Vyf stylvolle kroeë in Kaapstad

Die vleuelklavier by The Piano Bar Foto: Suné van Heerden

Die vleuelklavier by The Piano Bar Foto: Suné van Heerden

Dis nie vir ons almal beskore om die wêreld vol te reis nie. Dit hoef jou egter nie te keer nie, jy kan die wêreld sommer op jou voorstoep ontdek, as jy die regte plekke besoek!

In Kaapstad is ʼn hele paar kroeë wat jou in ʼn oogwink sal laat voel of jy in New York, Londen of Parys is. Party van hulle het ʼn uitsig wat jy nie in enige van die ander lande sal kry nie. Mengeldrankies wat jou soos ʼn ster uit ‘n Bond-fliek sal laat voel; of die klanke van Jazz of laat-aand-skoffel-musiek wat jou sal laat verlang na een van daardie buitelandse plekke waar jy nog nooit was nie.

Hier is my vyf gunsteling kroeë in Kaapstad.

1. Twankey Bar (Taj hotel)
Met pragtige en ryk afwerkings van donkerhout en hoë plafonne met hoë-rug luukse stoele voel dit of jy enige oomblik gaan skouers skuur met koninklikes. Die gevoel dat jy in ʼn statige Londense kroeg tydens die Victoriaanse tydperk verkeer, is ideaal om ‘n na-werk mengeldrankie te geniet of werksvriende te ontmoet.

Deesdae kan jy boonop ook vanaf 07:00 hier ontbyt geniet, maar die Twankey Bar se eintlike aantrekkingskrag lê in die heerlike atmosfeer ná werk, wanneer mense weglê aan die bekende oesters en vonkelwyn waarvoor hulle bekend is.

Op Donderdae het Twankeys ʼn spesiale halfprysaanbod op ʼn verskeidenheid Mojito’s wat hulle bedien. Dis ook die aand wat jy heerlike Suid-Afrikaanse talent kan hoor wat jou gunsteling- plaaslike en internasionale liedjies in Jazz-verwerkings speel.

2. Bascule whisky & wynkroeg (Cape Grace Hotel)
As jy ʼn voorliefde vir die see, whiskey of wyn het, dan is hierdie kroeg vir jou. Dis geleë op die rand van die Waterfront se Marina en bied die ideale uitspanplek om die pragtige Tafelberg of nabygeleë oseaangeluide in te drink.

Die interieur is modern en chic met ʼn sterk gevoel dat jy jouself dalk op ʼn toerskip bevind. Die ligging laat jou boonop voel of jy uitkyk op die seiljagklub van Monaco of Vilamoura in Spanje.

Geniet ʼn ligte middagete of die lekker tapas vir ʼn vroeë aandete terwyl jy proe aan een van hulle 500 whiskeys .

3. Alexander Bar
As daar nou ʼn kroeg is wat jou oombliklik laat voel of jy in ʼn ander era ingestap het, is dit hierdie een. Met sy outydse sjarme en oorspronklike styl is dit die ideale plek om ʼn tema-aand-partytjie te hou. Opgedos in my Gatsby-uitrustig het ek my eerste kennismaking met die sjarmante plek gehad. Outydse, draai-beltelefone staan oral waarop jy kan geselsies aanknoop met ander mense in die kroeg of jy kan selfs die kroegman ʼn lui gee en ʼn bestelling plaas.

As jy ʼn kultuurfundi is, kan jy een van die diverse en interessante opvoerings gaan bywoon by die klein en intieme teater op die boonste vloer. Van voorlesings, eenmanopvoerings tot wêreldklasmusiekuitvoerings.

4. Sky Bar (Cape Royal Hotel)
Vir ʼn “Martini, 360 degrees view not stirred” moet jy hier ‘n draai kom maak met sonsondergang. Geleë op die dak van die Frans geïnspireerde Cape Royal Hotel is dit een van die mooiste uitsigte wat jy rustig kan geniet terwyl jy aan ʼn mengeldrankie teug.

Die moderne kroeg is ideaal vir skemerkelkie-funksies of om te kom ontspan in die son langs die dakswembad net om weg te kom van die stadsgejaag.

Hulle laat net ʼn sekere hoeveelheid mense toe op ʼn aand en daarom sal ek voorstel om te bespreek op besige tye. Dis ideaal vir privaatfunksies.

5. Piano Bar
As Jazz-musiek jou voete laat jeuk dan is hierdie kroeg/restaurant ʼn definitiewe móét. Buiten Maandagaande is daar elke aand iemand wat agter die pragtige vleuelklavier inskuif om jou te vermaak.

Gedurende die week is dit een van die kelners, wat musiek studeer, wat sy liefde vir dié kunsgenre kom oordra terwyl gaskunstenaars oor naweke lewe kom gee aan dié New York geïnspireerde kroeg.

Die restaurant het ʼn lekker spyskaart om van te kies en hulle tapas is heerlik. Nog ʼn bonus is spesiale aanbiedinge op wyn en sekere geregte wat op sekere aande vir hulle kliënte aangebied word.

Indien hierdie jou tipe uithangplek is, kan dit ʼn heerlike verjaarsdagvenue wees. Jy kan selfs die naglug saam met die musiek geniet op die oopdakterras.

Ritsgids:
Besoek gerus Alexander Bar se webtuiste om te sien watter optredes word beplan vir die volgende maand of twee.
Tye: Maandag tot Saterdag 11:00 tot 01:00. Kombuis oop tot middernag. Gesluit Sondae.
Bascule Bar – Probeer gerus een van die whisky-proeë. Al die whisky-proeë word gekombineer met sjokolade-truffles, gerookte salm en bloukaas. ʼn Whisky-proe kos tussen R195 en R500pp.
Sky Bar is oop vanaf 08:00 tot 22:00.
– Geniet ontbyt by Twankey Bar vanaf 07:00 – 11:00 en die middagetespyskaart tussen 12:00 en 22:00.
Tye: Maandag tot Vrydag 07:00 – 23:00; Saterdag 14:00 – 00:00. Oop op publieke vakansiedae maar gesluit op Sondae.
Die Piano Bar is geleë op die hoek van Jarvis- en Napierstraat in De Waterkant. Dis gesluit op Sondae maar oop elke ander aand van die week met lekker spesiale aanbiedinge soos twee vir die prys van een mengeldrankies op Maandae tot Vrydae tussen 17:00 en 19:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.