Woestyn-tyd: Sossusvlei en Solitaire

Sossusvlei in al sy glorie Foto: Marianne Styan

Sossusvlei in al sy glorie Foto: Marianne Styan

Jou tyd is nie die woestyn se tyd nie… Die woestyn se tyd is jóú tyd. Dís wat jy leer wanneer jy in die Namibwoestyn is.

Ons het ons pad na die woestyngallery gemaak via die Spreetshoogtepas… Dis waar ons ons eerste voorsmakie gekry het van die ongewone skoonheid wat ʼn woestyn jou kan bied. Die uitsig van hier is asemrowend en dit voel of jy tot in oormôre kan sien.

Ons eerste stop was Solitaire.

“Eet die lekker appeltert in Solitaire,” het ʼn vriendin raad gegee toe ons die vorige keer vir die eerste keer hierna toe sou kom. “Waar in Solitaire?” het ek gevra.
“Jy sal weet,” was haar antwoord.

Min het ek geweet Solitaire bestaan uit vier geboue: ʼn vulstasie met ʼn piepklein supermark; ʼn kroeg; die Solitaire Country Lodge; en Moose McGregor’s Bakery. Meeste van die dorpies in Namibië bestaan basies uit dieselfde aantal geboue, dikwels selfs minder, kom mens gou agter.

Afgesien van die yl geboue, lê ou karwrakke oral in Solitaire rond, verswelg deur jare se woestynsand.

Met eg Namibiese warmte het Moose ons self gehelp met ʼn lywige stuk warm appeltert, pas uit die oond…

Deesdae voel die dorpie leeg. Die appeltert en die spoed waarmee hulle jou help is nog dieselfde, maar Moose is nie meer daar nie. Sy afsterwe laat die appeltert vandag sommer yl smaak in vergeleke met vroeër, maar dalk is dit sommer die heimwee.

Solitaire is die laaste rusplek voor ʼn area van Namibië se grootste natuurwonders: Sossusvlei se rooi duine en verlate vlaktes.

Ons oornag by die enigste oord, Namib Desert Lodge, en baie vroeg die volgende oggend is ons 4×4 gepak vir die 50 minute rit in die stikdonker na Sossusvlei se hek toe.

As jy die son oor Duin 45 wil sien opkom, moet jy seker maak jy is baie vroeg daar. Indien jy oornag naby die hek van die park wat basies in die “dorpie” Sesriem is, kan jy vroeër ingaan en dan is dit moontlik om die son te sien opkom, anders moet jy in die ry motors voor die hek inval en wag.

Terwyl jy wag, kan jy ʼn permit koop vir die park en teen sonsopkoms maak hulle die hekke oop. Alhoewel Duin 45 (70 – 100m) nie die hoogste duin is nie, is dit die gewildste omdat dit so perfek geleë is dat hy basies altyd die perfekte foto-geleentheid bied as jy die son oor die bloedrooi duinesand wil afneem.

Dit is ook ʼn duin wat lekker is om uit te klim. Die twee grootste duine is Big Daddy (300m) en Big Mama. Hulle is egter nie so toeganklik nie en jy moet nog ʼn entjie stap voordat jy by dié duine uitkom en dus kan die klim maklik langer as 2 ure neem.

Binne-in Sossusvlei is die bekende Dooie Vlei, letterlik ʼn dooie vlei vol dooie bome en stompe wat ook die perfekte foto-studio skep. Om hier te kom, raak die pad egter bietjie moeilik.

Tot hier toe kan jy dalk nog in ʼn gewone sedan, waaroor jy nie te heilig is nie, ry. Ek sal egter aanbeveel om van hier af gebruik te maak van die 4×4 shuttles wat jou met ʼn 20 minute rondgly-rit tot by die begin van die staproete van Dooie Vlei neem.

Let wel, daar is ʼn koste aan verbonde.

