Dra só ’n masker saam met jou bril

(Foto: Verskaf)

As jy permanent ʼn bril dra én dit saam met jou masker moet dra, kan dit ʼn veiligheidsrisiko vir jou inhou wanneer jou lense opwasem.

Onder normale omstandighede wasem lense reeds vinnig op wanneer lug kondenseer en klein water druppeltjies op die oppervlak van die lens vorm. Dié probleem word groter wanneer ʼn masker saam met die bril gedra word.

“Soos wat jy asem haal, verlaat warm lug die bokant van jou masker en vorm kondensasie wanneer dit die koue lens tref,” sê Ruahan Naude, uitvoerende hoof van Dynamic Vision.

Enige brildraer weet hoe irriterend dit is om konstant jou bril te moet afhaal om dit skoon te maak. Maar die probleem met ʼn opgewasemde bril is veel groter.

Die kanse dat jy struikel of val, of selfs in ʼn ongeluk kom terwyl jy bestuur, is baie groter as jou bril se lense opgewasem is.

“Wasige lense kan jou gedisoriënteerd laat voel en party mense kla selfs dat hulle benoud raak daarvan. Dit kan só onaangenaam wees dat mense ophou om hul bril te dra wanneer hulle ʼn masker moet dra, en dit is uiteraard ook nie gewens nie omdat hulle hul bril nodig het om behoorlik te kan sien.”

Naude sê daar is ʼn paar maniere om van die wasigheid ontslae te raak, maar die effektiefste is om lense te kry wat spesifiek ontwerp is om nie op te wasem nie – wat by Dynamic Vision beskikbaar is.

Hier is ʼn paar wenke om te help dat jou bril nie opwasem as jy ʼn masker dra nie:

  • Spoel jou bril onder skoon kraanwater af voordat jy dit afdroog.
  • Gebruik altyd ʼn mikrovesellappie om jou lense mee af te vee.
  • Wees versigtig om kommersiële ontwasemingsproei te gebruik; maak eers by jou oogkundige seker of dit nie jou lense sal beskadig nie.
  • Moenie seep of skeerroom gebruik om jou lense mee skoon te maak nie. Dit kan die lens se lae beskadig.
  • Vermy haarsproei, deodorant of haargel op jou lense.
  • Gebruik ʼn masker met ʼn neusbrug of een wat volgende jou gesig gevorm kan word om die vloei van warm lug na die bokant van jou masker te beperk.
  • Moet nooit jou bril in die son laat lê nie.
  • Bêre altyd jou bril in sy houer wanneer jy dit nie dra nie.
  • Kruis jou masker se bandjie voordat jy dit om jou oor haak (sodat dit ʼn X-teken op jou wange maak). Dit sal openings aan die kante van jou masker vorm, sodat die lug daar uit kan kom, eerder as aan die bokant.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lourens CFG ·

Die masker met die klep aan die kant werk die beste. Sit hom op, hou hom teen jou neus se brug, en laat jou bril dan bo-op lê.
Geen, of minimaal (koue dae) wasem.

Ronel ·

Ek druk my masker onder my bril se neusies in, dan wasem dit oo nie op nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.