Vermy die skares by dié swempoele

Silwermyndam (Foto: Daniëlle Terblanche)

Is jy ook al siek en sat vir die skares op oorvol strande? Jy kan nie eers jou handdoek neersit sonder dat ’n wild vreemdeling sommer so neffens jou kom uitspan nie. Maar hoe nou gemaak gedurende daai vuurwarm somerdae wanneer die hittegolwe op die horison dans en die sweet op jou voorkop blink? LekkeSlaap het 10 ander swemplekke gaan soek waar jy, familie en vriende ─ en dalk Vlekkie ook ─ dié somer kan gaan wegkruip.

Bergrivier – Paarl

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Rebecca (@becs.meihuizen) on

Bergrivier Vakansieoord is ’n gesinsvriendelike oord reg langs die Bergrivier buite die Paarl. Alhoewel dagbesoekers teen ’n fooi toegelaat word, stel ons voor jy bespreek ’n chalet wat stapafstand van die rivier af is. Huur ’n boot, kano en binnebande by die winkel op die perseel sodat julle heeldag lank in die water kan baljaar.

Waar: Franschhoekweg, R45, Paarl
Troeteldiervriendelik: Nee
Kindervriendelik: Ja
Permit: R100 per persoon | R100 per voertuig
Kontak: 021 001 8805 | [email protected]

Silwermyndam – Kaapstad

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Fletcher Lamar Parker (@fletcher_schnauzer) on

Dié dam is tussen die Silwermyn Natuurreservaat se 900 fynbosspesies in die Tafelberg Nasionale Park versteek. Die natuurreservaat lê bo Tokai en Muizenberg langs Ou Kaapseweg en spog met ’n uitstekende panoramiese uitsig oor die stad en tientalle staproetes om aan te durf. Pak ’n piekniekmandjie, onthou Vlekkie se leiband en kom koel in dié dam af.

Onthou: Jy het ’n permit vir Vlekkie ook nodig!

Waar: Silwermyn Natuurreservaat, Ou Kaapseweg, Tafelberg Nasionale Park
Troeteldiervriendelik: Ja | R288
Kindervriendelik: Ja
Permit: R31 per volwassene | R16 per kind
Kontak: 021 780 9002 | 021 712 7471 | [email protected]

Breederivier – Swellendam

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Natasha Wood (@natasha__wood) on

Die SANParke Bontebok Nasionale Park is ’n stukkie paradys in die skadu van die Langeberge langs die rustige Breederivier, net buite die prentjiemooi dorp, Swellendam. Die geriewe vir dagbesoekers is onlangs opgeknap en sluit ’n ruskamp en braaigeriewe by “Die Stroom” in. Pak gerus daai peuselhappies in en kom span langs dié rivier uit. Die park is ook ’n ideale oornagstop tussen Kaapstad en die Tuinroete, so bespreek sommer ’n kothuis op die rivier se oewer.

Waar: Vyf kilometer vanaf die N2, Swellendam
Troeteldiervriendelik: Nee
Kindervriendelik: Ja
Permit: R43 per volwassene | R22 per kind
Kontak: 028 514 2735 | [email protected]

Palmietrivier – Kleinmond

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Jannie Van Niekerk (@jannie.vn) on

Die Palmietrivier vloei deur die appelplase van Grabouw tot tussen Kleinmond en Bettysbaai. Dagbesoekers kan permitte by die reservaat se kantoor koop of aanlyn bespreek en dan by die Palmietrivier-roete in die Kogelberg Natuurreservaat aanmeld. Dit is ideaal vir besoekers aan dié kus wat op soek is na ’n opwindende dag in die natuur ─ kom swem, stap en verken!

Waar: Kogelberg Natuurreservaat via die N2 na Kleinmond, of op die R44 tussen Bettysbaai en Kleinmond
Troeteldiervriendelik: Nee
Kindervriendelik: Ja
Permit: R50 per volwassene | R30 per kind
Kontak: 021 483 0190 | [email protected]

Goukourivier – Stilbaai

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Carol D Reeves (@caroldreeves) on

Dié rivier vloei deur Stilbaai en is nou deel van ’n marienereservaat, maar visvang word steeds in spesifieke areas toegelaat. Behalwe dat swem, ski, bootry en kajakvaart baie gewild by dié rivier is, is dit ook ’n paradys vir visvangers en voëlkykers ─ knorhaan, steenbras, Kaapse stompneus, leervis en meer word gereeld uitgetrek en reiers, hadidas, kraanvoëls, steenvinke en visvangers is gereeld hier te sien. Bespreek verblyf langs die rivier en sit rustig op die stoep agteroor terwyl die kinders in die water baljaar.

