Annelien se kombuis: Boerseep

Boerseep (Foto: Annelien Piienaar)

“Boerseep maak is ’n tradisie waaraan ek as jong kind blootgestel is – sommer sulke groot dik baksteenskywe wat my ma dan nog verder kleiner gesny het na gelang van die bestellings,” sê Annelien Pienaar, voedselwetenskaplike en skrywer van die bekende resepteboek en blog Boerekos met ʼn twist.

“Deesdae kook ek op ʼn gasplaat in ʼn 20-30 liter vlekvrye staalkastrol my seep. As ʼn mens mooi beplan is dit regtig goedkoop om te maak hoewel dit ʼn tydsame proses is.”

WAARSKUWING: Seepsoda (caustic soda) is korrosief en word verskiklik warm. Dit kan nie in plastiek gemeng word nie, maar slegs  in vuurvaste glasbakke of vlekvrye staal. Moenie die walms inasem nie. Werk met handskoene, ʼn masker en ʼn houtlepel. Lees elke stap sorgvuldig!

Lewer 24 blokkies

Fase 1: Uitkook van vet
Bestanddele

  • 5 kg beesvet (varkvet en skaapvet kombinasie kan gebruik word, maar skaapvet het ʼn reuk)
  • 3 liter water
  • 150 g tafel sout

Metode

  1. Sny die vet in baie fyn stukkies. Indien jy ʼn meule het kan dit nog beter werk en so ook die vet baie vinniger laat smelt. Hoe kleiner die blokkies vet hoe beter.
  2. Plaas die vet, water en sout saam in ʼn diep kastrol en maak seker dat die pot net tot by die driekwartmerk of laer vol is. ʼn Te vol pot gaan oorkook en spat. Jy kan ook die resep in twee kooksels kook indien jy nie ʼn groot kastrol het nie.
  3. Kook dan die vet en water oor matige hitte vir 2 uur sodat al die vet kan versag en uit sypel. Daar mag dalk nog stukkies vleis in die vet wees, dit gaan later dreineer word. Maak seker dat groter stukke vet fyngedruk word soos dit kook.
  4. Sodra die mengsel klaar gekook het, dreineer in ʼn diep emmer deur ʼn gaasdoek sodat die stukkies been en vleis agterbly.
  5. Laat die mengsel afkoel totdat die vet hard genoeg is om van die water af te skep in stukke en spoel dan die vet in yswater sommer in ’n ou kussingsloop of dreineringslappie. Ek vries soms die afgekoelde emmer om die vet so makliker te “oes”, met hierdie tegniek skep mens minder water. Vries die harde vet in 250 g porsies vir latere gebruik.

Fase 2: Aktivering van vet

Bestanddele

  • 750 g – 1 kg uitgekookte beesvet (vir ʼn sterk skropseep vir linne sal jy 750 g vet gebruik. Vir die vel ongeveer 1 kg vet)
  • 100 g seepsoda
  • 300 g water
  • 20 druppels essensiële olie van keuse
  • 125 – 250 ml sade, kruie, blare van keuse. Ek hou van hawermout wat fyngekap is vir die semels wat hande lekker skuur, rooibosteeblare, roosmaryn en laventel werk goed. Maar onthou om alles in gedroogde vorm te gebruik.
  • Lanolien is amper onbekombaar maar so 100g bygevoeg sal vir velle wondere doen.

Metode

WAARSKUWING: Trek handskoene aan, beskermende bril en ʼn masker.

  1. Plaas die seepsoda in ʼn vuurvaste glasbak of ʼn vlekvrye staal kastrol. Voeg dan die water by die seepsoda en nie anders om nie. Roer met ʼn houtlepel totdat die kristalle opgelos het. Jy sal merk dat die houer nou vuurwarm geword het, dit is as gevolg van die chemiese reaksie tussen die water en die seepsoda.
  2. Neem jou tyd totdat die seepsodamengsel afkoel tot 40 °C. Intussen begin by matige hitte die vet te smelt en bring dit tot 45 °C. As jy dit geleidelik doen sal die twee mengsels teen min of meer dieselfde tyd op die regte temperature kom.
  3. Voorbereiding van vorm: Maak seker dat die vorms wat jy gaan gebruik gereed is. Ek gebruik ou brood pannetjies wat geroes is en voer dit dan met waspapier uit. Twee piesangbroodlengtes is genoeg om mooi skywe na die tyd te kan sny. Maar jy kan selfs silikoon vorms laat maak of koop.
  4. Sodra die vet en die seepsoda die regte temperatuur bereik moet jy begin meng. Ek het vir hierdie doel ʼn ou draadklitser om die seep mooi romerig te klits. Die vet moet nou 45 °C meet en die seepsoda mengsel 40 °C. Meng ʼn kwart van die seepsoda-oplossing by die vet en klits baie goed deur vir 5 minute. Hoe meer jy klits hoe romeriger en dikker word die mengsel. Doen dit drie keer.
  5. Hou aan met klits totdat die mengsel amper ʼn plaatkoekietekstuur het. As die mengsel te dik word vir jou draad klitser om te klits, neem ʼn houtlepel en meng totdat die mengsel verdik. Hierdie aksie neem ongeveer 25 – 30 minute.
  6. As die mengsel te warm is, sal die essensiële olies se geur verdamp. Maak seker dat die mengsel dik is en onder 40 °C. Voeg nou die essensiële olie en ook jou keuse van tekstuur by, indien verkies. Onthou as jou mengsel te dun is sal die teksture wat jy ingooi na bo dryf. Dus hoe dikker die tekstuur hoe meer in suspensie sal die bestanddele bly en nie afsak nie.
  7. Giet die mengsel in die voorbereide panne. Laat die seep oornag bedek en weg van sonlig en enige hitte staan sodat dit egalig kan set. Ek sny dan met ʼn dun groentemessie die skywe in die pan. Jy sal kan voel of die seep hard of sag is. Indien die seep sag is moenie uitkeer nie. Dit mag sy vorm verloor. Laat staan vir nog ʼn paar uur. Keer die seep dan uit en sny weer op dieselfde lyne in repe of blokke soos verkies.
  8. Laat die seep dan onbedek vir sewe dae in ʼn donker vertrek met goeie ventilasie droog word. Jy kan ook korter droog indien die stukke nie so groot gesny word en as daar aan die seep gedruk word moet dit nie sag wees in die middel maar hard en geset.
  9. Draai toe en hou al die seep in een houer vir die essensiële olie om effek te neem. Ek het gevind dat as ek nie ʼn suiwer essensiële olie gebruik nie, die aroma verdwyn. Dus kan jy weer so ʼn bietjie olie op elke blokkie drup voor jy verpak.

Besoek Annelien Pienaar se webtuiste en Facebook-blad. Vul jou besonderhede hier in om die resep in PDF-formaat te ontvang.

  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

elenor ·

Ek het ook al seep gemaak maar in plaas van vet het ek olie gebruik, Olyf en Canola mengsel. Baie lekker om jou eie seep te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.