Doen dit self: ’n Geweefde geskenk vir Moedersdag

(Foto: Verskaf.)

Deur Cay Momberg

Weeftegnieke is seker een van die oudste kunsvorms ter wêreld omrede gebruiksartikels en material daarmee vervaardig word, soos byvoorbeeld vir die gebruik van klerasie, lakens, gordyne, meubels of dekor.

Wat is geweefde materiaal?

Materiaal vervaardig deur tekstieldrade, gare of wol wat in die lengte en breedte met mekaar kruis sodat die een telkens bo-oor en onderdeur die ander gaan. Die lengtedrade van ’n weefsel word die skering (warp) genoem en die sywaartse drade word ’n dwarsdraad (weft) of inslagdraad genoem.

(Foto: Verskaf.)

Benodighede:

  • ’n Boks se sykante
  • Tou
  • Verskillende kleure wol
  • Pen
  • Liniaal
  • Ou kam met groterige tande of vurk
  • Skêr
  • Hekelnaald
  • Naald met ’n groot oog waardeur die wol (wat gebruik sal word om te weef) sal gaan.
  • Stopnaald

So maak mens

Om te kan weef, benodig jy ’n weefraam. In hierdie projek gaan ek jou leer hoe om ’n eenvoudige weefraam uit die sykante van ’n kartonboks te maak wat as ’n basis sal dien om drupmatjies mee te weef.

1.Sny ’n stuk karton uit die boks van ongeveer 10 cm breed en 18 cm lank. Neem jou liniaal trek ’n raam van 1 cm aan die bo- en onderkante van die gesnyde karton (met ander woorde 2 horisontale lyne).

2.Neem jou liniaal en trek vertikale lyne 1 cm van mekaar oor die lengte van die stuk karton. Die lyne kan met ’n baie kleiner spasie van mekaar getrek word, maar vir die projek het ek 1 cm verkies om dit makliker te verduidelik.

3.Neem jou skêr en sny gleuwe aan die bo en onder kante van die stuk karton tot teenaan die raam soos in punt no 1 genoem.

4.Ek het ’n bestaande drupmatjie geneem en dit op die gesnyde karton geplaas en die grootte afgetrek. Die rede hiervoor is dat jy ’n idee het van waar om te begin weef en te eindig.

(Foto: Verskaf.)

5.Neem nou die tou en begin links onder en draai jou tou van bo na onder reg rondom die karton deur die gleuwe. Hierdie vertikale toue word die skerings genome. Los ’n lang stuk tou aan die begin en einde.

(Foto: Verskaf.)

6.Knoop nou die begin en eindpunte van die tou aan mekaar vas aan die agter kant van die karton.

(Foto: Verskaf.)

Sny nog ’n stuk karton van ongeveer 3 cm breed en 10 cm lank uit.  Neem die stuk karton wat as stut sal dien en plaas dit onder al die skerings en draai dit dwars.  Die vergemaklik die proses om jou naald deur die toue te steek.

Jy is nou gereed om te begin weef.

7.Kies jou wolkleur en patroon na smaak. Sny ’n lang genoeg stuk wol af. Ryg nou die wol deur die naald met die groot oog en maak ’n knoop sodat jou wol nie heeltyd uit die naald uittrek wanneer jy weef nie.

(Foto: Verskaf.)

8.Wanneer mens weef, word die naald met wol bo-oor en onderdeur elke vertikale tou oor die breedte van die karton geweef.

9.Begin deur jou naald in lyn met die drupmatjie se grootte op die karton te plaas. Druk jou naald met die wol onder die eerste tou in en bo-oor die volgende tou en hou so aan tot aan die einde. Jou eerste ry is voltooi. Los ’n stuk wol aan die begin en einde van elke kleur – dit sal later weggewerk word

10.Volgende ry: As jy in die vorige ry geëindig het met die naald bo-oor die laaste vertikale tou, moet jy nou begin met die naald onderdeur die eerste vertikale tou. (Dié reël moet deurgaans toegepas word).

(Foto: Verskaf.)

11.Maak gebruik van ’n kam met wye tande of selfs ’n vurk om gereeld ná elke paar rye wat jy geweef het, die rye teen mekaar te kam. Dit is noodsaaklik om die geweefde rye ferm teen mekaar te druk wat die digtheid van jou eindproduk sal bepaal.

(Foto: Verskaf.)

12.Wanneer jy die grootte van jou drupmatjie geweef het, is dit tyd om die tou bo en onder los te knip. Dit veroorsaak dat jou geweefde stuk nou losstaande is van die karton raam.

(Foto: Verskaf.)

13.Knoop die toutjies bo en onder twee-twee aanmekaar.

(Foto: Verskaf.)

14.Neem nou jou stopnaald en werk alle los punte van die wol aan die kant van die matjie in soos hieronder geïllustreer en knip die oortollige stukkie wol af.

(Foto: Verskaf.)

15.Omrede ek die vertikale toue so ver uit mekaar gespan het, het die fraiings op die einde vir my te min gelyk. Ek het dit vermeerder deur ekstra stukkies tou met ’n hekelpen in te hekel.

Wenke:

Wanneer jy weef, moet nooit jou wol te styf trek nie – dit sal veroorsaak dat jou matjie in ’n uurglasvorm getrek word. Ek hou altyd ekstra wol aan die begin van elke ry vas.

Loer gerus in by Maroela Media, want in die volgende artikel gaan ons jou leer hoe om n macramé-drupmatjie te vleg.

Besoek Cay Momberg se Facebook-blad.

(Foto: Verskaf.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.