Drome van ʼn groener Kersfees

Foto: Elena Ferrer/Unsplash

Wil jy steeds jou familie en vriende vir Kersfees bederf, maar dit op ʼn “groener” manier doen, wat ekovriendelik is en jou rommelvoetspoor verminder?

Daar is talle stappe wat jy kan doen om hierdie doelwit te bereik, sê organisasies soos die Wêreldwye Fonds vir die Natuur (WWF) Suid-Afrika, Eartheasy en Sustainable Baby Steps (SBS), ʼn webwerf wat deur ʼn familiegroep van vyf bestuur word wat hul voetspore wat hulle op aarde agterlaat, wil verminder.

“Die WWF se leuse is om te los, te verminder of items weer te gebruik. Daarna kom die herwinning van produkte eers. Vra jou af of jy werklik ʼn item nodig het voor jy dit koop, gebruik jou eie sakke om jou inkopies in te dra, probeer om items te koop wat nie soveel verpakking bevat nie en kies produkte wat oor en oor gebruik kan word en volhoubaar is,” sê Eitan Prince, die WWF se digitale kommunikasiebestuurder.

Foto: Plush Design Studio/Unsplash

Bo blink, onder stink

Die WWF sê hoewel blinkertjies alles mooier laat vertoon in die Kerstyd, word dit uit mikroplastiek vervaardig en kan dus die aarde verder besoedel. Dit kan ook deur diere, soos visse en voëls, geëet word, wat dan skade berokken. “Oorweeg dit eerder om dekor te gebruik wat glad nie plastiek bevat nie, soos glasflesse met pragtige vetplantjies, of goed wat van optelhout, materiaal en linte gemaak is.”

Kersliggies is ook ʼn groot sondaar, veral in Suid-Afrika wat dalk vanjaar ʼn Kersfees sonder krag kan deurbring. “Skakel jou Kersliggies en Kersbome af in die aande wanneer jy gaan slaap en gebruik eerder LED-ligte waar moontlik. Minder is ook mooi, so beperk maar die aantal kragaangedrewe versierings wat in en om jou huis vertoon word,” sê Eartheasy.

Volgens SBS kan ʼn mens met ʼn bietjie tyd en verbeelding pragtige tooisels van hout, katoen en ander omgewingsvriendelike materiale maak.

Wanneer jy versierings vir jou Kersboom koop, kyk uit vir items wat nie van plastiek of dun glas gemaak is nie, omdat dit langer sal hou. Koop ook items deur die jaar aan wat sentimentele waarde inhou en elke jaar weer ingespan kan word.

Foto: Nathan Lemon/Unsplash

Dink buite die boks

Daar is niks wat Kersfees spel soos kleurryke toedraaipapier vir jou geskenkie nie, maar selfs dié papier hou gevare vir die samelewing in. Prince sê tonne papier beland elke jaar op ashope. Die papier het ook dikwels blinkers of metaalstukkies in, of gebruik ink wat te intensief is om uit te kry tydens ʼn herwinningsproses.

“Sneespapier, wat ʼn mens dikwels gebruik om ʼn geskenk af te rond, is dikwels te dun om te herwin. Gebruik eerder oorskietpapier of geskenksakkies van ʼn vorige verjaardag of verlede jaar se Kersfees,” sê Prince.

Verder stel hy voor dat ʼn mens kreatief dink en eerder jou geskenke toedraai in iets wat bietjie anders is, soos materiaal, bruin papier of selfs ou koerante. “Kyk vir enige mooi ou blikke, bokse of flesse in jou huis wat jy weer kan gebruik om geskenke in te gee.”

Volgens Eartheasy is ou padkaarte, kinderkuns en kalenders ook oulike, interessante maniere om jou geskenke toe te draai. “Probeer om nie kleefband te gebruik nie, waar moontlik.”

Plaaslik is beslis lekker

Deur plaaslike ondernemings te ondersteun, kan jy ook ʼn groener etenstafel handhaaf. Volgens SBS moet jy eerder seisoenale groente en vrugte wat in jou omgewing gekweek word, voorsit.

“Tooi jou tafel met ʼn mooi natuurlike versiering, soos dennebolle, blomme uit jou tuin of ʼn ou voëlnessie. Gebruik ook jou mooi eetgerei, in plaas van items wat weggegooi gaan word. As enige kos of afval op die tafel agterbly nadat almal reeds geëet het, pak dit in jou komposmandjie,” stel hulle voor.

Foto: Met vergunning van die Idees-tydskrif.

Maak jou eie geskenke

Waar moontlik, kan mense hul eie geskenke maak, aangesien eksklusiewe, handgemaakte items deesdae groter waarde het as ʼn massa-item wat by enige winkel beskikbaar is. Dink aan ʼn glasfles vol van die ontvanger se gunstelingkoekies, of dalk ʼn handgemaakte sak vir inkopies.

Vir diegene wat egter vir ʼn oond of naaldwerkmasjien skrik, is daar ook opsies. Deur ʼn plaaslike mark of vakman te ondersteun, kan jy steeds die egtheid van ʼn handgemaakte geskenk aan jou ontvanger bied, maar sonder die moeite en naaldprikke op die vingers.

Suid-Afrika het ʼn legio entrepreneurs wat van pottebakkery, klere tot juwele en houtspeelgoed strek. Die meeste van die winkels is aanlyn beskikbaar en ʼn mens kan hulle deur Facebook of Instagram uitsnuffel. “Hoe nader aan jou huis, hoe beter,” sê Eartheasy, en voeg by dat jy ook so jou deel doen om jou voetspoor in te perk.

Eartheasy stel voor dat mense minder geskenke koop. “Kyk ook vir geskenke wat nie batterye benodig nie, of koop items aan wat van herwinde materiaal gemaak is.”

Nog ʼn voorstel is om ondervindings, eerder as geskenke aan kinders te gee. Eartheasy glo dat kinders klassies soos hoe om te kook of ʼn kunsklas sal geniet. Dit is ook iets wat ouers saam met hul kinders kan doen. Deur ʼn moeilike resep te bemeester, skep dit ook samesyn tussen jou en jou kind.

Miskien is daar ʼn konsert wat jou kind bitter graag wil bywoon. Kaartjies vir dié konsert is ook ʼn goeie alternatief.

Of jy nou kies om ʼn groen Kersfees of ʼn tradisionele Kersfees te hou, Maroela Media hoop dat dit ʼn geseënde dag sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.