6 wenke om goed te lyk in ʼn video-oproep

(Foto: Allie Smith/Unsplash)

Nou, meer as ooit tevore, bestee mense baie tyd voor hul skootrekenaar of selfoon se kamera. Of dit nou vir ʼn werkvergadering, ʼn familiebyeenkoms of ʼn romantiese ete is – tydens die staat van inperking is video-oproepe aan die orde van die dag.

Maar ons almal het al geskrik as ons per ongeluk ons selfoon se voorste kamera oopmaak. Jy wil dit ten alle koste vermy om só te lyk wanneer jy besig is met ʼn werkonderhoud of ʼn afspraak met jou geliefde geskeduleer het.

Hier is ses wenke wat jou sal help om jou beste op jou volgende video-oproep te lyk:

Beligting is belangrik

Lig, verkieslik natuurlike lig, van voor af helder jou gesig op en kan selfs jou vel beter laat vertoon. Dit laat jou oë helder lyk en laat jou op en wakker lyk.

Lig, hetsy natuurlik of kunsmatig, van agter af, sal jou donkerder laat vertoon. Die persoon aan die ander kant sal waarskynlik sukkel om jou te sien of slegs jou silhoeët kan sien. ʼn Lig van agter af laat jou ook ouer lyk en beklemtoon enige plooie of merke op die gesig.

Vir die beste beligting tydens jou video-oproep, posisioneer jou skootrekenaar of selfoon voor ʼn venster en sit dan direk agter die kamera sodat die lig van voor kom. As jy nie ʼn venster in die vertrek het waar jy ʼn video-oproep gaan doen nie, kan jy ʼn bedlamp ʼn entjie agter jou skootrekenaar plaas om die lig te verskaf.

Posisioneer die kamera goed

Die goue reël wanneer dit by die posisionering van jou kamera kom, is om dit ooghoogte of hoër te maak, maar nie laer nie.

Stapel ʼn paar boeke op mekaar en plaas jou skootrekenaar daarop; skuif dit effens terug sodat jy nie te naby aan die kamera sit nie. Steek jou arm voor jou uit wanneer jy gereed maak om die oproep te begin – jou skootrekenaar moet minstens ʼn armlengte van jou af wees.

As jy te naby aan die kamera is, of as die kamera te laag geposisioneer is, sal die uitkoms nie vleiend wees nie.

Die mens aan die ander kant kan dalk teen jou neusgate vaskyk, dit kan lyk of jy ʼn dubbel ken het of jou neus kan baie groter lyk as wat dit in werklikheid is. Jou oë sal ook moeg lyk omdat dit lyk of dit hang wanneer jy af kyk.

Die ideaal is om ʼn klein spasie (nie te groot nie) bo jou kop oop te los, en om dan van jou kop tot jou bors in die video te vertoon.

Weet vooraf hoe jy lyk

Moenie die begin van die video-oproep gebruik as ʼn spieël nie. Dit sal nie net voorkom asof jy onvoorbereid is nie, maar jy loop ook die risiko om ʼn stukkie spinasie in jou tande op te merk (en weet die mense aan die ander kant sien dit ook).

Neem vyf minute vooraf om seker te maak jy weet hoe jy lyk. Trek jou kraag reg, kam jou hare en glimlag in ʼn spieël in om seker te maak jy sal goed op kamera vertoon.

Agtergrond is belangrik

Hoewel die meeste mense verstaan dat jy nie jou tuiste vir vergaderings opgestel en versier het nie, is daar wel beter plekke en slegter plekke in die huis om video-oproepe te maak.

ʼn Eenvoudige agtergrond is altyd veilig, omdat daar niks is wat die aandag van die oproep aftrek nie. Hoewel jy dink jou nuutste selfgemaakte kunswerk is spesiaal, is dit nie ʼn goeie agtergrond vir jou oproep nie, omdat dit aandag aftrek van waaroor die oproep werklik gaan: Jy!

As jy dalk van jou kombuistafel af werk, maak seker daar is nie vuil skottelgoed sigbaar in die agtergrond nie. So ook as jy iewers in jou huis werk waar jou gang of badkamer sigbaar is. Maak ook seker jy sit ver genoeg van die badkamer af sodat die persoon aan die ander kant nie kan hoor hoe die toilet spoel nie.

Maak ook seker die plek waar jy oproepe neem, is nie ʼn deurloop vir die res van jou familie nie.

Veral vir vergaderings of onderhoude is dit ook belangrik om op ʼn behoorlik stoel te sit, verkieslik by ʼn tafel en nie op jou rusbank of bed nie.

Oogkontak

Dit is baie aanloklik om net na jou eie skerm te staar wanneer jy met ʼn video-oproep besig is, maar die persoon aan die ander kant kan dit agterkom en dit maak jou oproep onpersoonlik.

Wanneer jy in die kamera in kyk, voel dit werklik vir die persoon aan die ander kant of jy vir hulle kyk en dit het ʼn groot impak op die verloop van jou oproep.

As die platform jou toelaat, maak jou skerm totaal toe, sodat jy nie na jouself kan kyk nie, maar slegs kan fokus op die persoon met wie jy praat.

Trek gepas aan

Soos met enige vergadering of geleentheid, moet jy gepas aantrek vir wat voorlê. Vir video-oproepe is dit veral vir vroue belangrik om te let op hul moue.

Om ʼn moulose hemp of ʼn hemp met dun bandjies te dra, kan dit laat voorkom asof jy glad nie klere aan het nie, as gevolg van die posisionering van die kamera.

Maak ook seker jy is van kop tot tone professioneel aangetrek is – jy weet nooit wanneer jy onverwags gaan moet opstaan nie, en dit help nie jy het dan ʼn netjiese baadjie en kraaghemp by jou slaapbroek aan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.