Vriende vir die langpad

(Foto: Verskaf)

ʼn Groep ingenieursstudente, ʼn regsstudent en mediese studente het vroeg in 2022 besluit hulle wil die “Grand tour” van Jeremy Clarkson as inspirasie gebruik en ʼn paar ou motors koop om deur die land te toer. Die voertuie mag in totaal nie meer as R20 000 kos nie. Hulle het in Potchefstroom weggespring, Potgietersrus aangedoen en die Slag van Bloedrivier se diens bygewoon op die feesterrein te Dundee en op die terrein tot na middernag gewerk om die een voertuig weer aan die loop te kry.

Clarens, Gariepdam Jeffreysbaai, Mosselbaai, en die Weskus is ook besoek. In Klein-Brak het Gerrie Pretorius saam met die jongspan rondgejaag en stof gemaak ten aanskoue van die plaaslike polisie. Die span het by alle verkeerspolisiemanne langs die pad gestop en gekuier. Waar die voertuie gebreek het, het die plaaslike boere en besigheidsmanne gretig gehelp om die voertuie weer aan die gang te kry. Behalwe vir al die pret, het die span ook geleer om dankbaar te wees vir elke vriendelike groet, elke stukkie hulp en ook dankbaar teenoor ons Hemelse Vader, want as jy die voertuie sien, sal jy besef dat dit net genade is wat die voertuie meer as 5 000 kilometer laat reis het sonder ernstige insidente.

As ouers wens ons ons kan meer jongmense aanmoedig om sulke uitspattige aksies van stapel stuur, avonture aan te pak, weer te lag en uit te sien na ervarings wat verseker dat hul nog jare vorentoe die staaltjies vir hul kinders kan vertel, en sommer net weer hoop in ons land se jeug in blaas.

Ek stuur ʼn brief van een van die deelnemers aan wat verduidelik hoeveel hierdie toer, en veral die vriendskappe, vir hom beteken het. Van die deelnemers beplan ook reeds om in Julie vanjaar Kilimanjaro te gaan klim. – Regardo Bornman

Deur Reinhard Bornman

“Wil jy saamkom leeuplaas toe? Dis Rian se 21ste.”

Ek is nie seker dat ek onthou presies wie Rian is nie. Ek laai my broer af by sy vriende, en op pad huis toe dink ek na oor sy uitnodiging. Dis ʼn Vrydagmiddag, en ek het nie juis planne vir die naweek nie. “Wil ek regtig saam ʼn groep jonger ouens kuier?” vra ek myself af.

Van my matriekvakansie af het my vriendegroep stelselmatig verklein – sommige van my vriende het oorsee gaan werk, en die res het nuwe vriendegroepe gevorm met die mense saam met wie hulle gewerk en studeer het. Teen my derde jaar op universiteit het ek twee goeie vriende oor gehad saam met wie ek altyd gekuier het. Die tyd toe my broer my dié uitnodiging gegee het, het daardie getal tot op een gedaal.

Ek dink soms terug aan die “goeie ou dae” toe my vriendegroep nog my ouers se huis volgepak het in getalle, ons bure het natuurlik die groot partytjies “baie waardeer”, veral my pa se klankstelsel.

Ek kan nie peil trek op die presiese oomblik wat ek en my ou vriende se paaie geskei het nie – dis seker net een van daai dinge − ʼn aspek van die lewe waarvan ek nie op skool geweet het nie, en nou aan gewoond moet raak.

My broer antwoord sy foon. “Ek is in,” sê ek.

Om daardie naweek saam te gaan, was een van die beste besluite wat ek al geneem het. Ure en ure se skaterlag om ʼn bosveldvuurtjie op ʼn wildsplaas, met ʼn paar leeus wat ver in die donkerte brul.

Al voel ʼn mens bietjie soos ʼn derde wiel as dit kom by ʼn reeds-bestaande vriendegroep, het ek van daardie tyd af al hoe meer tuis begin voel rondom hulle. Die uitnodigings het meer geword, en ek het hulle self begin uitnooi ook. Hierdie jaar merk die tweede jaar wat ek deel is van hulle groep, al voel dit reeds soos ʼn ewigheid. Verjaarsdae, plaaskuiers, stadskuiers en aande op ons tuisdorp Potchefstroom het my naweke, en soms weeksaande, ingekleur. Ek het reeds begin werk toe ek by hulle ingeskakel het, en ek het meer as een keer doodmoeg by die werk opgedaag – maar ek het geweet elke bietjie tyd wat ek bestee aan kuiers met die rampokkers, is ʼn belegging vir nog lekker tye wat op pad is.

(Foto: Verskaf)

In die middel van 2022 laat weet my broer my dat hulle iets groots beplan. Hulle wil ʼn paar stokou karre koop, dit regmaak, en Desember deur Suid-Afrika toer. Ek het nie gehuiwer in die besluit om deel te word daarvan nie.

