Handwerk: Borduur in swart

(Foto: Met vergunning van die Idees-tydskrif.)

Monogramme is ʼn besonderse manier om jou eie stempel op persoonlike goed af te druk. Idees-tydskrif het ʼn monogramkunstenaar gevra om meer te vertel en te wys hoe dit gedoen word.

In die dae voor huise kraanwater gehad het, het dorpe in Europa gemeenskaplike wasgoedbaddens gehad in die vorm van oop kuipe onderdak. Wasvroue het wasgoed van omringende huise ingeneem en elke gesin het hul eie monogram gehad om hul linnegoed uit te ken. Die was van linnegoed het dae lank geduur en, glo dit of nie, dit is gewoonlik net twee keer per jaar gedoen. Dit was ʼn enorme klomp linnegoed, alles gemerk met die monogram van die koninklike huishouding of gewone gesin om hulle as eienaar uit te ken.

Fyn linne soos bedlakens en tafeldoeke het meer oordadige monogramme gehad, dikwels deur professionele borduursters gedoen, terwyl meer gewone huishoudelike goed soos badlakens, wat letterlik binne-in die bad gebruik is, en kombuisdoeke gemerk is met eenvoudige, byna ruwe monogramme wat deur die linnemeisies of vrou van die huis gewerk is.

Dit het ʼn tradisie geword dat meisies leer borduur, nes hulle geleer is om gedigte voor te dra en klavier te speel of te sing. Sou sy die mooiste en fynste steke kon borduur, sou sy ʼn beminlike en deugsame meisie wees. Van jongs af sou sy al aan haar bruidsuitset begin werk – die huishoudelike en persoonlike linnegoed wat sy in haar toekomstige getroude lewe as vrou van die huis sou nodig hê.

In die ou tyd, as sy nie van deftige stand was nie, sou haar pa ʼn vlasland gehad het en sou sy self die vlas geoes en verwerk het en die linne self geweef het op ʼn primitiewe weefraam in die voorkamer van hul huis. Daar was ongelukkig nie sprake van ʼn trougeskenklys soos vandag nie! Sy sou die lap met borduurwerk versier en pragtige linnegoed vir haar uitset maak.

Maak jou eie goed wat met monogramme versier word, met die meeste van die werk wat net aan een kant van die materiaal gesien kan word. Jy het tyd nodig, moet goed kan sien (of bril dra), goeie beligting hê en ’n gemaklike sitplek.

Idees het die naaldwerk projek spesiaal vir Maroela Media se lesers beskikbaar gestel. Die artikel het oorspronklik in Idees se Mei/Junie 2019-uitgawe verskyn.

  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.