Gee jouself só ’n salonmanikuur by die huis

Mooi versorgde hande is ʼn luuksheid wat nie vir almal beskore is nie; dalk omdat ons sente moet omdraai of miskien omdat jy nie naby ʼn salon woon nie.

Daarom bied ons jou ses stappe na mooi gemanikuurde hande wat jou nie ʼn klomp geld gaan kos nie.

Of jy nou geld probeer bespaar, jy net nie daarvan hou om in ʼn salon te gaan sit nie, of jy bloot net nie ʼn salon naby jou het nie – hier is hoe jy in die gemak van jou eie huis ʼn salonmanikuur kan kry:

Stap 1 – Berei voor

Begin met skoon hande en naels. Maak seker daar is geen naelpolitoer op jou naels oor nie en was jou hande goed.

Gebruik ʼn afskilferaar om van die droë velletjies op jou hande en om jou naels ontslae te raak. Maak jou hande goed droog en bevogtig dan goed. Laat die handeroom heeltemal intrek voor jy na die volgende stap oorgaan. Jy kan hier ook ʼn naelolie aanwend om jou naels goed te bevogtig.

Afskilferaar van Faithful to Nature

Stap 2 – Knip, vyl, poets 

Knip jou naels indien nodig. As jou naels reeds kort genoeg is, kan jy begin by die vyl. Maak ook seker jy druk die velletjies op jou naels terug en knip dit af indien nodig.

Vyl jou naels in een rigting tot jou ideale vorm bereik is. Jy kan jou naels reghoekig, rond of tussen-in vyl, afhangend van waarvan jy hou. Dit is ook die moeite werd om ʼn naelbuffer aan te skaf om jou naels bo-op te poets. Die buffer maak die fyn lyntjies op jou naels glad en sal sorg dat die naelpolitoer meer egalig lyk.

Naelbuffer van perfectdealz.co.za

Stap 3 – Basislaag

Wend ʼn deurskynende eerste laag aan. ʼn Basislaag is uiters belangrik vir die langdurigheid van jou naelkleur. Moenie net ʼn deurskynende naelpolitoer gebruik nie, maar gebruik eerder een wat spesifiek aandui dat dit as basislaag dien. Hierdie tipe naelpolitoer hou sterker vas aan die kleur wat bo-oor dit geverf word en sal daarom help dat jou naelkleur langer mooi bly.

Maak seker die basislaag is 100% droog voordat jy na die volgende stap beweeg.

Morgan Taylor basislaag

Stap 4 – Naelpolitoer

Wend nou die eerste laag van jou gunstelingkleur naelpolitoer aan. Hou die eerste laag dun en maak seker jy bedek die hele nael. Moenie teveel verf op die kwassie sit nie, maar kry eerder net genoeg vir drie hale – een in die middel af en twee met ʼn kurwe aan elke kant.

Wag nou drie minute en wend ʼn tweede laag van jou kleur aan – weer ʼn dun lagie.

Maak seker die kleur is heeltemal droog voordat jy na die volgende stap beweeg.

Essie naelpolitoer

Stap 5  – Bolaag

ʼn Bolaag sorg vir ʼn mooi glans op jou naels en dit help om te voorkom dat die naelpolitoer kraak en afskilfer. As jy nie hierdie stap doen nie, sal die langdurigheid van jou naelkleur dramaties afneem.

Soek weereens vir ʼn bolaag wat spesifiek vir dié doel gemaak is, eerder as bloot ʼn deursigtige naelpolitoer. Wees baie versigtig wanneer jy die bolaag aanwend om te voorkom dat al jou moeite nie verniet was nie.

Wag tot die bolaag heeltemal droog is voordat jy enigiets anders doen. Sit vir jou ʼn lekker program op die televisie aan en moenie aan enigiets raak nie.

Essence bolaag

Stap 6 – Maak skoon

Doop ʼn opgerolde stukkie watte of oorstokkie in bietjie naelpolitoerverwyderaar en maak jou vingers skoon waar jy dalk oor jou nael geverf het.

(Foto: Unsplash)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.