Wenke vir mooi vakansiefoto’s dié feestyd

Oor die feesseisoen kom families bymekaar en wil ons foto’s neem om ons aan dié spesiale tyd te herinner. Volg hierdie maklike wenke om te verseker dat jou vakansiefoto’s vanjaar bó die res uitstaan!

Neem ʼn foto sonder dat iemand weet

Daar is ʼn plek en ʼn tyd vir geposeerde foto’s, maar die mooiste foto’s is gewoonlik dié wat in ʼn onbewaakte oomblik geneem word. Hou jou oë oop en wees gereed met jou kamera wanneer jy weet iets opwindend gaan gebeur.

Moenie vir die persoon of groep sê jy is van plan om ʼn foto te neem nie, en neem dit dan net op die regte tyd.

ʼn Maklike sê-ding om te onthou is: Neem oomblikke af, nie poserings nie.

Los die flits as jy binne is

Wanneer dit by Kersfees kom, kan pragtige foto’s geneem word as jy die flits van jou kamera afskakel. Die liggies om die Kersboom, kerse op die tafel of sagte beligting in ʼn huis sorg vir pragtige intieme foto’s.

Wanneer jy byvoorbeeld jou kinders voor die Kersboom wil afneem, kan jy jou kamera stel om net op die voorgrond te fokus. As jou flits dan af is, sal die Kersliggies ʼn dowwer, sagter voorkoms skep.

As jy wel ʼn tekort aan lig het, kan jy iemand se selfoon gebruik om ʼn dowwe lig op die persone wat jy wil afneem te skyn, eerder as om die flits aan te skakel.

Pasop vir weerkaatsings

Tydens die somervakansie word foto’s gereeld op die strand, by ʼn kampeerplek of in die swembad geneem. Mense dra dan gewoonlik sonbrille. Kyk eers of die sonbril die fotograaf sal weerkaats in die foto voordat jy dit neem. Vra eerder dat die mense die bril afhaal indien moontlik.

ʼn Gewone leesbril kan ook ʼn weerkaatsing maak as die son daarop skyn. Probeer om in dié geval seker te maak dat die persoon wat jy afneem met sy of haar rug na die son toe staan of dat daar iets is wat die son kan blok.

Pas jou posisie aan

Die feestyd is familietyd en groot en jonk kom bymekaar. Pasop om nie altyd kinders van bó af te neem nie. Buk eerder af totdat jy op hul vlak is. Dit sal intimiteit in jou foto’s skep en heel waarskynlik die kinders ook meer op hul gemak laat voel wanneer hulle afgeneem word.

Gebruik die tyd-steller

Meeste kameras en selfone het ʼn tyd-steller funksie. Hoewel jy dalk gemakliker agter die kamera is, is dit belangrik dat jy deel uitmaak van die herinneringe wat vasgevang word.

Gebruik dus waar gepas die tyd-steller funksie sodat jy ook saam met jou Kersboom, in die swembad en saam met jou familie foto’s kan neem.

Weet wanneer om jou kamera weg te sit

Hoewel dit belangrik is om goeie oomblikke vas te vang en te onthou, is dit nóg belangriker om hulle te lééf en te koester. Weet dus wanneer om jou kamera weg te sit en in die oomblik te leef.

Dit is nie nodig om elke beweging van jou kleinkind se eerste Kersfees af te neem nie, op die einde is daar in elk geval net sowat twee foto’s wat uitstaan wat in die fotoalbums sal beland. Moenie kosbare tyd mors om 50 foto’s van ʼn baba in een posisie te neem nie.

Dit werk gewoonlik goed om aan die begin van die geselligheid die foto’s agter die rug te kry, sodat jy die res van die aand ten volle saam met die spesiale mense om jou kan geniet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.