Elke glasbottel verdien ’n tweede kans

(Foto: Verskaf.)

Deur Cay Momberg

Windklokkies van herwinde materiaal is sekerlik een van die mooiste maniere om jou tuin en stoep te versier. Die klem lê op herwin, hergebruik en herleef. Ons stortingsterreine is oorvol van glasbottels, plastiekbottels, karton en vele meer.  Daarom, om ons koolstofvoetspoor te verminder, hergebruik iets soos, onder meer, glas om iets nuttigs en kreatiefs te maak.

Elke windklok wat ek van ’n glasbottel maak, is ’n herinnering aan onvergeetlike oomblikke wat ek saam familie of vriende beleef het. Deur hierdie bottels ‘n nuwe lewe te gee, probeer ek op ‘n sekere manier om daardie spesiale oomblikke weer te laat leef.

(Foto: Verskaf.)

Jy benodig:

  • Gebruikte wynbottels (een bottel per windklok)
  • Glassnyer
  • Tang
  • Draad (indien jy ’n hang hakie wil maak)
  • Wynkurkproppe – gebruiktes
  • Twee hakies per prop
  • Swart merkpen indien nodig
  • Fyn skuurpapier
  • Selfgemaakte kralestringe

So maak jy:

1.Gebruik ’n leë wynbottel. Was dit skoon met warm water en seep, sorg dat alle papier van die bottel verwyder is. Maak goed droog. Moenie bekommerd wees om die bottel heeltemal in die helfte te sny nie. Jy kan self besluit oor die lengte wat jy wil afsny en indien jy dit verkies, kan jy met leerhandskoene aan werk.

2.Hoe om ’n lyn om die bottel te trek met ’n glassnyer: Plaas die bottel op ‘n stabiele sagte oppervlak, soos byvoorbeeld ’n handdoek. Neem die glassnyer stewig in jou regterhand (as jy regshandig is, anders links), plaas die punt van die glassnyer teenaan die kant van die bottel. Neem nou jou linkerhand en draai die bottel stadig in die rondte kloksgewys, terwyl jy konstante, eweredige druk met die glassnyer toepas.  Behou die posisie totdat jy weer by die begin uitkom.  Maak seker jou bottel skuif nie van posisie nie, want dit kan later n slegte breek veroorsaak.  Om te verseker dat jy diep genoeg sny, maak seker jy hoor ’n krapgeluid soos op die video aangedui.

(Foto: Verskaf.)

3.Daar is vele manier om die bottel op die snit te laat breek. Baie faktore speel ’n rol van hoe lank jy die bottel onder die koue water moet roteer, soos byvoorbeeld die dikte en die kwaliteit van die glas. Ek het egter jare gelede by Driekie Schickerling (loodglas-kunstenares) hierdie wenk gekry:

Vul die bottel met kookwater tot net onder die snit. Laat staan die bottel met kookwater in vir omtrent 3 tot 5 minute in ’n wasbak. Maak nou die koue kraan oop sodat daar ’n baie dun straaltjie water uitkom. Hou die bottel aan die nek vas en draai die bottel op die sy kant sodat die lopende straaltjie water direk op die snit kan val. Draai nou die bottel kloksgewys in die rondte totdat die onderste deel van die bottel afbreek.

(Foto: Verskaf.)

4.Vir die projek benodig ons net die boonste gedeelte van die bottel. Wat jy met die onderste deel van die bottel doen, is jou keuse. Jy kan dit hou vir ’n volgende projek of weggooi.

5.Neem fyn skuurpapier en poleer die gedeelte van bottel wat jou hou aan die gesnyde kant. Maak seker jy werk oor ’n plastieksak sodat al die glassaagsels opgevang en weggegooi kan word.

Wenk: Hou die bottel nat as jy skuur – dit voorkom glasstof en verbrokkeling.

6.Voel vry om jou bottel te versier volgens jou voorkeur deur gebruik te maak van byvoorbeeld glasverf of decoupage tegnieke.

(Foto: Verskaf.)

7.Hoe om die bottel te hang: Neem eers die kurkprop en draai hakies weerskante in. Draai jou bottel onderstebo. Neem nou jou vooraf gemaakte kralestring en voer dit van onder af deur die nek van die bottel na bo. Haak nou die kralestring aan die krukprophakie.  Draai die bottel regop. Maak seker die kurkprop is stewig in die bottelnek ingedruk.  Jou windklokkie is nou gereed om ’n ereplekkie in jou tuin of op jou stoep te kry.

(Foto: Verskaf.)

Die kralestring bestaan uit ’n dun kraledraad wat vol geryg is met verskillende kleure en grootte krale. Die groot rooi houtkraal is die tong van die klokkie en dit mag nie heeltemal verby die bottel se rand hang nie.

(Foto: Verskaf.)

Wat is die tong van ‘n klokkie:

Die tong is die deel binne-in die klok wat swaai om die klok te laat lui – dit word die klep genoem, met ander woorde, die tong van die klok. As die klep aan die binnekant van ‘n klokkie slaan, laat dit die klokkie lui. In dié geval is die groot rooi kraal die tong van die windklokkie.

(Foto: Verskaf.)

Wat is ’n windvanger?

Om die klep te laat beweeg om te kan lui, kies ‘n ligte ornament wat heel onder aan die kralestring vaskom (ons noem dit die windvanger) wat die wind kan “vang” om sodoende jou kralestring te kan laat beweeg, wat veroorsaak dat die klep teen die kant van die glas tik en jou windklokkie laat lui.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.