Dít is die regte postuur wanneer jy draf

drawwer-hardloop-pretdraf-fiksheid

(Foto: Skeeze/Pixabay)

Draf is baie goeie oefening vir enigeen wat aktief wil wees. Dit plaas min spanning op jou liggaam, dit kan alleen of in ʼn groep plaasvind en jy het baie min nodig om aan die gang te kom (eintlik net jou tekkies en ʼn bietjie wilskrag).

Of jy nou ʼn beginner is of reeds ʼn paar marathonne agter die rug het, dit is altyd belangrik om die regte postuur te handhaaf wanneer jy draf.

Die regte postuur kan jou met meer gemak laat draf, spanning op jou liggaam verminder en dit kan selfs jou spoed verbeter.

Volg hierdie maklike wenke om jou postuur te verbeter wanneer jy draf:

Nek

Maak seker jou nek neig nie vorentoe nie, aangesien dit spanning op jou nek en skouers plaas. Om seker te maak jou nek bly in die regte plek, posisioneer dit sodat jou ore regoor die middel van jou skouers bly.

Vermy dit ook om vir jou voete te kyk terwyl jy draf. Jou oë behoort sowat 3-6 meter voor jou gefokus te wees. As jy af kyk, sal jy nie net spanning op jou nek plaas nie, maar jy sal ook meer geneig wees om te val omdat jy nie kan sien wat voor jou aangaan nie.

Arms

Probeer om jou arms die hoogte van jou middel te hou en teen ʼn 90°-hoek. ʼn Mens is geneig om jou arms teen jou bors op te trek wanneer jy moeg raak, maar dit plaas spanning op jou skouers en moet vermy word.

Wanneer jy ʼn lang afstand hardloop, is dit goed om elke nou en dan jou arms uit te strek na onder en bo jou kop, maar dan moet jy dadelik weer teruggaan na ʼn 90°-hoek.

Swaai ook jou arms van jou skouers af, en nie van jou elmboog af nie. Maak ook seker jou arms swaai vorentoe en agtertoe, in plaas van heen en weer voor jou bors verby. Jou hande behoort vanaf die 90°-hoek te swaai na amper by jou ken en dan amper jou heup raak en herhaal.

Hande

Probeer om jou hande so natuurlik moontlik te hou terwyl jy draf. As jy jou hande in stywe vuiste bal terwyl jy draf, sal die spanning opbeweeg na jou arms, nek en skouers.

ʼn Maklike manier om jou hande te ontspan is om jou duim en wysvinger liggies aan mekaar te laat raak, maar nie daarop te druk nie.

Skouers

Jou skouers behoort reguit en ontspanne te wees; dit moet direk vorentoe geposisioneer wees. Mense is geneig om hul skouers na hulle ore op te trek of vooroor te leun. Dit maak asemhaling moeiliker. Jy sal baie gemakliker asem haal as jou skouers ontspanne en reguit is.

Bolyf

Hou jou rug regop en gelyk; vermy dit ten alle tye om vooroor te leun. Jou nek moet reguit op jou skouers leun en die rug moenie geboë wees nie.

Heupe

Die heupe is die plek waar jy jou liggaam effens kan buig, sodat jy nie heeltemal regop draf nie. Leun effens vorentoe van jou heupe af. Maak seker die buiging kom van jou heupe af en dat jy nie jou bolyf omkrul nie.

Voete

Die idee is dat jou voet die grond tref met die bal van jou voet – om die grond met jou tone of jou hakke te tref verhoog jou risiko vir seerkry. Die belangrikste wanneer dit kom by jou voete wanneer jy draf, is dat jy die grond tref op so ʼn wyse wat jou vorentoe gaan stoot, eerder boontoe, omdat dit onnodig energie sal mors.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Burgermeester ·

Die enigste postuur wat ek kan handhaaf wanneer ek draf is die oorlewingspostuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.