5 maklike gewoontes vir ’n gesonder leefstyl

(Foto: Kal Visuals/Unsplash)

Goeie gesondheid val nie sommer in jou skoot nie – dit is die resultaat van proaktiewe, voorkomende en gesonde leefstylkeuses wat alles saamweef.

“ʼn Gesonde leefstyl is nie net belangrik as jy ʼn baba of ʼn bejaarde is nie, maar in elke stadium van die lewe, waaronder kindskap, adolessensie en jou volwasse lewe. Maak nie saak of jy 12 of 75 is nie, die rol van ʼn gesonde leefstyl moet nooit onderskat word nie,” sê Bianca Tromp, ʼn dieetkundige by Futurelife.

Om ʼn gesonde leefstyl te handhaaf hoef ook nie jou hele lewe omver te gooi nie; dit kan bloot ʼn paar klein veranderinge in jou denkwyse wees.

Hier is vyf praktiese, maklike gewoontes om aan te leer, ongeag jou ouderdom of toestand, wat jou sal help om ʼn gesonder leefstyl te volg.

  1. Hou jou porsies dop

Baie mense probeer gesond eet, maar om die een of ander rede kan hulle steeds nie hul doelwitte bereik nie. Dit is dikwels ʼn kwessie van porsiebeheer.

Ons raak so gewoond aan die hoeveelheid kos wat ons eet dat ons later dink dit is die aanbevole hoeveelheid om te eet. Maar hoe lyk behoorlike porsies?

Vir stysel is ʼn porsie sowat die grootte van jou vuis, vir vleis kan jy ʼn stuk eet wat die grootte en dikte van jou oop palm is, terwyl jy ʼn stuk vis kan eet so groot soos jou oop hand. Groente moet die res van jou bord vul en kan sowat twee hande vol wees. Beperk wel vette tot die grootte van jou duim se punt.

  1. Beweeg

Een ding wat mense wat lang, gesonde lewens gemeen het, is fisieke aktiwiteit.

Jy hoef nie gimnasium toe te gaan of swaar gewigte op te tel nie. Jy kan enige manier kry wat vir jou gemaklik is om te beweeg, solank jy net beweeg en nie ʼn sittende leefstyl volg nie.

Fisieke aktiwiteit is nie net goed vir jou fisieke welstand nie, maar kan ook wondere verrig vir jou emosionele en geestesgesondheid, so probeer om 150 minute van matige oefening per week te doen. Dit beteken 30 minute van oefening vir vyf dae van die week, of 50 minute van oefening vir drie dae van die week.

  1. Beskerm jou derms

Altesaam 80% van jou immuniteitselle kom in jou derms voor, en daarom is dit uiters belangrik om daarna om te sien.

Dit sal jou immuunstelsel sterk hou deur ʼn goeie balans van pro-biotika in jou verteringstelsel toe te laat. ʼn Aanvulling van pro-biotika, gepaard met veselryke kosse, sal jou dermgesondheid verbeter.

  1. Proteïen

Sluit proteïen by elke maaltyd in. Of jy ʼn vegetariër of vleiseter is, dit is belangrik om nie jou porsie proteïen mis te kyk nie.

Proteïen help om sterk spiere te bou, én dit laat jou langer versadig voel, wat help dat jy jou nie ooreet nie.

Hoender, vis en eiers is ʼn goeie opsie vir proteïen, maar mense wat nie vleis eet nie, kan net sulke goeie gehalteproteïen inneem deur soja, boontjies, peulgewasse of neutbotter.

  1. Slaap genoeg

Net soos om asem te haal, is goeie slaap ʼn menslike noodsaaklikheid. Maar soveel mense doen dit steeds nie genoeg nie.

ʼn Tekort aan slaap kan lei tot hoë bloeddruk, diabetes, hartaanval, hartversaking en beroertes. Ander gesondheidsprobleme wat deur swak slaap aangevuur kan word, is vetsug, depressie en ʼn swak immuunstelsel.

Maak slaap ʼn prioriteit en volg die Nasionale Slaapvereniging se voorstel dat mense tussen 18 en 64 jaar oud vir sewe tot nege uur moet slaap en mense ouer as 64 vir sewe tot agt uur. Kinders jonger as 18 het meer slaap nodig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.