Handwerk: Omgewingsvriendelike geskenke vir Moedersdag

(Foto verskaf)

Deur Cay Momberg van Glacermo

Dit is nie meer nodig om leë eierdoppe weg te gooi nie. Herwin dit eerder deur ʼn pragtige planthouer vir vetplante te maak. Afgesien daarvan dat dit baie maklik is om te doen, is hierdie idee 100% omgewingsvriendelik en sal dit sorg vir ʼn unieke Moedersdaggeskenk. Veral as jou moeder ʼn vetplantliefhebber is!

Benodighede:

(Foto verskaf)

  • 6 x gebruikte skoon gewaste eierdophelftes
  • Karton eierhouerbasis vir 6 eiers
  • Akrielverf in die kleure van jou keuse
  • Verskeie vetplante
  • Potgrond
  • Kwaste
  • Lepel
  • Skerppuntmes
  • Sneldroënde deursigtige spuitverf met ʼn lakbasis

Maak só:

(Foto verskaf)

  1. As jy dié projek vir Moedersdag wil aanpak, moet jy ʼn groot ontbyt vir Saterdagoggend beplan en die gebreekte eierdoppe daarvan versamel. Spoel die gebruikte eierdoppe behoorlik uit en laat dit staan om goed droog te word. Wenk: Kraak die eierdop bo die halflynmerk wanneer jy dit breek. Dit gee jou ʼn groter potplanthouer.
  2. Begin deur met ʼn skerppuntmes ʼn klein gaatjie aan die onderkant van jou eierdophelfte te maak vir dreinering. Sit die eierdop saggies plat op jou werkoppervlak neer. Ondersteun dit met jou een hand en draai die skerppuntmes baie saggies vorentoe en agtertoe om ʼn gaatjie te maak. Werk baie versigtig, want eierdop kraak maklik.
  3. Verf nou die eierdoppe aan die buitekant met akrielverf. Plaas elke dop onderstebo oor 1 of 2 vingers van jou ongebruikte hand. Die meeste kleure benodig net een laag verf vir behoorlike dekking, maar indien nodig kan jy nog ʼn laag aanwend. Jy kan dit in enige kleur maak om by jou dekor te pas.
  4. Die karton eierhouerbasis self is ʼn handige manier om jou versameling te vertoon. Dit pas mooi op ʼn vensterbank, wat jou vetplante in staat stel om ʼn bietjie sonskyn te kry en kan ook mooi lyk tussen jou Moedersdag-dekor. Ek hou daarvan om my eierdoppe bont te maak en die eierhouerbasis net ʼn laag goue verf gegee.
  5. Plaas die geverfde eierdoppe en karton eierhouerbasis op ʼn droë plek en laat die verf goed droog word.
  6. Neem die sneldroënde deursigtige spuitverf met ʼn lakbasis en spuit al die doppe en die eierhouerbasis om dit te seël. Maak seker dat dit goed droog is voordat jy verder gaan.
  7. Nou kom die lekker deel. Besluit watter vetplantjie jy in watter kleur eierdop gaan oorplant. Gebruik ʼn teelepel, vul die eierdop gedeeltelik met potgrond en plant dan die vetplant. Herhaal die proses totdat al die eierdoppe gevul is.
  8. Ek het die groter plante agter en kleiner plante voor geplaas, maar jy kan speel met die rangskikking totdat dit lyk soos jy dit wil hê.

Nota: Om dit nog meer persoonlik te maak, kan jy vir jou ma ’n kaartjie bysit.

(Foto verskaf)

  1. Laastens, neem ʼn spuitbottel met water en spuit jou plantjies liggies nat. Kikker jou Moedersdagtafel op met jou herwinbare handgemaakte potplanthouer tussen jou dekor.

(Foto verskaf)

Nota: Om jou vetplante te versorg is maklik. Gebruik ’n oogdrupper of spuitbottel om een keer per week jou plante liggies nat te lei. Met die beperkte wortelruimte sal die plantjies baie stadig groei en lank neem om die dop te ontgroei. Dit behoort vir ʼn paar maande pragtig te lyk. Maak seker dat jou plantjies helder lig en sonskyn kry.

Wanneer die plantjie te groot word, plant dit met dop en al in die grond. Eierdoppe is goeie kunsmis en is beslis omgewingsvriendelik. Plante het net soveel kalsium nodig om te groei as wat hulle fosfor en stikstof benodig, en eierdoppe is ʼn uitstekende manier om jou vetplante en kaktusse van kalsiumkarbonaat te voorsien.

Ons sal graag wil hoor wat jy dink: Sal jy vetplante in eierdoppe plant? Maak jy self Moedersdaggeskenke? Laat weet ons en geniet Moedersdag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.