Wegbreek-wenke: Skakel só heeltemal af

Argieffoto. (Foto: Chen Mizrach/Unsplash)

Talle Suid-Afrikaners is gelukkig genoeg om die komende langnaweek die langpad te vat om êrens in ons mooie land uit te span en vir ʼn wyle van die wêreld se probleme te vergeet.

Met die Covid-19-pandemie en die gevolglike inperkings, het die lyne tussen werk en speel gekruis geraak en het dit tot gevolg dat werknemers en entrepreneurs sukkel om met vakansie heeltemal af te skakel en die voordele van rustyd ten volle te geniet.

Volgens Shaun Lamont, besturende direkteur van First Group Hotels and Resorts, is dit egter nou belangriker as ooit om tyd te maak om ʼn welverdiende blaaskans te neem.

“Die stres van die afgelope twee jaar het tot gevolg dat mense harder as ooit tevore werk om hul lewensbestaan te beskerm,” sê Lamont.

Volgens die American Psychological Association bevorder vakansies jou fisieke en geestesgesondheid deur die risiko van hartsiektes, depressie en angs te verminder.

“Ons het egter eerstehands beleef dat die plesier van vakansies vervaag deur werk namate al hoe meer van ons gaste steeds moet werk terwyl hulle met vakansie is.

“Om met vakansie te gaan is die brein se ekwivalent van jou brein se jaarlikse versiening. Jy sal nie ʼn jaarlikse diens vir jou voertuig misloop nie uit vrees vir die risiko om op ʼn hoofweg te gaan staan, so waarom dit aan jou liggaam doen? Dit is uiters noodsaaklik om ʼn blaaskans ten volle te omarm om te verseker dat jy die grootste gesondheidsvoordele daaruit put.”

Lamont het vyf wenke verskaf om te verseker dat jy afskakel terwyl jy met vakansie is:

  • Gee jou werk behoorlik oor aan jou plaasvervanger. Raak gemaklik met die idee om weg te wees deur mense in jou e-poshandtekening te verwittig van jou komende verlofdae, selfs nog voordat jy weg is. Vind ʼn betroubare, bevoegde kollega wat jy kan vertrou om die sentrale kontak te wees tydens jou afwesigheid en laat alle uitstaande werkstukke in hulle hande. Stel jou kliënte, bestuurders en werknemers in kennis dat jy onbereikbaar sal wees, stel jou out of office-boodskap op en dateer jou stemboodskap op.
  • Skakel jou selfoon af. So vreesaanjaend soos dit kan klink vir iemand wat altyd beskikbaar is, is dit ʼn uiters belangrike wenk. Tensy jy nie jou foon heeltemal afskakel nie (om dit op silent te sit is nie voldoende nie), sal daar altyd boodskappe, e-posse, nuus en app-kennisgewings wees wat konstant op jou foon deurkom. Jou foon skree deurlopend vir aandag, so maak ʼn belofte aan jouself om dit slegs een keer per dag na te gaan.
  • Onderneem om minder te doen. Moenie jou daaglikse program probeer vul met soveel as moontlik take nie. Kies een ding per dag – een besienswaardigheid, een restaurant om te probeer of een berg om te klim en ontspan dan net vir die res van die dag. Span uit langs die swembad, lees ʼn boek, probeer ʼn middagslapie neem. Jy wil nie voel dat jy ʼn vakansie nodig het ná jou vakansie nie.
  • Kies die regte verblyf. Waar jy bly kan jou hele vakansie-ervaring beïnvloed. As jy met kinders reis, maak seker jy kies ʼn kindervriendelike blyplek. As jy weggaan sonder kinders, oorweeg ʼn stiller oord of hotel. As jy nie van die strand hou nie, moenie ʼn strandvakansie bespreek nie – jy sal mislik wees.
  • Geniet die oomblik. Vermy die begeerte om elke foto op sosiale media te deel. Wees teenwoordig in elke oomblik wat jy beleef en maak blywende herinneringe. As jy die oomblik wil vasvang, maak seker die data of WIFI of jou foon is afgeskakel sodat jy nie in die versoeking gelei word om kennisgewings na te gaan nie. Gebruik net jou kamera en deel die foto’s later.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.