7 wenke om uitbranding te klop

(Foto: Unsplash)

Stres is ʼn normale deel van die lewe, maar wanneer dit ʼn voortgesette uitdaging met geen verligting in sig nie in jou lewe word, kan dit op uitbranding dui en ʼn negatiewe impak op jou gesondheid hê.

Volgens ʼn navorsing wat in 2019 gedoen is, is Suid-Afrika die tweede mees gestresde land ter wêreld – en dit was selfs voor die pandemie ons in Maart getref het.

Stres sonder verligting word chroniese stres of uitbranding genoem en dit ontneem die liggaam van sy energie, versnel die verouderingsproses en maak jou meer kwesbaar vir siektes.

Hier is 7 wenke teen uitbranding:

  1. Kry ondersteuning

Stres en angstigheid gebruik baie energie. Om met ʼn vriend of familie te praat, al is dit net oor die telefoon, of om professionele hulp te kry, kan stres verlig. Ontspanningsoefeninge soos meditasie is ook effektief vir stresverligting.

  1. Gooi van die hooi van jou vurk af

Een van die grootste oorsake van uitbranding is werklading – dit sluit in professionele en gesinsverantwoordelikhede. Begin deur jou take te prioritiseer in terme van belangrikheid en voeg die minder belangrike take onder aan die lys. Vra ook vir hulp met jou werk as jy dit nodig het.

  1. Beweeg

Oefeninge verseker nie net dat jy beter slaap nie, maar dit bied ook jou selle meer energie om suurstof te sirkuleer. Dit veroorsaak dat jou liggaam epinefrien en norepinefrien afskei – streshormone wat in matige hoeveelhede jou meer energiek sal laat voel.

  1. Monitor jou slaap

Uitbranding kan jou energie steel, en terwyl jy dit kan interpreteer as te min slaap, kan die teenoorgestelde dalk waar wees.

As jy uitwerk hoeveel slaap jy werklik moet inkry, sal dit die tyd wat jy in jou bed is, maar nie slaap nie, minimaliseer.

Volg hierdie stappe om beter te slaap:

  • Vermy dit op deur die dag te slaap, al is dit vir kort rukkies.
  • Gaan die eerste aand laat bed toe en kry slegs sowat vier uur se slaap in.
  • As jy goed geslaap het tydens die vier uur periode, voeg nog so 15 tot 30 minute by die volgende aand.
  • So lank as wat jy goed slaap die hele tyd wat jy in die bed is, kan jy tyd vir slaap byvoeg tot jy sowat 8 uur per aand slaap.
  1. Eet vir energie

Dit is beter om klein maaltye en peuselhappies elke paar uur te eet as drie groot maaltye per dag. Só sal jy minder moeg voel.

Deur kos te eet wat laag is in suiker, sal dit jou help om nie meer in die namiddag moeg te raak nie. Eet kos soos volgraan, hoë-vesel groente en neute.

  1. Kafeïen

Kafeïen verhoog jou wakkerheid, so jou koppie koffie kan help om jou kop skerp te hou. Maar onthou om steeds matigheid voor oë te hou met jou kaffeïen-inname, anders kan dit slaaploosheid veroorsaak – veral as jy dit na 14:00 drink.

  1. Water, water, water!

Een van die eerste simptome van dehidrasie is moegheid. Maak seker jy drink genoeg water deur die dag. Dit sal help dat jy wakker bly en jou lyf gehidreer hou vir wanneer jy oefeninge doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.