Versteekte pêrels in die Paarl

Cascade Country Manor Foto: Carina Stander

Sewentien jaar gelede het ek en Gerrit vir die eerste keer saam die langpad aangedurf en vandag is hy steeds die wonderlikste reismaat onder die son vir my. Die laaste dekade met kinders is ons reiskanse effe minder, maar ai, tog te lekker om die pad saam met kind en kraai te vat!

Waterval op ‘n olyfplaas

Dis iets wat ek myselwers altyd afvra wanneer ek koers kies na ‘n nuwe omgewing: wat is eiesoortig aan die kontrei, wat sal mens laat voel asof jy ‘n bietjie onder die vel van ‘n plek inklim? Veral as jy net ‘n naweek tot jou beskikking het (soos ons onlangs in die Paarl) is dit tog belangrik om iets te vind wat jou later sal bybly.

Ons het jare terug reeds die Afrikaanse Taalmonument verken (wat beslis ‘n besoek werd is), die mooie staproetes deur die nasionale parke, die prettige eetplekkies soos Fairview-kaasplaas met sy boktoring, die wynplase … Maar watter ander bekoorlikhede skuil daar nog in die Paarl? Natuurlik honderde, te veel om te noem!

Cascade Country Manor Foto: Carina Stander

Vir my is die geskiedenis en die berge van die Paarl besonders en daarom is die historiese Cascade Manor met die allerpragtige Klein Drakensteinberge op die agtergrond ‘n spesiale plek. Cascade Manor is vernoem na die waterval op die landgoed wat heeljaar uit die berg borrel. So stap ons deur ‘n olyfboord met pers veldblommetjies en volg die boomtonnel in sagte gloeilig tot by die waterval. Ek en Gerrit sit onder die reusagtige akkerboom en kyk na ons seuns wat die akkers en blaarbote stroom-af laat dryf.

Toe ons ons tienjarige vra om ‘n kiekie van ons by die waterval te neem, laat hoor hy bietjie blosend dog in sy noppies: “ʼn Soen op ‘n foto? Regtig? Niemand sal SULKE gedrag van julle verwag nie.” Fluister Gerrit in my oor: “Die kind gaan die skok van sy lewe kry as hy eendag jou digbundels lees…”

Met die terugstap merk ons die marmerbeelde en enorme koivisse in die tuin op. Die speelparkie voor die herehuis se toue en skoppelmaaie word ‘n hindernisbaan vir die seuns en hulle speel alte lekker, maar die wind pluk aan die bome en dis te koel vir swem.

Cascade Country Manor Foto: Carina Stander

Lank gelede was Cascade Manor die woning van die hertog van Bedford in Engeland en die olyfboord is sý nalatenskap. Vandag is hier altesaam negehonderd olyfbome in dié eeu-oue boord. Die Goetze-familie verbou die olywe en besoekers kan elke dag smul aan eienaars Volker en Maika se heerlike olyfolie en gebakte olyfbrood.

Cascade Manor is al die afgelope elf jaar die tuiste waar die Goetzes hulle drie kinders grootmaak. Die statige ou herehuis se binnehof is met spoelklip uitgelê en skep die indruk dat die kamers daar rondom dalk lank terug perdestalle was. Die herehuis het slegs vyftien slaapkamers, almal stylvol en gerieflik.

Dis ‘n koel lenteaand, Gerrit pak die kaggel in die slaapkamer terwyl die kinders ‘n warm bad vat. Toe ek my sesjarige seunskind in die kooi sit, kom ‘n hartsmeltende onthulling: “Mamma, jy weet, dis nie sommerso enige iemand wat tot in my hart kan kom nie. Ander mense moet eers by my keel inklim en dan by my neusgat uit. Of by my oog in en weer by my oor uit. En partykeer loop hulle net tot by my derms. Maar jy, Mamma, jy is heel voor in die spesiaalste plekkie van my hart. Dit alles te danke omdat jy altyd so lief was vir my. Sal jy met my trou?”

Daarna, terwyl die seuns slaap, gaan geniet ek en Gerrit ‘n romantiese kersligete roepafstand van hulle slaapkamer af. Die biefstuk en Bolandse rooiwyn is ‘n treffer! Salig slaap ons voor die kaggel.

Vroegoggend herinner die ganse se gekwaak ons dat dié ‘n werkende plaas is. Ontbyt is ‘n gesellige gedoente met vyekase en koue vleis, saadjiebrood, omelet en koffie vir krag. Daar is klomp dagbesoekers op die ruim stoep, mense wat nie oorgeslaap het nie maar wat die ontbyt geniet terwyl hulle kinders in die tuin baljaar in die skaduwee van die Klein Drakensteinberge.

Cascade Country Manor is ‘n vriendelike familiebesigheid – gasvry, sonder voorgee.

Dagbesoekers en kinders van alle ouderdomme is welkom. Hier is bergfietsroete, staproetes en olyfproe op die plaas. Dis 10 min se ry vanaf die Paarl, 20 min vanaf Franschhoek, 30 min vanaf Stellenbosch. Skakel 021 868 0227 of besoek die webwerf.

Francois en Celeste van der Merwe Foto; Carina Stander

Gloeiende glaskuns

Ek maak ‘n draai by Francois en Celeste van der Merwe se kleinhoewe in die Agter-Paarl. Die kombuis is grasgroen geverf, daar is vars blomme op die houttafel en antieke kaste. Katte, kinders, ‘n paar skape in die voortuin.

Jy weet sommer met die intrapslag dis warmhartige mense dié – sout van die aarde vasvatter-kunstenaars.

Francois en Celeste het mekaar in Port Elizabeth by Nelson Mandela Universiteit ontmoet waar hy loodglas studeer het – dis die enigste kunsfakulteit in Suid-Afrika waar loodglas tersiêr onderrig word. Daarna het hy vir sewe jaar in Ierland gewerk as loodglaskunstenaar en die vensters gerestoureer van kroeë, katedrale, dertig kerke en een die oudste kastele in Ierland wat uit die 1500’s dateer. Celeste is opgelei as sielkundige, maar het haar in Ierland bekwaam as brandglaskunstenaar. Hier in Suid-Afrika het hulle die loodglasbedryf Live Light Stained Glass begin.

Celeste sny die glas terwyl Francois sorg vir die ontwerpe, die verf van die glas en die installering van die kleurryke vensters in boutique-hotelle en privaat huise, van kerkies in die Groot Karoo tot in die Weskus en selfs ‘n liginstallasie van 1 800 stukkies vir ‘n inkoopsentrum in Kaapstad. Elke werk is eenmalig, absoluut uniek. Die glas, waarvan sommige uit Amerika ingevoer word, word met sorg geverf en gebak in ‘n oond. Die veerpyltjiebord van glas in die sitkamer verklap Francois se aweregse humorsin.

Francois reis oor die land met sy glaswerk – skakel hom gerus. Of as jy in Paarl-omgewing is, maak ‘n afspraak om met die Van der Merwes te gesels oor die brandglasvenster van jou drome: 072 203 6491 of [email protected] of besoek die webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Denise ·

Die natuurskoon is asemrowend en die loodglas werk is baie mooi en Paarl is een van die mooiste dorpe het die artikel baie geniet en is gek oor wat die seuntjie vir sy moeder gese het te kostelik!!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.