Video: Vakansieverblyf en jou regte

Elsa Esterhuizen, een van die aanbieders van Die GROOT Ontbyt, saam met Riëtte van der Merwe, ʼn assosiaat by Weavind & Weavind. (Skermskoot)

Jul tasse is gepak en jy en jou gesin is gereed vir vakansie. Jy het reeds maande terug daardie perfekte vakansiehuis bespreek – groot ruim kuierplekke, ʼn stoep wat op die see uitkyk en die golwe net ʼn paar honderd meter van jou voordeur af. Idillies!

Maar wanneer jy aankom, vind jy dat jou verblyfplek glad nie lyk soos in die foto’s op die internet nie. Inteendeel, dit is ʼn klein woonstel in ʼn woonstelblok 5 km ver van die strand af. Hoe nou gemaak?

Riëtte van der Merwe, ʼn assosiaat by Weavind & Weavind, het tydens ʼn onderhoud op Die GROOT Ontbyt verduidelik dat verblyfslenters ʼn slaggat is waarin mense gereeld trap, veral oor die Desembervakansie. “Vele van ons val vir hierdie foefies, want ons is op soek na lekker verblyf teen ʼn billike prys en ongelukkig is daar mense daarbuite wat dit uitbuit,” sê sy.

Wanneer jy sak en pak met jou gesin by jul vakansiebestemming aankom en deur ʼn groot verblyfteleurstelling in die gesig gestaar word, voel dit dalk asof jy niks aan die saak kan doen nie. Van der Merwe sê dit is egter nie die geval nie.

Sy verduidelik dat mense of ondernemings wat verblyf op ʼn gereelde grondslag as deel van hul daaglikse bedrywighede verskaf (soos gastehuise) of iemand wat sy huis gereeld of uitsluitlik aan vakansiegangers uitverhuur, deur die Wet op Verbruikersbeskerming gereguleer word.

Indien ʼn gesin dalk net een keer ʼn jaar of miskien vir die eerste keer hul huis aan vakansiegangers uitverhuur, sal gemeneregbeginsels van toepassing wees.

“Die Wet op Verbruikersbeskerming bepaal uitdruklik dat jy as verskaffer geen valse, misleidende of bedrieglike inligting mag verskaf wanneer jy ʼn plek bemark nie. Indien jy dit wel doen, kan die persoon wat die plek by jou gehuur het daarop aandring dat die volle bedrag aan hom of haar terugbetaal word en die persoon kan selfs skadevergoeding eis,” sê Van der Merwe.

“Indien jy nou gestrand sit voor hierdie huis of blyplek wat glad nie naastenby is waarvoor jy betaal het nie en jy moet ten duurste ʼn ander plek gaan huur, kan jy daardie skade ook eis van die persoon wat jou bedrieg of mislei het.”

Dit is egter raadsaam om besprekings eerder deur betroubare en gevestigde verblyfverskaffers te doen om te verhoed dat jy die slagoffer van ʼn bedrieër word.

Kyk gerus hier na die volledige onderhoud met Riëtte van der Merwe. Die GROOT Ontbyt word elke weeksoggend tussen 06:00 en 08:00 regstreeks uitgesaai op GROOTfm 90.5 of DStv-kanaal 144.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.