Dis hoe slaapkamers in 2022 lyk

(Foto: verskaf)

Die tendense in binnenshuise ontwerp weerspieël al hoe meer die groter kwessies wat in 2022 aan die opbloei is.

PG Bison, ʼn plaaslike sakeonderneming wat op die ontwerp van pragtige leefruimtes fokus, het sy ses topwenke vir die ontwerp van slaapkamers vir 2022 met Maroela Media gedeel:

  1. Gemak kraai koning

Jou slaapkamer is veronderstel om jou veilige hawe te wees. “Die Covid-19-pandemie het veroorsaak dat mense al hoe meer tyd tuis deurbring,” sê Jason Wells, handelsmerk- en bemarkingsbestuurder van PG Bison.

Dit het natuurlik teweeggebring dat mense anders oor hul ruimte begin dink. Omdat die meeste mense hul tuiste moes omskep in werkruimtes, is daar ʼn duidelike 2022-tendens om gemak die hoofdoel agter tuiste-ontwerp te maak.

Dit beteken onder meer keuses vir luukse teksture en beddegoed, sagte kussings en bykomstighede soos kerse, foto’s van geliefdes en gunsteling-voorwerpe.

  1. Ontwerpe wat die natuur koester

Nog ʼn tendens wat in 2022 begin kop uitsteek, is die inbring van natuurgeïnspireerde elemente. Die idee is om dit wat buite aan die blom is, in jou binneruimte in te bring.

Of dit nou ʼn bietjie natuurlike lig, ʼn plant of twee of sekere kunswerke is – jy kan die buitelewe in jou binneruimte beleef.

  1. Maak dit persoonlik

Ontwerpers verkies dikwels om sekere vertrekke in die huis so neutraal moontlik te hou, maar in die slaapkamer is dit ʼn ander saak.

Dit is hier waar persoonlikheid duidelik uitgebeeld kan word en waar daar ʼn bietjie geëksperimenteer kan word met patrone, kleure en teksture.

Wells meen ook dat die tendens om doen-dit-self-projekte aan te pak aan die toeneem is. Druk jou persoonlike stempel af met selfgemaakte meubels of ʼn mengelmoes van kleure – die idee is jy moet kan sien wie in daardie kamer tuis is.

  1. Veelsydige meubels

Die Covid-19-pandemie het veroorsaak dat mense hul ruimtes moes omskep in veelsydige werkruimtes. Die plek waar hare eens drooggeblaas is, moes ewe skielik ʼn ander baadjie aantrek.

Só het die tendens begin groei om meubels aan te skaf wat meer as een doel kan dien.

  1. Paneel-penarie

Die reis na luukse dog persoonlike ruimtes sluit panele in. Dié ontwerptendens is dalk oud, maar lank nog nie koud nie, inteendeel, dit het nou net ʼn nuwe moderne baadjie aangetrek.

“Dit voeg luuksheid by die vertrek. Dit kan ʼn subtiele deel van die kamer wees, of die mees ooglopende voorwerp in die vertrek.”

  1. Bewuste verbruikers

Die “gaan groen”-tendens is steeds aan die toeneem. Al hoe meer verbruikers besef watter impak hul voetspoor op die omgewing het.

“Daar is ʼn neiging dat ontwerpers dieper nadink oor hoe hulle die ontwerpe aanpak sodat dit op die duur meer volhoubaar sal wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.