Hier is raad vir oefeninge by die huis

LaniFit Outdoor Bootcamp (Foto: Verskaf)

Jy hoef nie by ʼn gimnasium aan te sluit of aan ʼn drafklub te behoort om oefeninge te doen nie, jy kan dit maklik in die gemak van jou eie huis doen sonder veel toerusting.

Lelani Loots, ʼn gekwalifiseerde persoonlike afrigter en eienaar van LaniFit Outdoor Bootcamp, moedig mense aan om in die buitelug te oefen en om selfs sommer in jou eie tuin oefeninge te doen.

“Ek was nog altyd lief vir sport en oefeninge, en ek is mal daaroor om buite te wees. Hoe meer ek van die gimnasium af kan wegbeweeg, hoe lekkerder vir my,” sê sy.

Loots se buitelug-oefenklasse lok reeds sowat 250 mense van Pretoria om weekliks op dié wyse te oefen.

“As jy die hele dag in ʼn kantoor deurgebring het, wil jy nie wéér by ʼn gebou ingaan om oefeninge te doen nie. Dit is net soveel lekkerder buite in die vars lug, maak nie saak of dit warm of koud is nie!”

Lelani Loots (Foto: Verskaf)

Loots sê jy kan selfs ʼn volledige oefensessie doen in jou eie tuin, in jou sitkamer of enige ander plek waar jy jou bevind.

“So kan jy dit ook teen jou eie pas doen,” sê sy. “Jy kan ook na musiek luister of jou gunstelingtelevisiereeks kyk.”

Volg só Loots se program vir ʼn oefensessie by die huis:

Opwarm

Hardloop so vinnig as wat jy kan op dieselfde plek vir 30 sekondes

Hou ʼn hurkposisie (squat) vir 30 sekondes

Hardloop so vinnig as wat jy kan op dieselfde plek vir 30 sekondes

Oefensessie

Stel jou horlosie vir 30 sekondes; oefen met 15 sekondes rustyd. Doen drie oefeninge op dié wyse, rus vir een minuut en begin weer. Hou aan solank as wat jy wil oefen.

Kies oefeninge uit hierdie lys:

  • Marsjeer op die plek – lig jou knieë hoog en swaai die arms
  • Draf op die plek
  • Loop met knieë hoog gelig op die plek
  • Systappe (side lunges)
  • Hurksit (squats)
  • Bergklimmers (mountain climbers)
  • Hardloop so vinnig as wat jy kan op een plek
  • Hurkspring (squat jumps)
  • Bergklimmers (mountain climbers)
  • Opstote (push ups) (kan op die knieë staan om dit makliker te maak)
  • Triseps-opstote (tricep dips) (gebruik enige trappie of ’n stoel)
  • Agtertoe lons-bewegings (lunges)
  • Spoedskaats (speed skating)
  • Hurk en hou (staan met jou rug teen die muur en hou ʼn hurkposisie)
  • Opsitte
  • Fietsry-maagoefening (bicycle crunches)
  • Tone raak-maagoefening (toe touch crunches)
  • Plank (kan op jou knieë staan as jy ’n beginner is)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Leon ·

Ek het ‘n ernstige knie probleem. Helfte van die oefeninge gaan my in die hospitaal laat beland.
Dit is waarom ek nie by ‘n gimnasium kan aansluit nie. Niemand ontwerp oefening vir mense met soosrtgelyke probleme nie. Baie jammer.

Ronel ·

Jou oplossing is ‘n biokenetikus. Ek sukkel met rug en knieë. My biokenetikus het wonderlike oefeninge voorgeskryf en met haar hulp het ek alreeds 40kg afgeskud en ek voel wonderlik! My rug pla nog, maar die knieë is amper vergete. Ek het ook begin draf en doen so gereeld mootlik parkrun ook. NEVER SAY NEVER

Cherokee ·

Weet nie wat jy ‘n ernstige knie probleem noem nie Leon, maar ek het ‘n knieskyf (patella) verloor in ‘n motorongeluk. Ek woon op die 11de vloer van ‘n woonstelblok en my dag se oefening is om namiddag, wanneer ek my kantoor sluit, trappe te klim tot by my woonstel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.