Bly maklik aktief en fiks dié feestyd

ʼn Vakansie is ʼn tyd om terug te sit en behoorlik te ontspan ná ʼn rowwe jaar. Maar dit is ʼn feit dat oefeninge jou selfs nóg beter sal laat voel oor jou vakansie, omdat jou liggaam endorfiene vrystel as jy oefeninge doen.

Dit hoef nie moeilik te wees om fiks en aktief te bly deur die Desembervakansie nie. Volg ons vyf maklike wenke:

Beplan vooraf

Beplanning is die sleutel tot sukses in die lewe, en dit is nie anders met jou fiksheid gedurende die vakansie nie. Beplan vooraf hoeveel of hoe gereeld jy oefening wil inkry, en hou by jou program.

Dit maak nie saak of jy een lang stapsessie per week, twee gimnasiumsessies elke dag of ʼn oefensessie elke tweede dag beplan nie; al wat saak maak, is dat jy by jou plan hou.

Ons stel voor dat jy drie tot vier keer per week ʼn oefensessie van jou keuse van minimum 30 minute inpas.

Oefen in die oggend

Dit is baie moeilik om die braaivleisvuur te moet prysgee om te gaan draf, so kry eerder jou oefeninge in die oggend gedoen.

Dit is makliker om die oefening vir die dag klaar te maak voordat jy met jou dag begin, want die dag se aktiwiteite kan jou ontmoedig om in die namiddag aktief te wees. Daar is ook gereeld funksies aan in die aand, wat die plek van jou oefeninge sal inneem.

Oefening moenie ʼn straf wees nie – as jy nie ʼn oggendmens is nie, is hierdie wenk dalk nie vir jou nie. Doen die oefeninge wanneer jy weet jy sal die maklikste daarby hou!

Gebruik jou omgewing

 

ʼn Vakansie is die perfekte tyd om jou omgewing beter te leer ken, of jy nou met Jan Tuisbly se karretjie ry en of jy op ʼn idilliese strand lê. Trek jou tekkies aan en doen jou oefeninge in die natuur.

Gebruik die see, swembad, plaaslike park of staproete om jou oefenroetine interessant te hou. Dit is soveel lekkerder om op die strand te gaan stap as om in die gimnasium optrekke te doen, so gebruik die vryheid en die omgewing wat die vakansie jou bied.

Doen dit saam met jou kinders

Vakansietyd is familietyd, daar is niks wat daarby kom nie. Betrek sommer jou hele familie en die kinders om saam aktief te wees. Speel saam strandspeletjies, doen watersport, speel tennis of wees sommer net laf op die grasperk.

Oefening hoef nie altyd konvensioneel te wees nie; om bloot saam met jou kinders te speel of ʼn bal vir julle hond in die park te gaan gooi, werk net so goed!

Gee jou lyf ʼn blaaskans

Oefeninge is ʼn belangrike deel van ʼn goeie gesonde leefstyl, maar dit moenie ʼn straf wees nie. So, onthou gedurende die vakansie dat jy toegelaat word om jou lyf ʼn blaaskans te gee, veral as jy gedurende die jaar strawwe oefeninge doen.

Die beste oefeninge wat jy kan doen, is dit wat vir jou die beste voel en laat voel. Moenie jou ooreis nie, maar gee net vir jou liggaam die nodige oefening om dit so gesond moontlik te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae