Gee jou masker jou velprobleme? Hier is raad

(Foto: Pixabay)

Gesigmaskers speel ʼn groot rol om die verspreiding van die koronavirus te beperk, maar het jy al agtergekom dat jou vel uitslaan of geïrriteerd raak wanneer jy jou masker lank dra?

Dié soort uitslag, of “maskne” (ʼn samestelling van die woorde mask en acne) soos dit nou bekendstaan, is ʼn probleem wêreldwyd en skoonheidsalonne in China bied nou selfs masker-gesigbehandeling aan, wat slegs die vel onder jou masker behandel.

Maskne” kan puisies, droë velletjies, irritasie en selfs ʼn uitslag onder jou masker veroorsaak weens sweet of die growwe tekstuur van die masker op jou gesig.

Volg hierdie raad om die vel onder jou masker gesond te hou:

Maak jou gesig behoorlik skoon

Gebruik ʼn gesigreiniger wat nie alkohol of geurmiddel bevat nie, om te voorkom dat dit jou vel irriteer.

Was jou gesig in die oggend en aand met louwarm water. Maak seker al jou grimering is af voordat jy ʼn bevogtiger aanwend.

Hou jou masker skoon

Om “maskne” te voorkom is dit nie voldoende om jou masker in jou kar te los en ná ʼn paar dae weer aan te sit nie. Selfs al dra jy nie gereeld ʼn masker nie, moet jy dit elke keer was en behoorlik laat droog word voor jy dit weer dra.

Gebruik sover moontlik ʼn katoenmasker om jou vel soveel moontlik te laat asemhaal.

Wanneer jy met ʼn masker aan oefeninge doen, is dit belangrik om direk ná jou oefensessie die masker met ʼn skoon een te vervang om te verhoed dat bakterieë in jou sweterige masker groei.

Indien jy ná jou oefensessie nie weer ʼn masker hoef te dra nie, was jou gesig deeglik om van al die sweet ontslae te raak.

Grimering

Probeer om sover moontlik nie grimering onder jou masker te dra nie. Die vel sukkel om behoorlik asem te haal wanneer onderlaag aangewend word onder jou masker, en dit kan lei tot puisies en knoppies.

As jy graag grimering onder jou masker wil dra, probeer eerder ʼn dun lagie BB-room wat lig is op die vel. Was die grimering dadelik af wanneer jy weer by die huis kom, en onthou om jou masker ook te was!

Gebruik ʼn afskilferaar

Gebruik twee tot drie keer per week ʼn sagte afskilferaar. Wend dit aan jou hele gesig in sirkelbewegings aan voordat jy bevogtiger aanwend.

Dit is belangrik wanneer jy afskilfer, om dit gereeld te doen. Om eers te begin afskilfer wanneer irritasie, knoppies of puisies reeds gevorm het, kan meer skade as goed doen.

Velprodukte

Bly weg van swaar, olierige produkte aan jou vel om “maskne” te voorkom. Gebruik eerder ʼn ligte sonroom op jou gesig en laat vaar bestanddele soos kokosneutolie.

Maak ook seker jy wag minstens 15 minute voordat jy jou masker aansit sodat jou vel die produk behoorlik kan absorbeer. So voorkom jy dat produkte aan die masker vasklou en bakterieë vorm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.