Verrassings op die ompad dié herfs

Carina Stander en haar twee seuns staan in die kosmos in die Oos-Vrystaat. (Foto verskaf)

Ja-nee, ek het dit glad nie sien kom nie. Dit was nie eintlik die plan dat ek dié artikel sou skryf nie. Ek moes ʼn paar reisrubrieke oor die betowerende Drakensberge skryf, maar pas tuis, vonkpos ek Maroela Media se artikelredakteur: “Ons is terug van die Drakensberge in Kwazulu-Natal en dit was epies. Ons het op klein paadjies vanaf die Tuinroete daarheen gereis, en die snelweg bykans heeltemal vermy – soveel verrassings op die ompad. Plate kosmos in die Vrystaat! Die Gariepdam is 110% vol! Lieflike onbekende bergpasse in die Oos-Kaap ontdek. Netjiese paaie deur die ou Transkei – die hutte mooi en die beeste blinkvet. Die ompaaie het min trokke en is veiliger en baie mooier as die hoofroetes. Iets besonders om met lesers te deel, terwyl die Gariep in vloed is en die sonneblomme en die kosmos in oorvloed.”

Die artikels oor die Natalse Drakensberg sal weldra volg, liewe lesers, maar met die twee langnaweke in April om die draai, vertel ek graag vir julle hoe ons wonderskone land alweer my voete onder my uitgeslaan het.

Plettenbergbaai na Gariepdam, 566 km

Vanaf Plettenbergbaai neem ons die Prins Alfredpas – een van padingenieur Thomas Bain se meesterstukke. Dié bergpas sal sommer die innerlike pionier-avonturier in jou aanwakker. Klim ʼn paar keer uit die kar, rek bene, neem kiekies, drink fleskoffie en verkyk jou aan die verruklike uitsigte oor die valleie en Tsitsikammaberge. By Avontuur koop ons bobotiepasteitjies en tuisgemaakte fudge by ʼn regte, egte tuisnywerheid waar die tannie ken van vleis bewerk en haar boerse man lappe borduur vir ʼn stokperdjie.

Van hier rits ons deur Uniondale met die N9, verras deur springboktroppe en sprinkaanswerms. ʼn Mens is bitter jammer vir die boere, maar die kraanvoëls en kraaie vier fees. Die Midde-Karoo se koppies is ylblou en die struike en vetplante is gehard. In dié halfwoestyn kan dit blindwarm word in die somer en vrieskoud in die winter, maar op hierdie herfsdag is dit louwarm en ná die goeie somerreën wieg die gras in die wind. By Colesberg vermy ons die N1, wip oor na die R58 en ry tot by Norvalspont onder die Gariepdam. Gariep is ʼn Khoekhoe-woord (Nama-woord) wat “groot rivier” beteken. Vir lank stap ons op die wal van die boog-gravitasiedam en loer skrikkerig-opgewonde af na die bruisende watermassa wat 88 m hoog in die dieptes stort. Met ʼn oppervlak van 374 vierkante kilometer wanneer die dam (soos nou) stampvol is en ʼn bakmaat van 5 340 miljoen kubieke meter, is dit die grootste stoordam in die land. Die idee was natuurlik om die Oranjerivier se water te benut wat in die Atlantiese oseaan in vloei en ʼn mens kan nie anders as om jou keps respekvol te lig nie. ʼn Ingenieursprestasie van formaat is dit gewis, veral as jy onthou dat konstruksie van die hidroëlektriese dam in 1965 begin is. So bewonder ons die dam vanuit verskillende hoeke: vanaf die smal bruggie oor die Oranjerivier, vanaf die bult, vanaf ʼn piekniekplek. ʼn Visarend swiep af. En nog een, en ʼn derde! Toe die volmaan pienk bo die water verrys, is die dag vervolmaak.

Gariep na Golden Gate, 447 km

Trokke woer doer op die N1 verby, maar vandag kies ons koers op die R701, ʼn stil paadjie langs die oewer van die Gariepdam. Vir twee ure lank sien ons nie ʼn enkele ander kar nie. Die pad vat ons al langs die Gariep-natuurreservaat wat ʼn habitat vir die grootse springboktrop in die land is. Ons sien ook buffels, sebras, blouwildebeeste en volstruise.

