Verloor jou hart op Zoeloeland in al sy ongerepte groen glorie

Olifante wei by Thanda Safari in KwaZulu-Natal. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Die noordelike Zoeloeland-streek het ’n bekoring van sy eie, veral dié tyd van die jaar.

Ek en vier ander joernaliste kon onlangs drie dae lank by die luukse wildreservaat Thanda Safari naby Hluhluwe ontspan en ek kan nou nog nie daaroor uitgepraat raak dat só ’n bestemming op tuisbodem geleë is nie.

Met asemrowende natuurskoon en hope gasvryheid, is dit egter nie verbasend dat dié vyfsterreservaat eg Suid-Afrikaans is nie.

Thanda Safari is sowat ses en ’n half uur se ry van Johannesburg af. Dié rit het egter besonder kort gevoel in die Ford Everest met ’n gemaklike binneruim en goeie klankstelsel vir die langpad.

‘n Villa by Thanda Safari Lodge. (Foto: Verskaf)

Met ons aankoms by die Thanda Safari Lodge is ons soos eregaste ontvang en elkeen na ons eie sogenaamde villa by die lodge begelei. Dié villa het my oor die volgende drie dae elke keer kinderlik opgewonde gehad wanneer ek ná ’n aktiwiteit na my kamer teruggekeer het.

Elkeen van die lodge se nege villas het sy eie plonspoel wat oor die bos uitkyk met ’n houtdek wat na ’n buitebed lei. Hier kon ek daardie boek wat ek al lank dreig om te lees nader hark en selfs indut.

Die kamer was selfs meer indrukwekkend met ’n koningsgrootte bed met spierwit linne. Dié bed word elke aand ongesiens vir jou oopgetrek terwyl die yskassie en ysemmer in die villa al kort-kort opgevul word. Dit het gesorg vir sorgelose middae in die plonspoel met ’n yskoue drankie in die hand.

 

Middagete by Thanda Safari. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Die badkamer het ’n enorme bad wat oor die plonspoel en ongerepte bos uitkyk. Die buitestort was egter verreweg my gunsteling met slegs ’n nuuskierige akkedis wat vanuit ’n hoek geloer het.

Etenstyd by Thanda Safari was elke keer ’n ervaring.

Varsgebakte brood is met elke ete eerste bedien waarna ’n driegangmaaltyd gevolg het. Op die spyskaart was onder meer koedoevleis en die geurigste hoenderkerrie. Ek het ook nie geskroom om elke middag en aand my bestelling vir nagereg van pavlova met lemoensmeer tot ’n witsjokolademousse te plaas nie. Dit was immers vakansie.

Die etes is saans by olielampe bedien met ’n spesiale opvoering deur tradisionele Zoeloe-seuns op die laaste aand.

Wildbesigtigingsritte

Ronnie Nsukwini (voor), Ben Klunde (links agter) en Mceleni Ephraim Mathe (regs agter) wys vir ons die bos. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

KwaZulu-Natal het nes groot dele van die land onlangs goeie reën gehad en die wildbesigtigingsritte deur ’n groen en ruig Zoeloeland was ongetwyfeld vir my die hoogtepunt van die wegbreek.

Indien jy gelukkig is, sal Mceleni Ephraim Mathe (waarnemende hoofveldgids), Ronnie Nsukwini (spoorsnyer) en Ben Klunde (leerlinggids) jou vergesel op dié ritte wat soggens en smiddae aangebied word. Dié drie ouens se sin vir humor is byna so skerp soos hul “bosoë” en geen renoster of vlakvark gaan sommer ongesiens verby glip nie.

Ons het gedurende ons ses wildbesigtigingsritte verskeie ontmoetings met onder meer olifante, kameelperde en buffels – duggaboys soos hul in die Zoeloeland bekend staan – gehad.

Zoeloeland het my hart heeltemal gesteel toe ons een middag ’n trop van minstens 20 olifante (én verskeie aankomelinge) in die groen bos sien wei het.

