5 praktiese stappe om van geweld, misbruik weg te breek

(Argieffoto: pixabay)

“Dis onwaarskynlik dat ʼn gewelddadige maat sal verander. Jou enigste opsie om jouself te beskerm, is meestal om jouself uit die situasie te verwyder voordat dit te laat is.”

Só sê Joanne Laskey, ʼn kliniese sielkundige by die Akeso Stepping Stones-geriewe, wat mense met geestesgesondheid help ná huishoudelike misbruik, geweld en mishandeling.

Trauma weens misbruik en mishandeling kan ʼn mens se selfvertroue drasties aantas en veroorsaak dat die slagoffer nie normaalweg sy of haar lewe kan voortsit nie. Terwyl trauma ʼn gevoel van magteloosheid skep, is dit wel moontlik om los te breek van hierdie soort situasies en sterker aan te beweeg.

Laskey sê daar is veral in verhoudings waar misbruik of mishandeling plaasvind die vrees dat die situasie homself sal herhaal. Dit kan slagoffers laat voel asof die situasie te oorweldigend is om te hanteer.

“Hulle voel hulpeloos en asof hulle nie van die situasie kan wegbreek nie. Maar jy kan nie gesond word terwyl jy nog mishandel en misbruik word nie. Slagoffers blameer dikwels hulself, of aanvaar die mishandelaar se regverdiging vir sy of haar optrede.”

Sy sê dit is uiters belangrik vir die slagoffer om te onthou dat mishandeling en misbruik nóóit jou eie skuld is nie, ongeag die omstandighede.

“Slegs jy kan die nodige stappe doen om jouself, en in baie gevalle jou kinders, tot veiligheid te bring. Om weg te breek van vrees en die idee van magteloosheid wat ʼn lewe in misbruik en mishandeling meebring, moet jy ʼn goed geformuleerde plan beraam.”

Laskey stel hierdie vyf praktiese stappe voor om weg te breek:

  1. Identifiseer ondersteuning. Het jy vriende, familie, bure, ʼn dokter, ʼn maatskaplike werker, of enigiemand anders wat jou kan ondersteun met die praktiese en emosionele ondersteuning wat jy nodig het?
  2. Identifiseer ʼn plek waar jy veilig kan wees. Lede van jou ondersteuningsnetwerk kan help om jou onmiddellike skuiling te gee as jy moet vlug vir jou en jou kinders se veiligheid.
  3. Beraam ʼn plan wat uiteensit wanneer en hoe jy die huis gaan verlaat en tot by jou plek van veiligheid gaan kom.
  4. Maak belangrike goed bymekaar wat jy gaan nodig hê om die huis te verlaat, soos dokumente, klere, medikasie, geld en ʼn selfoon, indien moontlik.
  5. Berei jouself geestelik voor vir jou aksieplan.

Besoek www.akeso.co.za of stuur ʼn e-pos na [email protected] vir meer inligting. In die geval van ʼn krisis, skakel 0861 435 787 vir hulp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kattebol ·

Daar ís hulp as die slagoffer net die eerste stap neem om weg te kom. EN MOENIE TERUGGAAN NIE!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.