Ons was gelukkig genoeg om met ʼn Toyota 4×4 te ry en kon op ons eie stoom tot daar ry. Ek kan vermeld dat ons by drie ander 4×4’s verby is wat vasgeval het in die diep riviersand van die bedding waarop mens moet ry.

Veilig aangekom by die parkeerarea, het ons die 25 minute stap aangepak. Die uitgedroogte pan met sy abstrakte bome en stompe is ʼn besonderse belewenis.

Toe die son se hitte begin sweet-straaltjies teen ons rûe afmaak, het ons moeg maar tevrede besluit om ons terugtog hek toe te maak.

Die natuurskoon met gras wat oral die duine eerder groen as bruin laat lyk en wild soos majestueuse gemsbokke en honderde pronkende springbokke wat die woestyn laat lewe, het ons weer opnuut tot ander insigte gebring oor die mooi wat jy ook in die woestyn kan kry.

Terwyl ons teen 60 km/h deur die woestyn ry, besef ʼn mens opnuut dat die woestyn se tyd eintlik die regte tyd is…

Ritsgids
– Appeltert is nie al wat die bakkery in Solitaire bied nie. Jy kan kies en keur van sjokolade brownies tot sjokolade en room éclairs.
– Die gastehuise en lodges word nie goed adverteer in die buiteland nie en is ook nie altyd baie duidelik oor waar hulle geleë is nie. Skakel dus die plek en vra hulleself hoe ver hulle van die plekke wat jy sal wil sien, geleë is.
– Ek sal aanbeveel om ʼn parkpermit aan te skaf voor jy by die Sossusvlei-park kom. Dit spaar tyd sodat jy nie in die ry hoef te staan nie. Vroegoggend en laatmiddag is die beste tye vir besoek aan die park.
– Daar is net ʼn paar toilette beskikbaar in die park – by duin 45 en die parkeerarea vir Dooie Vlei.
– Duin 45 is so 30 – 45 minute se ry in die park in, omdat dit 45 kilometer van die hek af is, maar jy mag net 60 km/h ry.
– Indien jy enige van die duine wil uitklim, maak seker hoe lank dit jou gaan vat en begin vroeg. Dis nog steeds ʼn woestyn en dit word baie gou, baie warm.
– Vat baie water saam en drink gereeld daarvan om dehidrasie te voorkom.
– Vat jou eie kos, aangesien daar nie iets soos wegneemetes hier beskikbaar is nie.
– Wees gewaarsku dat natuurrampe soos vloede ook die woestyn kan tref. Die eerste keer wat ek hierheen gekom het was die hele park gesluit as gevolg van ʼn vloed. Bel dus vroegtydig om seker te maak.
– Maak seker of jou 4×4 sterk genoeg is om tot by Dooie Vlei te kom. Indien jy wel self ry moet net onder geen omstandighede in die middel van die rooiwoestynsand-see stop nie, anders val jy vas.
– Laat jou wiele gly-gly die pad vind tot dit weer op harde grond is, waar jy kan uitklim.
– Dooie Vlei se stap is so 1.2 km en ʼn 20m hoë duin se klim weg van waar jy stop met die shuttles. Dit neem so 2 ure om soontoe te stap, rond te kyk en terug te stap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nico ·

Dankie vir ‘n mooi artikel. Dit het my laat terug verlang soontoe. Seker van die mooiste asemrowendste plekke op aarde.

Marianne Styan ·

Plesier Nico. Bly jy het dit geniet.
Ja daar is iets vreemds en tog onbeskryflik mooi aan die woestyn. Ek dink die stilte en die vrede saam met die ongewone landskap maak dit so spesiaal.

Elizabeth ·

@Marianne Styan – wonderlike foto’s en goeie artikel – wens sommer ek kon plan maak en gaan, maar baie van ons reis maar net dmv artikels soos joune! Die wonderlike gedigte wat onlangs op Maroela verskyn het oor hierdie area sluit so goed aan…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.