Ek het nie veel bygedra tot die voorbereiding nie, die meeste van hulle is backyard mechanics wat met die hulp van regte motorwerktuigkundiges in Vanderbijlpark gewerk het om hul drie skedonke − ʼn Opel Kadett, ʼn Ford Laser en ʼn Toyota Cressida − padwaardig te maak.

Van Bloedrivier tot Clarens, na Bloemfontein tot Mosselbaai, tot bo in die Noord-Kaap en weer terug by die Mooirivier, het die voertuie al meer en meer herinneringe saamgedra, en al hoe meer mense se koppe laat draai. Sewe ure se ry aan 300 kilometer elke dag, met twee tot drie maintenance breaks per uur, openbaar ʼn hele nuwe manier van langpad ry. Die gasstofie aangeskop, ʼn keteltjie op die vlamme, en die kampstoele opgeslaan vir die toeskouers van dié wat lyk asof hulle weet wat hulle doen om die karre nog ʼn entjie verder te laat ry.

(Foto: Verskaf)

So het ons die pad al kuier-kuier aangedurf. Dit het minder soos die langpad begin voel, en meer soos ʼn ewigheid in die teenwoordigheid van lekker mense – met gebeure wat jou sal laat lê soos jy lag, gesprekke wat gegrens het aan beide topvlak-humor en eksistensiële filosofie, asook die verkenning van dele van ons mooi land wat ek nie eers geweet het bestaan nie.

Iets wat my verstand te bowe gegaan het (behalwe vir die feit dat ons almal lewendig is na die toer) is die toewyding van elke lid van die vriendegroep om die groep aan die lewe te hou. Die toer is slegs een van vele voorbeelde wat ek al self van hulle beleef het, wat nie net tyd en baie moeite gekos het nie, maar ook elkeen duisende rande uit die sak gejaag het. Elke oomblik om hulle dra net meer by tot my ongeloof dat ʼn groot groep vriende van skool af na jare steeds so geheg is aan mekaar – en dit vat soms werk aan my kant om dit nie te beny nie.

Van mekaar wil vermoor tot mekaar omhels, mekaar skel tot saamwerk aan ʼn kar wat dreig om elke onsie fisiese en emosionele energie te steel, doughnuts gooi op vele ongeskikte plekke (soos Jeffreysbaai se strandparkeerarea, waar selfs die mense se honde hul nekke gerek het om dié spektakel te probeer besigtig), mekaar met ketties skiet en swepe piets op die hoofweg (ander motoriste se veiligheid in ag geneem natuurlik), kuier tot vroegoggend en dan later dieselfde oggend weer die pad aanpak nadat daar na die olie gekyk is. Vir ʼn paar dae het dit gevoel asof dit net ons is wat bestaan; een groot disfunksionele familie.

(Foto: Verskaf)

Ek sê nie 22-jariges is onintelligent nie (van die lede van die groep is ingenieurs en een ʼn mediese student), maar om so iets te gereël het en te geslaag het in die uitvoer daarvan, iets wat op jou oudag ʼn kosbare bewys sal wees in die argief van jou geheue dat jy nie jou jongdae gemors het nie, is iets wat beslis nie per ongeluk plaasgevind het nie – dit is ʼn seën van bo.

Ek weet nie of ʼn mens deur die bank vir almal dieselfde raad kan gee met betrekking tot vriende nie.

Wat ek wel kan sê is dat, indien jy omring is met vriende wat jou kort-kort laat rol soos jy lag, vriende wat jou opbou en ondersteun, vriende wat jy dalk nie te gereeld rondom jou ouers wil hê nie (of enige ordentlike mense), maar wat jou ouers bly is jy in jou lewe het, vriende wat saam met jou sal kuier tot die volgende oggend, maar wat ook in tye van nood na jou sal sit en luister tot die volgende oggend, vriende wat jy half tien die aand kan bel om jou te help sleep uit die modder uit, vriende wat altyd opdaag – aan hulle moet jy vasklou, nie op ʼn ongesonde manier nie, maar in die wyse waarop jy altyd tyd maak, of dit nou ʼn dop na werk is en of dit ʼn groot vakansie is. Sit jou moeite, tyd en geld in, en ek glo jy sal op jou oudag terugkyk met trane in jou oë en ʼn hart wat glimlag, sielsgelukkig oor hoe jy jou jongdae spandeer het.

Laastens, maar nie minstens nie − indien jy nie sulke vriende het nie, wees jy daardie vriend vir iemand anders.

(Foto: Verskaf)

(Foto: Verskaf)

(Foto: Verskaf)

(Foto: Verskaf)

(Foto: Verskaf)

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Veritas ·

Klink lekker. Sal graag meer wil weet oor die 3 x ou karre …. Wat betaal is vir hulle, wat gebreek het ens

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.