Verken Jozini-meer in ʼn luukse huisboot

Op ‘n huisboot op die Jozini-meer. (Foto: Verskaf)

Een van die beste maniere om stres af te weer is om naby die water te wees en daarom is luukse lodges naby riviere en watergate ʼn gunsteling-bestemming.

Luukse huisbote op die bekende Jozini-meer in KwaZulu-Natal is nou ook beskikbaar. Die Shayamanzi I en Shayamanzi II se ontwerpe stem ooreen met dié van die huisbote op die Kariba-meer.

Passasiers sal omring word met uiterse luukshede, onder meer ʼn boonste sitkamer en kroeg, ʼn jacuzzi en ʼn uitsig oor die water waar hulle visse sal sien spring, ʼn trop olifante wat in die vlak water baljaar, gewaar en selfs die kreune van ʼn tevrede seekoei hoor.

Twaalf gaste kan die Shayamanzi I geniet en die Shayamanzi II kan tot 24 gaste in ultra-gemaklike, en suite-kajuite met eikehoutpanele huisves. Dit is die ideale wegbreekgeleentheid vir groot gesinne en families of selfs ʼn groep spesiale vriende.

Die private kajuite se vollengte-glasskuifdeure laat gaste toe om net bo die watervlak uit te kyk en sodoende wakker word met ʼn ongelooflike sonsopkoms of aan die slaap raak met die naggeluide van die nagdiere.

Op ‘n huisboot op die Jozini-meer. (Foto: Verskaf)

Die huisbote vaar teen ʼn rustige spoed van nege knope, wat jou toelaat om die asemrowende landskap van die dek af te geniet. Kleiner bote word gebruik om vroegoggende en laatmiddae vis te vang en om wild en voëls van naderby langs die oewer van die meer te besigtig.

Die Jozini-meer was eens die tuiste van kommersiële boere, maar is nou die eksklusiewe domein van Maputaland se wild.

Die Pongola-rivier vloei vanuit die Lebombo-berge in die noorde van die Jozini-meer. Die Pongola-natuurreservaat volg die oewers na die noorde en suide en die Pongola-wildreservaat, wat privaat besit word, volg na die weste en word deur die majestueuse Lebombo-berge omring.

Dit is die perfekte plek vir wildliefhebbers, voëlkykers en fotograwe waar diere soos bokke, renosters, krokodille en watervoëls vanuit ʼn heel nuwe perspektief – die water – aanskou kan word.

Die Shayamanzi-span het ʼn lys van wenke saamgestel vir fotograwe wat ʼn draai wil maak op die Jozini-meer in ʼn huisboot:

  • Toerusting: Maak seker jy ken jou toerusting en hoe om die verstellings te maak namate die lig deur die dag verander. Diere neem nie die tyd om voor die kamera te poseer nie en daarom is dit voordelig as jy ingeoefen is en vinnig te werk kan gaan.
  • Lig: Probeer om in sagte lig te skiet, vroegoggend of laatmiddag. In Afrika is die son skerp en jy sal vind dat dit nie net die kleure in jou foto’s verbleik nie, maar ook detail (soos die plooie in ʼn olifant se sy) verdof en steurende skadu’s veroorsaak.
  • Komposisie: Net soos woorde, vertel foto’s ook ʼn storie. As jy naby genoeg is, kry die dier om oogkontak met jou en jou kamera te maak. Anders, vang vas wat die natuur op sy beste bied – ʼn watervoël wat ʼn vis gryp of oor die water sweef terwyl hy op ontbyt wag of ʼn olifant wat ʼn slurp vol water oor sy rug spuit.

Vir meer inligting oor die huisbote, besoek die webwerf of skakel 032 525 4076 gedurende kantoorure of stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koos10 ·

En lekker diep sakke ook hê. Begin by R2400.00 per persoon per nag, Bed en ontbyt, en minimum 6 mense. So teen R28000.00 het jy die boot vir ‘n naweek. En kan 2 ontbyte eet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.