Help jou troeteldier só om gewig te verloor

(Foto: Verskaf/Hill’s Pet Nutrition)

Diereliefhebbers dink dikwels dat liefde in die vorm van lekkernye vir ons diere, hulle gaan wys hoe lief ons hulle het. In werklikheid kan dit egter na probleme vir jou viervoetige vriend lei as dit gereeld gebeur.

Marycke Ackhurt, ʼn dieregedragspesialis by Hill’s Pet Nutrition sê 50% van troeteldiere is oorgewig en ʼn kommerwekkende 90% van eienaars besef dit nie eens nie.

“Wanneer ons aandag verskaf in die vorm van te veel kos en nie genoeg oefen nie, kan ons troeteldiere se gewig ʼn probleem raak wat na ernstige gesondheidsprobleme kan lei.”

Aangesien mense tydens die inperkingstyd meer by die huis bly en al hoe meer bly sit, het dit ook oorgespoel na ons troeteldiere toe.

“Dit is ʼn uitdaging om onsself te motiveer om op te staan en aktief te wees, wat nog te sê van ons troeteldiere!” sê sy.

Sy meen dit hoef nie ekstra moeite te verg om jou troeteldiere aktief te hou nie en dat jy dit maklik in jou alledaagse lewe kan inpas. Sy stel die volgende voor:

Honde

  • In plaas van ʼn stadige stappie, gee jou en jou hond se hartklop ʼn hupstoot met ʼn flink stap of selfs draf. Dit help ook om by bulte op te stap om ekstra kilojoules te verbrand. Jy kan ook jou hond aanmoedig om op verskeie oppervlaktes soos boomstompe, mure en bankies te spring tydens die stappie.
  • Het jy trappe by die huis? Moedig jou hond aan om jou ʼn paar keer ʼn dag op en af op die trappe te volg. As jou hond bietjie motivering nodig het, kan jy sy of haar gunstelingspeelding teen die trappe op gooi.
  • As jy toegang het tot ʼn swembad, dam, rivier of strand, en jou hond hou van water, is dit ʼn fantastiese manier om hulle te help om oefeninge te doen terwyl hulle pret het.

Moet egter nooit jou troeteldier sonder toesig in enige water los nie en maak seker hulle kan self uitklim.

  • As jou hond goed aan ʼn leiband stap, kan jy hom ook saamneem wanneer jy gaan draf of fietsry. Maak net seker die omgewing is veilig vir hom om saam te kom.
  • As jou hond se fiksheidsvlak nog laag is, kan jy dit oor tyd opbou deur elke week ʼn bietjie verder of ʼn bietjie vinniger te stap of te draf.

(Foto: Verskaf/Hill’s Pet Nutrition)

Katte

  • Katte is mal oor speelgoed en om daarmee te speel, so deur hul gunstelingspeelgoed maklik bekombaar te maak, kan jy jou kat meer aktief hou. Goeie opsies is balle wat kan hop of self net ʼn stuk papier.
  • Katte is ook mal oor bokse. Plaas bokse oral in jou huis om jou kat aan te moedig om in en oor die bokse te klim.
  • Baie katte hou van wegkruipertjie speel – steek jou kat se speelgoed weg en laat hulle toe om deur die huis te hardloop om dit te vind. Jou kat sal mal wees oor die gehalte-tyd saam met jou, en sal nie eens agterkom hulle doen oefening nie.
  • Voer jou kat gedurig op verskillende plekke, sodat sy haar kos moet gaan soek. Jy kan ook die kos op ʼn hoër oppervlak neersit sodat sy effens meer moeite moet doen om daarby uit te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.