LekkeSlaap se vyf veiligheidswenke vir ’n stresvrye vakansie

Goodey’s Guesthouse (Foto: LekkeSlaap)

Of jy nou lank uitgestrek op ’n rusbank in ’n luukse hotel lê of rustig in ’n swembad op ’n plaas in die Bosveld dryf ─ dit is maar in enige Suid-Afrikaner se aard om meer as een keer aan die deurknop te draai voor jy snags kamer se kant toe kan staan. In my geval sal ek maklik sewe keer kyk of die veiligheidshek gesluit is voor ek tot rus kan kom wanneer ek in ’n vreemde plek slaap. Noem my dan maar ’n bangbroek, maar as Mariëtta Kruger die daaglikse misdaadberigte so voorlees, besef ek dat ek my bang Jan-naambordjie met trots moet dra, want dooie Jan wil ek beslis nie wees nie. Geen vakansie moet egter ’n veiligheidskopseer veroorsaak nie, en met LekkeSlaap se nuttige veiligheidswenke vir parate reisigers, hoef jy nie een oomblik oor jou vakansieveiligheid wakker te lê nie!

Vakansieveiligheid maak die wêreld se verskil

Die bekende neuroloog en slaapspesialis, dr. Matthew Walker, skryf in sy bekroonde boek, Why We Sleep, dat die mens se brein baie moeiliker afskakel wanneer hy homself in ’n vreemde omgewing bevind. Dit is weens ’n natuurlike veiligheidsmeganisme in die brein wat die mens teen potensiële bedreigings probeer beskerm. Jou brein hou jou as’t ware wakker sodat jy gereed kan wees om jouself te verdedig indien nodig. Dr. Walker stel voor dat mens so veel as moontlik stappe doen om jou brein gerus te stel wanneer jy in ’n vreemde plek slaap. Sodoende kan jy werklik ontspan en jou vakansie behoorlik geniet!

  1. Vind ’n veilige toevlug

Suid-Afrika is ’n land ryk aan vakansiebestemmings. Elke kus het ’n knus kothuis waarin moeë siele tot rus kan kom en elke stad het ’n spoggerige suite waarin stralerjakkers hul stadsliggie-dors kan les. Dié bestemmings lyk maklik verleidelik en met die dat ons deesdae ons lot aan ’n Google-soektog oorlaat, kan jy maklik ’n roos in ’n doringbos teëkom. Dit is belangrik om nie net na die verblyf wat jy bespreek te kyk nie, maar ook die area waarin dit geleë is goed na te vors. Dit help nie jy bespreek ’n nag in ’n luukse villa, maar jy moet deur die boendoes ry om daar uit te kom nie! Moet dus nie dat mooi slaapkamerfoto’s en ’n luukse Jacuzzi jou sommer bluf nie. Doen altyd deeglik navorsing oor jou droombestemming se ligging ─ sodoende kan jy ’n nagmerrie-wegbreek voorkom.

  1. Ken die area voor jy dit verken

Die mens bly maar ’n nuuskierige wese en as jy enigsins soos ek is, kan jy nie anders as om elke hoek en draai van ’n nuwe plek te wil verken nie. Dit is egter nie altyd wys om sommer net die strate by jou vakansiebestemming in te vaar nie, want wie weet wat agter daardie hoeke en draaie wat jy so graag wil verken skuil. Daarom is dit belangrik om jou vakansiedae goed te beplan wat doendinge betref. Doen vroegtydig navraag by jou akkommodasie se bestuurder of by die plaaslike toerismekantoor oor watter plekke jy in die area kan besoek en watter plekke jy moet vermy. En as jy eers die area ken, kan jy na hartelus verken!

  1. Resensies baan die weg

As dit by ’n verblyfsoektog kom, is daar niks so betroubaar soos die waarheid uit die perd se bek om jou met jou soektog te help nie. Daarom is dit altyd nuttig om vorige gaste se resensies na te gaan en te kyk wat hulle oor ’n plek se veiligheid te sê het. As jy ’n resensie teëkom waarin die gas sê hy of sy het onveilig gevoel of minder as drie uit vyf sterre aan veiligheid toegeken het, kan jy maar weet dit sal veiliger wees om verby te hou en eerder verder te soek. As jy egter ’n resensie teëkom waar die gas ’n plek se veiligheid beaam, kan jy maar weet jy is op die regte plek.

  1. Sleutelwoorde vir ’n stresvrye vakansie

Soos met alles in die lewe is dit altyd belangrik om die fynskrif noukeurig deur te lees wanneer jy na ’n blyplek se beskrywing kyk. As jy jou volgende vakansie beplan, kyk uit vir sleutelwoorde, soos veiligheidskompleks, omhein, alarmstelsel, 24 uur-sekuriteit en veilige parkeerplek wanneer jy ’n instansie se beskrywing deurlees. Daar is immers net een manier om behoorlik vakansie te hou en dis by ’n veilige hawe!

  1. Vind ’n vakansie-vennoot wat jy kan vertrou

Dat die wêreld vol kansvatters is, is ’n feit soos ’n koei, en al is jy iemand wat nie sommer met ’n slap riem gevang word nie, is dit tog wys om altyd veilig te speel as dit by jou vakansieverblyf kom. Daarom is dit belangrik om ’n betroubare, deursigtige platform te gebruik om jou volgende vakansie te bespreek en daarom is LekkeSlaap jou veilige vakansievennoot! Ons deursigtige besprekingsplatform bied deeglike beskrywings van elke instansie en die area waarin dit geleë is. Boonop het ons ’n nuttige kaartfunksie waarop jy kan kliek om die area se uitleg te sien. Jy kan ook ekstra sekerheid kry deur ons resensie-funksie te gebruik om te sien wat ander gaste oor ’n spesifieke plek te sê het. LekkeSkaap is beslis die veiligste manier om akkommodasie te vind en te bespreek!

’n Vakansie is nie ’n vakansie as jy nagte wakker moet lê nie en met LekkeSlaap se vakansie-veiligheidswenke is dit beslis ook nie nodig nie! Volg net hierdie vyf wyse wenke en al jou vakansies sal ’n droom wees. Van die Weskus tot die Karoo en die Suidkus tot die KalahariLekkeSlaap staan gereed om jóú reisdrome te bewaarheid.

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur Gerriline Fouché.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.