Verbruikersake: Vliegkaartjieversekering vir SAL

Foto ter illustrasie. (Argieffoto.)

Verbruikers raak al hoe meer ongerus oor die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) nadat dit in Desember in sakeredding geplaas is en sommige vlugte al opgeskort is om geld te spaar. Sekere vlugte vir Februarie is ook al opgeskort. Is dit dus nodig om geld te bestee aan reisversekering wat dekking vir jou vliegtuigkaartjie verleen indien die lugdiens waarmee jy vlieg, insolvent verklaar word? Ina Opperman het gaan uitvind.

Wanneer jy ’n vliegkaartjie by ’n lugdiens koop, sluit jy ’n ooreenkoms met die lugdiens om vir jou kaartjie te betaal in ruil vir ’n bepaalde vlug.  Indien die lugdiens die bepaalde vlug kanselleer, het jy die reg om jou geld terug te eis.

As die lugdiens egter bankrot verklaar word, kan die likwidateur weens ’n tekort aan geld besluit om vlugte te staak en dus nie voort te gaan met die ooreenkomste wat gesluit is toe reisigers hul kaartjies gekoop het nie. In hierdie geval kan jy dus van die lugdiens eis om jou geld terug te betaal.

Wanneer ’n lugdiens gelikwideer word, moet die lugdiens passasiers wat kaartjies gekoop het, oorskuif na ander lugdienste, maar indien die ander lugdienste nie plek het nie, sal die lugdiens passasiers se geld moet teruggee sodat hulle self kaartjies by ander lugrederye en op eie onkoste kan bespreek.

Verbruikers word aangemoedig om omvattende reisversekering uit te neem wat dekking vir die insolvensie van ’n lugdiens insluit en om kaartjies met ’n kredietkaart te koop sodat hulle in so ’n geval hul geld terug kan eis deur middel van debitering.

Die kans is uiteraard groter dat jou vlug wel sal plaasvind in die geval van sakeredding as wat dit is wanneer die lugdiens in likwidasie is. ’n Sakereddingsplan dui aan of verbruikers wat kaartjies gekoop het, se geld terugbetaal word indien vlugte gestaak word.

In die geval van likwidasie sal die likwidateur die krediteure betaal op grond van ’n voorgeskrewe lys. Verbruikers wat kaartjies gekoop het, sal laaste op hierdie lys wees.

Die probleem is egter dat verskeie versekeraars wat versekering verkoop teen insolvensie van ’n lugdiens, reeds aangedui het dat hulle nie meer vliegkaartjies gaan dek wat deur SAL beskikbaar gestel word nie:

  • Santam se reisversekering, Travel Insurance Consultants (TIC), dek sedert 28 November verlede jaar nie meer vliegkaartjies van SAL en South African Express vir insolvensie nie.
  • Hollard Travel bied sedert 15 November ook nie meer dekking vir verbruikers wat met SAL vlieg ingeval SAL insolvent verklaar word nie.

Die Wet op Verbruikersbeskerming

Verbruikers het ook regte kragtens die Wet op Verbruikersbeskerming:

  • Artikel 17 gee jou die reg om besprekings te kanselleer en bepaal ook wat jou regte is wanneer jy ’n vliegkaartjie bespreek. Die lugdiens kan vereis dat jy ’n redelike deposito betaal, maar moet jou ook vooraf inlig hoeveel van die deposito jy sal verbeur as jy kanselleer.
  • Artikel 47 handel oor oorverkoping en oorbespreking. ’n Verskaffer mag nie jou bespreking aanvaar as hy nie van plan is om ’n plek op ’n vlug te lewer nie of indien die plek wesenlik verskil van die plek wat jy dink jy bespreek het nie. Indien iets gebeur wat die verskaffer nie kon voorsien nie, en jou plek is nie meer beskikbaar nie, kan hy vir jou ’n ander plek kry van dieselfde (of beter) gehalte, klas of aard – anders moet die redery jou geld terugbetaal. Jy kan dan kies of jy die alternatiewe plek wil aanvaar. Jy is egter die een wat besluit of jy dit wil aanvaar of eerder jou geld wil terughê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.