Verbruikersake: Wanneer jou vakansie van die baan is

Argieffoto (Foto: Jan Vašek/Pixabay)

Verbruikers wat uitgesien het na oorsese vakansies ná die afsonderingstyd sit nou met die hande in die hare. Dis baie goedkoper as jy lank voor die tyd bespreek en dit is presies wat jy gedoen het. Maar nou is die land se grense steeds gesluit en jy kan nie na jou bestemming reis nie. En toe jy wou kanselleer, moes jy hoor die reisagent sluit sy deure en die kans is groot dat jy nie jou geld gaan terugkry nie. Ina Opperman het gaan kyk wat jou opsies is.

Verbruikers kon dit nie glo toe STA Travel, eens bekend as Student Travel Australia en later die Student Travel Association begin September aangekondig het dat hy besluit het om nie in sakeredding te gaan nie, maar om die maatskappy te likwideer. STA was veral gewild onder reisigers wat op die uitkyk is vir winskopies en goedkoop reisgeleenthede.

Artikel 17 van die Wet op Verbruikersbeskerming maak voorsiening vir die kansellasie van voorafbesprekings, maar die slegte nuus is dat as die maatskappy ophou bestaan, daar ook nie veel is wat jy kan doen nie.

Artikel 17

Volgens artikel 17 is dit jou reg om voorafbesprekings en plekbesprekings te kanselleer, maar die agent kan vereis dat jy ’n redelike bedrag betaal. Die agent moet die aard van die goedere of dienste, die kennistydperk, die redelike moontlikheid om dit aan iemand anders te verkoop en die algemene praktyk van die betrokke bedryf in ag neem om die kansellasietarief uit te werk. Indien jy wil kanselleer omdat jy so siek is dat jy in die hospitaal opgeneem word of sterf, is geen kansellasietarief betaalbaar nie. Hierdie artikel bepaal egter nie wat jou regte is wanneer die agent sy deure sluit nie.

As jy wou kanselleer, sou die agent ’n groter kansellasietarief as gewoonlik kon eis omdat die kans om jou reis aan iemand anders te verkoop, baie kleiner as gewoonlik is. Prof. Riëtte du Plessis, ’n regsdosent by Wits en voorsitter van die Verbruikerstribunaal in Gauteng sê ons lewe nou in ’n nuwe normaal waarvoor niemand nog reëls gemaak het nie.

“Daarom kan dit verbruikers baat om liewer op die gemene reg en vis major (onafwendbare natuurramp of Act of God) te steun.”

Gemene reg

Die gemene reg maak voorsiening vir onafwendbare natuurrampe (Acts of God) en vir gevalle soos nou, waar die staat die “nuwe”reg daarstel en afdwing. Jy kan dus in hierdie geval jou geld terugeis en jou bespreking kanselleer omdat iets wat jy nie kon voorsien of keer nie, veroorsaak dat jy nie jou bespreking kan gebruik nie. Dieselfde geld egter ook vir die ander party, in hierdie geval die reisagent.

Wat kan jy doen?

Wanneer jy onderhandel om te kanselleer en jou geld terug te kry, kyk eers wat die verskaffer aanbied. Sommige plekke sal jou geld terugbetaal, terwyl ander ’n reisbewys aanbied wat jy later kan gebruik. Sommige lugdienste gee jou ook die geleentheid om jou besprekings gratis te skuif.

Dit is vir almal ’n nuwe normaal waarvoor daar geen reëls bestaan nie en ondernemings moet maar ook self leer wat hulle in so ’n situasie kan doen. Dit gaan nie help om te skree en ongeskik te raak nie; probeer liewer om die beste moontlike oplossing vir almal te vind.

Nasionale Verbruikerskommissie

Selfs die Nasionale Verbruikerskommissie kan nie help om verbruikers se geld terug te kry van reisagente wat hul deure sluit nie. Wanneer ’n maatskappy gelikwideer word, staan verbruikers heel agter in die ry vir uitbetalings, sê Joseph Selolo, direkteur van klagtes by die kommissie.

Dit is moeilik vir reisagente om geld terug te betaal omdat hulle, as tussengangers, reeds die geld aan die lugdiens of hotel uitbetaal het. Indien jy met jou kredietkaart betaal het, sal jy nog van jou geld terug kan kry aangesien kaarttransaksies outomaties reisversekering insluit. Jy kan jou bank vra om die bedrag om te keer.

Volgens Selolo is dit ’n ingewikkelde saak. “Volgens die Wet op Verbruikersbeskerming behoort jy jou vakansie later te kan hou of jou geld terugkry nadat ’n billike kansellasietarief afgetrek is. Maar met die likwidasie van STA het die prentjie verander, aangesien ’n likwidasie beteken dat die maatskappy nie meer bestaan nie.”

En maatskappye wat nie meer bestaan nie, kan ook nie jou geld terug betaal nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ou gees ·

Die staat het nie nodig gehad om hierdie inperking so uit te rek nie. Hoekom kan die staat nie gedagvaar word nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.