Vyf natuurverskynsels om na uit te sien in 2021

Rogge Cloof (Foto: LekkeSlaap)

Het jou reisvooruitsigte vir hierdie jaar effens anders gelyk as nou? Moes jy noodgedwonge ’n paar opwindende reisplanne as gevolg van inperkings kanselleer? Moenie bekommer nie, daar is soveel mooi in ons eie land wat jy steeds kan verken! LekkeSlaap het ’n lys van vyf natuurverskynsels saamgestel waarna jy hierdie jaar kan gaan kyk om van voor af lief te raak vir ons pragtige land, Suid-Afrika!

Blommekyk in Namakwaland

 

Namaqua Flower Skilpad Camp (LekkeSlaap)

As jy nog nooit die helder blommekombers in Namakwaland gesien het nie, is dit hierdie jaar die tyd om na hierdie unieke deel van die land te reis. Elke jaar tussen Julie en September, mits daar goeie reënval was, verander die dorre velde van Namakwaland in helder skakerings van oranje, geel en pers. Maar dié kleurvolle gesiggies maak nie net hul verskyning in Namakwaland nie ─ die blommestreek strek vanaf Langebaan aan die Weskus tot by die Sederberge en verder noord tot in Springbok in die Noord-Kaap.

Daar is talle reservate en nasionale parke waar jy die blomme op hulle mooiste kan sien en rustig kan rondry vir die perfekte fotogeleentheid, maar hou ook jou oë langs die pad oop, daar is oral mooi veldblomme soos jy ry. En onthou, die blomme maak slegs oop wanneer die son skyn, so maak seker jy kies ’n sonnige dag om te gaan blomme kyk.

Walviskyk aan die Suidkus

Sandy Feet Self-catering Accommodation (LekkeSlaap)

Ons is bevoorreg om elke jaar tussen Junie en November ’n oorstopplek vir suidelike noorkappers te wees, wanneer hulle vanaf Antarktika op pad na die warm Mosambiek-seestroom hiér verby swem. Dié reuse-soogdiere kom kalf in ons water en bied skouspelagtige tonele wat jy van die land af kan dophou. Ja, hulle beweeg naby die kus en jy kan hulle sommer van die strand of pad af sien baljaar! Dit is werklik asemrowend om hierdie majestueuse diere uit die water te sien spring en te hoor blaas.

Jy kan hulle kapperjolle vanaf die Kaapse kus tot in KwaZulu-Natal sien. Valsbaai is ’n gewilde walviskyk-streek en die Overberg bied van die beste landgebaseerde walviskyk-geleenthede. Hulle besoek ook die Tuinroete en Knysna se bootvaarte is ’n gewilde manier om die reuse van nader te bekyk. Hou ook jou oë vir dolfyne en ander walvissoorte oop soos jy oor die diep, blou see kyk.

Sneeu in die Drakensberge

Over The Edge Cottages (LekkeSlaap)

Sneeu is maar ’n rare verskynsel in die meeste dele van Suid-Afrika maar die Drakensberge en die omliggende dorpe in KwaZulu-Natal en die Vrystaat word dikwels tydens die winter met sagte, wit komberse bedek. Dit sneeu gewoonlik in Junie wanneer die temperatuur drasties daal, so maak gereed vir lekker koud kry.

Hierdie majestueuse bergreeks is op sigself indrukwekkend, maar lyk net soveel meer dramaties wanneer dit met sneeu bedek is. In Underberg en Himeville kan jy dalk wakker word met ’n sneeubedekte omgewing so ver soos die oog kan sien. Giant’s Castle en Cathedralpiek is bekende pieke wat in wit getooi word en die Golden Gate Nasionale Park naby Clarens is ook ’n gewilde sneeukykbestemming.

Sterrekyk in Sutherland

Rogge Cloof (LekkeSlaap)

Die meeste mense dink aan die erge koue wanneer hulle aan Sutherland dink, maar dié yskoue Karoodorp bied van die beste sterrekyk-geleenthede in Suid-Afrika. Die dorp is die tuiste van SALT, Suid-Afrika se grootste teleskoop, as gevolg van sy hoogte bo seespieël en skoon, helder lug. Jy kan die reuseteleskoop buite die dorp besoek wanneer dit donker word en na die verskeie konstellasies kyk, of ’n toer in die veld saam met Jurg van Sterland onderneem om meer van die hemelliggame te leer en deur die teleskope te kyk.

Jy sal nooit weer dieselfde na die naghemel kyk nie en nuwe waardering hê vir die helder sterre bo jou ná ’n besoek aan hierdie dorp.

Die Sardienloop aan die Suidkus

Days At Sea Beach Lodge (LekkeSlaap)

Tussen Mei en Julie kan jy na KwaZulu-Natal se kus mik om die unieke sardienloop van nader te bekyk. Hierdie vissies beweeg in hulle massas vanaf die Weskus na die Suidkus en is vir ’n kort tydperk in die water te sien. Hulle word deur verskeie ander seediere gevolg en dit is juis wat dié verskynsel so skouspelagtig maak. Daar is voëls, sportvisse, dolfyne, walvisse en haaie om hulle en hulle sorg vir fantastiese fotogeleenthede van die land af. Lees gerus meer oor gewilde uitkykpunte vanwaar mense in die verlede al dié natuurverskynsel aanskou het.

Vir die meer avontuurlustige toeskouer is daar bootvaarte en duikgroepe om dié skool visse van nader te bekyk en dit beloof om ’n ongelooflike ervaring te wees.

Daar het jy dit nou, vyf natuurverskynsels waarna jy hierdie jaar kan uitsien. Beplan sommer nou al aan jou volgende wegbreek om een of almal van hierdie verskynsels in lewende lywe te sien en verken sodoende van die mooiste dele van ons land!

*Hierdie artikel is verskaf deur LekkeSlaap.co.za en is opgestel deur Daniëlle Terblanche.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.