Hoe om gesond te bly op ʼn begroting

Catherine Clark, eienaar van die aanlyn gesondheidswinkel The Harvest Table (Foto: Verskaf)

Minder geld hoef nie noodwendig ʼn ongesonde leefstyl te beteken nie.

Catherine Clark, eienaar van die aanlyn gesondheidswinkel The Harvest Table, sê dit is belangrik om te weet hoe om inkopies te doen vir gesonde kos wat nie net bekostigbaar is nie, maar wat ook voordelig vir jou liggaam en immuunstelsel is.

Onlangse navorsing deur TransUnion het getoon dat soveel as 64% van mense wat aan die opname deelgeneem het, aangedui het dat hulle hul huishouding se begroting moes sny as gevolg van die Covid-19-pandemie en inkomste wat gevolglik onstabiel is.

“Dit is noodsaaklik om vir die voorsienbare toekoms te leer hoe om ʼn verlaagde inkomste, gesonde eetgewoontes en ʼn gesonde immuunstelsel te balanseer en te handhaaf,” sê Clark.

Sy gee die volgende wenke om gesond te eet op ʼn beperkte begroting:

  1. Koop in grootmaat

Een van die groot geheime om geld op jou inkopies te bespaar, is om in grootmaat te koop. Daar is wonderlike winskopies op vleis, vars groente en ander kossoorte.

  1. Plant jou eie

Sade is goedkoop en met ʼn bietjie tyd en moeite kan jy jou eie kruie, tamaties, uie ensovoorts kweek. Jy sal nie net geld spaar nie, maar jy sal ook smaaklike groente hê wat vol voedingswaarde is.

  1. Oorweeg gevriesde produkte

Gevriesde vrugte en groente is reeds opgesny en gereed om te gebruik. Dit is ook dikwels goedkoper as om dit vars te koop en steeds net so goed vir jou. Vermy wel gevriesde produkte wat addisionele sout, suiker en vet bevat.

  1. Kyk na handelsmerke

Die meeste supermarkte verkoop goeie kwaliteit “no name”-handelsmerke. Dit is goedkoper en jy hoef nie vir die mooi verpakking te betaal nie. Daar is selde ʼn groot verskil in die goedkoper handelsmerk en die luukse een se produkte.

  1. Vermy gemorskos

Jy sal geskok wees om te sien hoeveel geld jy kan spaar deur bloot net nie meer gaskoeldrank, koekies, aartappelskyfies en voorbereide maaltye te koop nie. Behalwe vir die koste, het hierdie kos ook baie min voedingswaarde en is dit vol ongesonde bestanddele.

  1. Belê in vitamien-aanvullers

ʼn Goedkoop manier om jouself gesond te hou op ʼn begroting is om vitamien-aanvullers te gebruik. Navorsing het al getoon dat vitamien C- en sink-aanvullers jou kan help om minder siek te word en om vinniger van ʼn siekte te herstel, sou jy wel siek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.