Wenke vir ’n lekker én veilige feesseisoen

Die Suid-Afrikaanse Brouery (SAB) wil mense aanmoedig om gedurende vanjaar se feesseisoen alkohol verantwoordelik te gebruik.

“Die SAB werk daaraan om aktief ʼn kultuur van verantwoordelike alkoholgebruik in Suid-Afrika te kweek. Ons glo dat slim drinkgewoontes almal elke dag raak, en dat dit die sleutel is om die skadelike uitwerking en misbruik van alkohol te verminder,” sê Zoleka Lisa, adjunkpresident vir korporatiewe belange by die SAB.

Suid-Afrika se wettige limiet vir bloedalkoholvlakke wanneer jy bestuur (alkoholinhoud in die asem), is 0,24 mg per 1 000 ml of ʼn bloedalkoholvlak van 0,05 g per 100 ml.

Gebruik hierdie maklike wenke om die feesseisoen veilig te geniet:

  1. Moenie drink en bestuur nie

Maak gebruik van ʼn vriend wat onderneem om nie op die spesifieke dag of aand alkohol te drink nie. Anders kan jy ook gebruik maak van ʼn vervoerdiens – gebruik dit in groepe om geld te bespaar.

  1. Vat genoeg kontant saam

Dit is belangrik om genoeg geld saam te neem vir alles wat jy by die gegewe geleentheid wil eet of drink, maar maak seker jy het genoeg oor aan die einde van die aand om vir ʼn rit huis toe te betaal.

  1. Hou jou selfoon gelaai

Maak seker jou selfoon is ten volle of amper ten volle gelaai wanneer jy uitgaan sodat jy kan seker wees dat jy ʼn vervoerdiens of iemand kan bel om jou huis toe te neem.

Vir veiligheid, laai die apps van die vervoerdienste voor die tyd af.

  1. Vind ʼn goeie pas

Vind ʼn gesonde pas waarteen jy alkohol inneem. Wissel tussen alkoholiese en nie-alkoholiese drankies. Dít laat jou toe om ʼn laer alkohol inname oor ʼn langer tydperk te handhaaf, wat jou lyf ʼn kans gee om die alkohol teen ʼn goeie pas af te breek en ʼn opeenhoping van alkohol in jou lyf te voorkom.

Deur nie-alkoholiese drankies, soos water of koeldrank, te drink, sal jy nie net die uitwerking van alkohol verminder nie, maar dit stel jou ook in staat om langer te sosialiseer.

Daar is ook talle alkoholvrye biere wat jy gerus kan probeer.

  1. Eet saam met jou alkohol

Beheer jou bloedalkoholvlak deur iets saam met jou alkoholiese drankie te eet of eet kos wat hoog is in proteïne soos vleis en kaas voordat jy alkohol drink.

  1. Wees ʼn bobaas onthaler

Verskaf ʼn verskeidenheid van alkoholiese en nie-alkoholiese drankies by jou onthaal. Dit maak dit makliker vir mense om die nie-alkoholiese opsie te kies.

  1. Sien om na jou vriende

Wees versigtig en wees bewus van wat jy drink en moet ook nie drankies van vreemdelinge aanvaar nie. Moedig jou kollegas en vriende aan om verantwoordelike keuses te maak, en mekaar se drankies ook dop te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.