By Smithfield hou ons stil vir koffie en melkskommels. Hierna volg ons die R701 tot naby die Lesotho-grens, dan skuif ons oor op die R26. Dit wemel van die kosmos. Ons klim uit langs die pad – die blomme groei hoër as my kop! Die sonneblomvelde is vlamgeel. By Fouriesburg draai ons af op die R711 na Clarens. ʼn Bordjie waarsku dat die pad gesluit is weens vloedskade, maar ons sien die plaaslike bakkies woerts verby en ons volg hulle voorbeeld. Ná die uitgestrekte Vrystaatse vlaktes, verskyn die toringspitse van die Oos-Vrystaatse bergland op die horison. Ons was verlede jaar in die mooie Clarens; ons tyd is vandag knap en ons moet ons ongelukkig verbyhou, maar eers neem ons die R712 na die sandsteenkastele van Golden Gate Nasionale Hooglandpark. Die park strek vir 34 000 ha aan die voetheuwels van die Malutiberge. Ons het skaars twee ure om hier te verwyl, maar benut dit deur twee roetes vanaf Glen Reenen-ruskamp te stap: Boskloof is skaars 2 km en kan in minder as ʼn uur voltooi word. Die kranse op die roete is gegroef en gestreep en die plantegroei is geil – ouhout, karee, kiepersol, geelhout en volop veldlelies, Hoëveldse grasvelde en struike. ʼn Paar keer sien ons roofvoëls in vlug. Hierna stap ons die pragtige Echo Ravine. Dis 2,25 km en neem ook ʼn uur. Die hoogtepunt is die eggokamer wat oor eeue heen deur wind en water gevorm is. Te gou groet ons die goudbruin, gloeiende berge van die Hooglandpark. Ons moet die Natalse Drakensberge immers voor donker bereik, maar eendag sal ons hierheen terugkeer.

Winterton na Barkly-Oos, 629 km

Die roete vanaf Winterton na Underberg is redelik eenvoudig, maar daarna vat ons die kleiner paaie. Die R617-suid is ʼn stil pad. By die klein dorpie, Swartberg, draai ons wes (nie oor Kokstad nie) en neem ʼn grondpad verby spogplase. Die kosmos langs die plaaspad is in blom, die gras staan skouerhoog en die beeste lyk welgeluksalig. Die suidelike KwaZulu-Natal is een van die beste beeskontreie in die land. Die omgewing staan bekend as Griekwaland-Oos (voorheen Niemandsland). By Matatiele (wat “die eende het opgevlieg” in Sotho beteken) hou ons stil vir koffie en melkskommels. Die boerseun wat ons bedien kla dat dit deesdae darem te veel reën, maar goeiste, die veld is vet! Ons rits verder deur die deel van die Oos-Kaap wat voorheen Transkei was voordat dit in 1994 weer ingelyf is by Suid-Afrika. Die hutte is mooi en ruim uit mekaar gespasieer, heelwat met groentetuine. Hier is min diefwering en baie blinkvet beeste. Dit voel meer vreedsaam as wat ek verwag het en die pad is in ʼn beter toestand. Hier is ongelukkig ook tekens van erosie, maar die landskap is lieflik – dit word verkloof deur riviere en ingekerf deur valleie. Die berge eggo die vorms van die hutte en die weiveld is welig.

(Foto verskaf)

Met die R56 ry ons na Mount Fletcher waar die borswering van Drakensberg die lug inskiet. In Ugie se supermark koop ons kos. Elliot is die eerste dorpie van die dag waar ons sinkhuisies gewaar en die strate hier is vuil. Maar hierna word ons beloon met een van die mooiste bergpasse in die land: Die R58-teerpad van Elliot na Barkly-Oos gaan deur die kloof van die Langkloofspruit en klim tot op die kruin van die Barkly-pas. Die pas begin enkele kilometers wes vanaf Elliot op ʼn hoogte van 1 473 m bo seevlak, styg geleidelik met skerp draaie oor ʼn afstand van 12 km en bereik sy hoogste punt bo seevlak op 2 018 m.

Die pas word gereeld in die winter gesluit weens swaar sneeu. Dis die Drakensberg op sy dramatiese beste – ʼn gebied ryk aan kronkelvalleie, rotspilare en kansskuilings wat vroeër die tuiste van die San-volk was. Honderde rotstekeninge is in die sandsteengrotte nagelaat. Ons verwonder ons aan die talle pieke wat gesien kan word vanaf Barkly-pas, soos die uitloper aan die westelike oewer van die Tsomoriviervallei, Xalanga (“plek van die aasvoëls”). Hier sien ons seker tien aasvoëls. Die toringagtige Witteberg is van die hoogste berge in die Oos-Kaap. Vanaf Barkly-Oos neem ons ʼn grondpad-sonder-naam tot diep in die berge waar ons op ʼn plaas oornag, maar daarvan sal ek in my volgende reisrubriek vertel.

Tyd vir padkos in die Karoo. (Foto verskaf)

Net ʼn laaste gedagte: As jy van voor af wil lief word vir die land, doen jouself ʼn guns en gaan op ʼn sloertoer. Vat die grondpaaie, die onbekender bergpasse. Slaap oor op ʼn plaas. Koop biltong by ʼn plattelandse slaghuis, beskuit en gemmerbier by ʼn outydse tuisnywerheid en vrugte en vuurhout direk by ʼn boer. Ondersteun die afgeleë gemeenskappe. Groet mense in hulle eie taal. Reis stadiger. Word stil. Neem die mooiheid van ons land in, en die mooiheid van ons land sal jou inneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Alfred E Neuman

Baie goeie artikel. Ek sou self dié roetes wou ry.