Waar: Goukourivier in Stilbaai
Troeteldiervriendelik: Nee
Kindervriendelik: Ja
Permit: Gratis

Suicide Gorge – Grabouw

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Shahier Adams (@shahier_adams) on

Die roete na die poele buite Grabouw is slegs vir ywerige avonturiers en beslis nie vir diegene wat nie so mal oor hoogtes is nie. Die roete neem sowat 8 ure om te voltooi, maar moenie bekommer nie, jy gaan definitief koel bly met al die poele en watervalle op die roete. Maak jou gereed vir ’n paar hoë spronge tot in die poele ─ jy gaan tot 20 meter ver in die water plons! Moenie jou waterbottel, peuselhappies, sonroom en ’n stel droë klere vir ná die tyd vergeet nie.

Waar: Nuweberg, 11 kilometer vanaf Grabouw op die R321
Troeteldiervriendelik: Nee
Kindervriendelik: Nee
Permit: Op versoek beskikbaar
Kontak: 021 483 0190 | [email protected]

Jonkershoek-watervalle – Stellenbosch

 

View this post on Instagram

 

A post shared by TrailFit_SA (@trailfitsa) on

As gevolg van die vier riviere wat deur die Jonkershoekberge vloei, is daar meer as genoeg rotspoele en watervalle vir besoekers om te verken. Die Jonkershoek Natuurreservaat lê sowat nege kilometer buite Stellenbosch en spog met meer as 1 100 plantspesies en ’n hele klomp klein soogdiere. Daar is ’n maklike roete van sowat ses kilometer al langs die Eersterivier, verby die Eerste Waterval, tot by die Tweede Waterval. Moenie jou baaibroek by die huis vergeet nie!

Waar: Jonkershoekweg, Stellenbosch
Troeteldiervriendelik: Nee
Kindervriendelik: Ja
Permit: R50 per volwassene | R30 per kind
Kontak: 021 866 1560 | [email protected]

Drupkelders – Knysna

 

View this post on Instagram

 

A post shared by chevonblumberg (@chevonblumberg) on

’n Maklike roete van sowat drie kilometer neem jou na dié rotspoele wat diep in die inheemse Millwoodwoud in Knysna skuil. Omdat dit so ’n kort roete is, is dit ideaal vir kinders ─ lê heeldag luilekker op die enorme rotse langs die rotspoele rond en smul aan ’n heerlike tuisgemaakte toebroodjie! Daar word slegs 12 stappers op ’n slag toegelaat, so julle sal lekker gehalte-tyd saam kan deurbring.

Let wel: Daar is nie ablusiegeriewe of vullisblikke nie, so neem asseblief jou vullis saam met jou.

Waar: Jy sal aanwysings by die SANParke-kiosk op die Rheenendalpad buite Knysna ontvang.
Troeteldiervriendelik: Nee
Kindervriendelik: Ja
Permit: Op versoek beskikbaar
Kontak: 044 389 0252

Crystal Pools – Gordonsbaai

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Nadine Tiqvah Uys (@tiq.vah) on

Crystal Pools is baie gewild onder die plaaslike inwoners van Gordonsbaai en hulle gaan gereeld daarheen vir abseil-, kloofspring- en swem-uitstappies. Die roete is net 2 kilometer lank, maar nogal erg op die bobene wanneer die helling begin styg. Volg die geel voetspore vir sowat 45 minute tot by die eerste poel en daarna is dit nog sowat 15 minute tot by die tweede een ─ en dié een het ’n waterval!

Waar: Net anderkant die Steenbrasrivierbrug op die R44, sowat nege kilometer vanaf Gordonsbaai
Troeteldiervriendelik: Nee
Kindervriendelik: Ja
Permit: R69
Kontak: 021 444 6927 | [email protected] (besprekings moet ten minste twee dae voor die tyd gemaak word)

Kromrivier-watervalle – Paarl

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Julian Piket ? Model & Blogger (@julianpiket) on

Dié redelik uitdagende roete buite die Paarl loop al langs die rivier tot by die eerste rotspoel wat die diepste is ─ span hier vir die dag uit of kies koers na die waterval, maar wees gewaarsku: om by dié waterval uit te kom, is nie vir sissies nie. Dit raak maar hoog daar van bo af en aan die einde moet jy jouself met kettings ophys.

Wenk: Bespreek verblyf by Du Kloof Lodge net twee minute anderkant die tonnel waar jy ook jou permit kan koop.

Waar: Limietberg Natuurreservaat, net ná die Hugenotetonnel op die N1
Troeteldiervriendelik: Nee
Kindervriendelik: Ja
Permit: R50 per volwassene | R30 per kind
Kontak: 021 871 1535 | [email protected] of Du Kloof Lodge

Nou toe nou ─ dis mos ’n lekker lys vir die somervakansie! Pak jou sonroom, water en peuselhappies in en gaan verken dié koel waters!
* Let wel: Die prys van die permitte is onderhewig aan verandering.

 

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur is Nanje Lourens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.