaan nie.

Artikel 49

Volgens artikel 49 moet die verskaffer van die blyplek die kennistydperk vir sekere voorwaardes, soos kansellasies, onder jou aandag bring wanneer jy bespreek, sowel as enige kennisgewing of voorwaarde wat sy risiko of aanspreeklikheid verminder. Die verskaffer moet, wanneer jy bespreek, aandui hoe lank voor die tyd jy moet kanselleer as jy nie meer die plek kan gebruik nie.

Wenke

  • Maak seker dat jy alle besprekings op skrif kry en hou alle bewyse van betaling, bevestiging van vlugte en blyplek.
  • Skryf alles neer wat belowe word vir jou vakansie.
  • Maak seker jy kry ’n geskrewe kwitansie wanneer jy jou deposito betaal, wat aandui vir wanneer jy bespreek het.
  • Doen jou huiswerk en kyk op die internet wat mense van die plek waar jy wil bespreek, dink.
  • As jy twyfel oor ’n plek, bespreek liewer by ’n ander plek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.