Grimeerwenke vir haastige vroue

(Foto: Unsplash/Raphael Lovaski)

Tussen kosblikke pak, jou kinders regkry vir skool, jou huishouding bestuur en jouself reg kry vir werk, is dit geen wonder dat baie vroue nie veel tyd oor het om hul grimering te doen nie.

Grimering hoef nie lank te vat nie, en jy het ook nie baie toerusting of produkte nodig om goed versorg te lyk nie. Die heel belangrikste is natuurlik om deurlopend mooi na jou vel om te sien sodat jou gesonde vel vir homself praat, eerder as wat jy alles probeer verbloem met grimering.

Hier is ʼn paar grimeerwenke om jou tyd voor die spieël minder te maak wanneer jy nie baie tyd het nie.

Kies die regte basislaag

ʼn Basislaag (primer) is die maklike manier om jou vel voor te berei vir die grimering wat gaan volg. Kies ʼn basislaag wat sommer self van jou velkwessies sal verbeter selfs voordat jy grimering aanwend. As jou vel maklik rooi word, kan jy ʼn basislaag kies met ʼn tikkie groen in om die kleur reg te stel, as jy voel of jou vel dof en vaal lyk, kies een wat dit ʼn natuurlike blosende kleur gee.

Dié tipe basislaag sal nie net help dat jou grimering vir langer mooi lyk nie, maar dit sal ook jou gelaat help voordat jy begin grimeer.

As jy haastig is en nie jou hele gesig met basislaag wil smeer nie, wend dit slegs aan die dele van jou gesig wat die meeste beweeg, soos om jou mond, jou voorkop en wange.

Kleur jou wenkbroue en wimpers vooraf

Semi-permanente kleursel op jou wimpers en wenkbroue maak ʼn groot verskil aan jou gesig, en jy hoef dit net sowat een maal per maand te doen. Vra jou skoonheidsterapeut om sommer jou wenkbroue mooi te vorm ook, wat nog meer tyd voor die spieël sal bespaar.

As jou wimpers en wenkbroue reeds gekleur is, kan jy dit bloot reg kam en krul en jy is reg om na die volgende stap te beweeg. As jy nie gemaklik is om sonder maskara die huis te verlaat nie, sal dit darem help dat jy net een lagie daarvan aan hoef te wend.

Eerste oë

Doen eers die grimering op en om jou oë, en dán wend jy onderlaag aan. As jy jou onderlaag eerste doen, kan van die ooggrimering op jou wange of oogbanke beland, en dan moet jy dit na die tyd weer gaan verbloem.

Jy sal tyd bespaar deur eerste jou oë te doen, omdat jy slegs een maal onderlaag hoef aan te wend voordat dit perfek lyk.

BB-room

BB-room is ʼn ligte, gekleurde bevogtiger wat ligte dekking bied. Dit lyk nie maklik streperig nie en is maklik om aan te wend. Dit is ʼn puik vervanger vir onderlaag as jy nie baie tyd het nie.

As die tyd regtig knyp, kan jy jou bevogtiger oorslaan en slegs BB-room aanwend, in plaas van bevogtiger en dan onderlaag. Sommige BB-rome het SBF in, wat ʼn groot pluspunt is!

Roomblosser

ʼn Roomblosser is die towerstaf van haastige vroue. Met slegs een produk kan jy jouself baie netjies laat lyk. Gebruik die blosser op jou wange as ʼn gewone blosser, op jou oë as oogskadu, en op jou lippe as ʼn glans – en siedaar! Blosser gee ook jou gesig ʼn jeugdige voorkoms en ʼn glans wat jou vel gesond laat lyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Santie Gildenhuys ·

Dankie vir jou oulike wenke, Janie! Ek vat sommer nog verder kortpad deur ‘n tikkie lipstiffie op my wangbene te tik in die plek van blosser. Verder verkies ek om die onderlaag heel eerste dun en eweredig aan te wend oor my hele gesig en nek. Dit dien dan sommer ook as ‘n eerste, neutrale oogskaduwee. Ek klad net die oortollige oogskaduwee en maskara met ‘n sneesdoekie voordat ek my grimering met los gesigpoeier afrond. Heel laaste volg die lippotlood, lipstiffie en vinnige blosser. Lekker inkleur, my Evasgeslag!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.