SA-skoonhede kies Mej. SA se top-30

Liesl Laurie, Melinda Bam en Tamaryn Green is drie uit die vier beoordelaars wat vanjaar se top-30-deelnemers kies.

Vier voormalige Mej. Suid-Afrika-titelhouers sal die 30 topdeelnemers aanwys wat vanjaar om die gesogte kroon meeding.

Inskrywings vir vanjaar se kompetisie het pas gesluit.

Voormalige kroondraers Bokang Montjane-Tshabalala (2010), Liesl Laurie (2015), Melinda Bam (2011) en Tamaryn Green (2018) sal die inskrywings noukeurig deurgaan. Die 30 aanspraakmakers word op Dinsdag 6 Julie aangekondig.

Stephanie Weil, uitvoerende hoof van die Mej. Suid-Afrika-organisasie, sê daar is “niemand beter” as die voormalige titelhouers om die 30 skoonhede te kies nie.

“Dié titelhouers was uiteraard al in dié posisie en sal in staat wees om die beste in elke kandidaat raak te sien terwyl hulle ook as raadgewers dien. Hulle weet oor watter kwaliteite ʼn potensiële Mej. Suid-Afrika moet beskik om die land op internasionale verhoë te verteenwoordig.”

Liesl Laurie, wat onlangs die nuus van haar verlowing gedeel het, sê sy weet hoe “ongelooflik senuweeagtig” ʼn mens kan raak wanneer jy in die deelnemers se skoene is.

“Om hierdie vroue [die beoordelaars] te sien aan die ander kant van die tafel, of in die tyd van Covid-19 op ʼn rekenaarskerm, kan jou maak vergeet van alles, insluitend jou eie naam. Dit is een van die grootste onderhoude van hul lewens want hulle doen aansoek vir ʼn werk as ambassadeur van Suid-Afrika.”

Bokang Montjane.

Laurie sê haar grootste prioriteit is om die deelnemers gemaklik te laat voel. “Om hulle gerus te stel sodat hulle die beste weergawes van hulleself kan wees.”

Melinda Bam beaam dit. “Ek het eerstehands beleef, van inskrywing tot kroning, watter kwaliteite die wenners van die ander deelnemers onderskei. Ek het ook waardering vir nuwe perspektiewe wat benodig word om die kroon te dra op ʼn wyse wat outentiek en relevant is tot Suid-Afrika.”

Bam sê sy is op soek na iemand wat bewus is van maatskaplike en globale kwessies wat vandag se geslag in die gesig staar.

“Ek soek ook na iemand wat direk dog diplomaties is, wat kan ondersoek instel na kwessies met emosionele intelligensie en wat kan spreek tot ʼn korporatiewe Suid-Afrika terwyl sy ook ʼn bekende en vertroostende gesig vir ons gemeenskappe moet wees.”

Bokang Montjane-Tshabalala se raad aan die deelnemers is eenvoudig: “Wees jouself, wees eg, wees eerlik en sit jou beste voetjie voor.”

Tamaryn Green, wat in 2018 as eerste prinses gekroon is in die Mej. Heelal-kompetisie, stem saam met Montjane-Tshabalala se raad.

“Wees altyd outentiek en jou hart en intensies sal moeiteloos deurskemer. Die Mej. Suid-Afrika-kompetisie het definitief ontwikkel tot  ʼn meer moderne en inklusiewe platform. Dit het grootliks te doen met die nuwe eienaars van die kompetisie.

“Die nuwe span het regtig verandering nagestreef. Daar is nou ʼn groter fokus op die vrou as geheel en die vaardighede wat sy het en waarvoor sy staan, en nie net haar uiterlike skoonheid nie.”

Mej. Suid-Afrika word deur Weil Entertainment in samewerking met M-Net, Mzansi Magi en Sun International aangebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.