Thanda Safari huisves die groot vyf en ons het heelwat leeus te siene gekry. Ons was gelukkig genoeg om ’n leeuwyfie op die stoep van ’n ou bouval sowel as minstens drie leeuwelpies in die stofpad te gewaar. Ons het ook op twee leeumannetjies tydens hul middagslapie afgekom.

Olifante wei by Thanda Safari in KwaZulu-Natal. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

‘n Leeuwyfie loer vanuit ‘n ou bouval by Thanda Safari. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Wat my egter gedurende die wildbesigtigingsritte opgeval het, was die veldgidse se manier om selfs die kleinste besonderhede van die bos aan ons uit te wys – van die pluk en ’n proe van ’n suurpruim tot die uitwys van ’n gestreepte visvanger in die mik van ’n koorsboom.

Die gebruiklike blaaskans gedurende die ritte, elke keer by ’n ander uitkykpunt op die plaas van 14 000 hektaar, was natuurlik ook ’n hoogtepunt vir dié foodie.

Koekies en koffie tydens een van die troosbreke. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

“’n Troosbreek,” noem Ephraim dit.

Soggens is koekies en goeie koffie – met ’n goeie skeut Amarula-roomlikeur natuurlik – gedurende dié pitstop uitgepak en saans is southappies soos biltong saam met alkoholiese drankies bedien.

Dit was gedurende dié sogenaamde troosbreke wat ek behoorlik aan ons gidse se lippe gehang het. Ronnie het hier vertel van die wedersydse respek tussen die mens en natuur en Ephraim van sy ervaringe as Zoeloeman en jarelange veldgids by Thanda.

“Dit is nie ’n werk nie. Dit is ’n leefstyl,” het hy een middag laat met ’n asemrowende uitsig oor ’n lawende groen Zoeloeland verduidelik.

Ander aktiwiteite

Hoewel die versoeking groot is om heeldag in jou luukse villa uit te span, is daar wel verskeie ander aktiwiteite wat jou tyd by Thanda onvergeetlik sal maak. Dít sluit onder meer in spa‑behandelings, begeleide staptoere in die bos sowel as die geleentheid om die reservaat se meer as 250 verskillende voëlspesies van nader te bekyk en op kamera vas te lê.

Ywerige fotograwe kan ook fotografielesse van 90 minute lank by die inwonende natuurlewefotograaf Christian Sperka bespreek en selfs ’n private wildbesigtigingsvoertuig genaamd die Groen Mamba huur en saam met Christian die bos invaar om foto’s te neem.

Toe die tyd aanbreek om huiswaarts te keer, het ek myself belowe dat dit nie die laaste keer is wat ek Thanda Safari, sy mense of sy diere sal besoek nie. Ek het my hart op die Zoeloeland verloor.

Verblyfkoste

‘n Villa by Thanda Safari Lodge. (Foto: Verskaf)

Gaste kan by Thanda Safari se luukse tentkamp, die lodge of ’n selfs private villa genaamd Villa iZulu op die reservaat tuisgaan. Verblyfkoste wissel vanaf R2 997 per persoon per nag vir die tentkamp, R5 199 per persoon per nag by Thanda Safari Lodge en R55 575 per nag by Villa iZulu wat tien mense kan huisves. Dié betrokke tariewe geld vir besoekers vanaf Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG)-lande en sluit twee wildbesigtigingsritte per dag sowel as etes en beperkte drankies in.

Besoek Thanda Safari se webtuiste om meer van dié asemrowende bestemming te wete te kom of kontak Thanda Safari by 032 586 0149 of [email protected] sommer nou om te bespreek.

Die sonsondergang tydens ‘n troosbreek. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Thanda Safari Lodge (Foto: Verskaf)

Die gemeenskaplike sitkamer by die Thanda Safari Lodge. (Foto: Verskaf)

Thanda Safari Lodge (Foto: Verskaf)

‘n Villa by Thanda Safari Lodge. (Foto: Verskaf)

‘n Villa by Thanda Safari Lodge. (Foto: Verskaf)

Thanda Safari Lodge (Foto: Verskaf)

Aandete is op die laaste aand van ons wegbreek in die boma bedien. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.