Die lewe is ’n lushof met Kersklappers uit jou tuin

Kom ons wys jou hoe om jou eie omgewingsvriendelike Kersklappers vir die tafel te maak. (Foto: Life is a garden)

As jy mal is oor Kersfees, tuinmaak en kreatiewe herwinning én boonop daarvan hou om kinders te vermaak, sal jy gaande wees oor hierdie projek.

As ons aan die maand Desember dink, dink ons aan oorvloed. Ongelukkig gaan die meeste hiervan reguit asblik toe. Daarom, liewe tuinier, kom ons vier Kersfees vanjaar eerder met minder en doen meer met herwinning om ’n ekovriendelike feestyd te geniet.

In plaas van die gebruiklike Kersklapper wat tog maar net met allerhande plastieksnert gevul is en wat in elk geval in die asblik beland, kom ons dink verder … Wat van ’n veel interessanter klapper uit herwinde materiaal, tjokvol gestop met groente-, kruie- of blomsaadjies om in jou tuin te plant?

Perfek! Nou toe, kry die kinders bymekaar vir die maak van eko-klappers vir ’n ekstra spesiale Kersfees.

Werk dat dit klap:

(Foto: Life is a garden)

Vir hierdie doen-dit-self-projek het jy die volgende nodig:

  • Genoeg leë toiletrolle
  • ’n Paar stukkies sagte pakpapier (sneespapier)
  • Gebruikte, ekovriendelike toedraaipapier
  • Dun tou/bindgaring/lint/rekkies
  • Skêr
  • Gewone gom
  • Inkleurpenne of -potlode
  • Saadjies vir plant

Ná die klapper getrek is, benodig jy:

  • Tuingrond en kompos
  • Emmers vol sonskyn en genoeg water

Kies jou sade:

Kies jou sade uit die onderstaande lys en gee jou gaste vanjaar iets betekenisvols om ná die Kersete huis toe te neem:

Somergroente (volson): broccoli, Brusselse spruitjies, rissies (capsicum), komkommer, eiervrug (brinjal), spanspek, boerpampoen, spinasie, tamaties en waatlemoen.

Somerkruie (volson): kattekruid (catnip), kamille (chamomile), grasuie (chives), koljander (coriander), dille (dill), vinkel (fennel), knoffel (garlic), paprika, raket (rocket) en salie (sage).

Somerblomme (volson): heuningblommetjies (sweet alyssum), swartoognooi (black-eyed Susan), krisante, kosmos, vergeet-my-nietjies, kerrieplant (Helichrysum italicum), gousblomme (marigold), kappertjies (nasturtium), petunias en sonneblomme.

Kerskabouters aan die werk:

1.Hou daardie groeihande reg – dis tyd om die klappers te maak.

(Foto: Life is a garden)

2. Draai die sade wat jy gekies het in sneespapier toe. Bind hulle vas met ’n stukkie garing, tou of lint en sit dit eenkant neer.

(Foto: Life is a garden)

3. Voeg jou persoonlike stempel daarby deur die toiletrol te versier volgens die saad wat binne-in is. Laat die kinders prentjies teken of plak prente van kruie, groente of blomme wat sal bydra tot die verrassing, aangesien die gaste nie vooraf gaan weet watter sade hulle gaan kry nie, maar eers nadat die klappers getrek is.

(Foto: Life is a garden)

4. Sny die gebruikte geskenkpapier in stroke wat dubbel die lengte van die toiletrol is.

5. Draai die toiletrol met die geskenkpapier toe, maar los die openinge oop met genoeg papier aan weerskante. Gom die papier wat om die “lyf” van die toiletrol gedraai is, daaraan vas.

6. Druk jou saadbondeltije(s) deur een van die openinge tot in die middel van die versierde rol.

7. Daar behoort aan albei kante van die toiletrol genoeg toedraaipapier te wees om die papier ’n draai of twee te gee sodat dit na ’n tradisionele klapper lyk.

8. Druk en krul albei kante van die papier (dit wat nie aan die rol vasgeplak is nie) totdat dit soos ’n regte klapper lyk. Bind stewig vas met ’n toutjie of lint.

(Foto: Life is a garden)

9. Sodra almal hul klappers getrek het, kan die gaste sê watter sade hulle gekry het en terselfdertyd die versierkuns van die kinders bewonder. Hierdie projek sal die kinders nie net laat trots voel op hul skeppende werk nie, maar ook op hul belangrike bydrae tot ’n feestelike Kersmaal wat almal ná die tyd aan die gons sal hê … oor tuinmaak! Boonop, en sonder twyfel, die allerbeste Kersgeskenk aan Moeder Natuur.

Maar ons groen Kersfees hou nie hier op nie … jy kan ook die leë toiletrol as ’n saadbed vir die nuwe “babatjies” gebruik. Vul dit met grond en kompos, druk die saadjies binne-in, sprinkel ’n bietjie water daaroor en plak ’n soentjie van die son daarop.

Sien, daar is altyd ’n geleentheid om ’n groen voetspoor te los en kinders ook sommer daarby te betrek. En die gaste sal nog lank ná Kersfees hul prettige “groen” entoesiasme onthou as hulle aan ’n blom ruik of hul eie groente of kruie in die kos gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.