5 maklike dekorwenke

(Foto: The Home Collective)

Na twee jaar van huise opknap het twee vriendinne, albei stiliste, besluit om hul deeltydse projekte in ’n voltydse onderneming te omskep met die nuwe dekor-webtuiste The Home Collective.

Heloise Louw is al 14 jaar ’n stilis en welbekend vir haar werk met plaaslike modehuise soos Truworths, Refinery en Ackermans. Sy het ook die suksesvolle kinderdekor-onderneming Little Love besit.

Kalinka Lombard kom uit ’n uitgewersagtergrond. Sy was voorheen die redakteur van ’n wyn- en leefstyltydskrif. Daarna het sy dit verruil vir vryskutwerk as ’n stilis en kunsdirekteur vir TV-advertensies.

Albei vrouens het al voorheen met internasionale kliënte soos Philips, H&M, Sun International en Pampers gewerk. Hulle gesamentlike ondervinding maak van hulle ’n gedugte span wat kliënte se behoeftes verstaan en weet hoe om spasies mooi te maak.

Heloise en Kalinka deel hierdie vyf maklike dekorwenke wat enigeen in hul huis kan toepas:

  1. Wit bly ’n wenner

Verf jou mure, plafon en vloerlyste wit. Die vertrekke in jou huis sal baie groter vertoon en jou plafon hoër. Dit bied ook die regte agtergrond om die jongste dekortendense waar van jy hou, mooi te vertoon.

(Foto: Louw Roets Furniture)

  1. Verf ’n aksentmuur

Kies ’n oppervlakte wat nie te groot is nie, byvoorbeeld die muur agter jou bed of in ’n gastetoilet. Kies ’n kleur wat die res van jou dekor komplementeer. En voeg mooi kuns of ’n spieël by om die prentjie te voltooi.

Onthou om jou verf eers te toets op die spesifieke muur – kleure verskil drasties in verskillende soorte lig en kan heel anders vertoon as op die kaartjie in die winkel.

(Foto: The Home Collective)

  1. Skep ʼn blarerangskikking

Gebruik twee of drie potte of vase wat bymekaar pas en knip ’n paar takke of blare uit jou tuin. Plaas hulle saam op ʼn tafel of rak. Dis ’n mooi, vinnige en kostedoeltreffende fokuspunt in ʼn vertrek en bring ook die natuur in jou huis in.

(Foto: The Home Collective)

  1. Gee ou of donker meubels nuwe lewe

Moenie bang wees om ’n meubelstuk wat al moeg lyk oor te verf nie. ’n Ou laaikas kan spierwit geverf word met mooi koperknoppe. Of kies ’n aksentkleur soos byvoorbeeld mosgroen met mooi houthandvatsels.

As jy moeg raak daarvoor kan jy net die meubelsstuk weer afskuur.

(Foto: LilyArdor.com)

  1. Hang mooi muurhakke

Muurhakke of ’n kapstok vertoon mooi en is ook funksioneel. Dit kan help om areas in jou huis op te ruim. Hang dit by jou voordeur vir serpe, handsak en sambrele. Of in die kombuis vir afdrooglappe, kombuisgereedskap of bossies vars gedroogte kruie.

(Foto: The Home Collective)

Besoek The Home Collective hier om te sien waarmee hulle besig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.