Hou jou huis se oppervlakke só skoon

Om jou hande skoon te hou, is nie die enigste ding wat jy kan doen om die verspreiding van die koronavirus (Covid-19) te bekamp nie; dit is belangrik dat jy ook jou oppervlakke reinig om seker te maak jy is veilig gedurende die afsonderingstydperk.

Nicola Hickman, handelsmerkbestuurder van die steriliseringproduk Milton, sê die koronavirus moet by sy oorsprong gestop word sodat ons die verspreiding daarvan kan beperk. Daarom moet ons ons oppervlakke skoon hou.

“Die doeltreffendste manier om jou en jou familie teen siektes te beskerm is deur middel van volgehoue handhigiëne, maar dit is ook belangrik om jou oppervlakke behoorlik skoon te maak,” sê Hickman.

“Dit is laasgenoemde wat gereeld geïgnoreer word of wat agterweë bly. Wat die meeste mense nie besef nie, is dat onlangse wetenskaplike inligting daarop dui dat die koronavirus aansteeklik kan bly op oppervlakke vir tot 72 uur.”

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is dit nog nie duidelik hoe lank die koronavirus aktief op oppervlakke bly nie, maar navorsing toon dat dit “enigiets van ʼn paar uur tot ʼn paar dae op oppervlakke kan agterbly”.

Volgens die Amerikaanse Sentrum vir Siektebeheer en Voorkoming (CDC) is dit veral belangrik om jou huis skoon te maak en te ontsmet wanneer iemand in jou huis siek is. Die CDC stel die volgende voor:

Maak skoon

  • Maak die oppervlakke waaraan jy baie vat gereeld met seep en water skoon.
  • Dié oppervlakke sluit in tafels, deurhandvatsels, ligskakelaars, toonbanke, selfone, lessenaars, sleutelborde, toilette, krane en wasbakke.

Ontsmet

  • Gebruik ʼn ontsmettingsmiddel met minstens 70% alkohol.
  • Volg die vervaardiger se instruksies oor hoe om die produk te gebruik.
  • Los die ontsmettingsmiddel op die oppervlak vir ten minste een minuut.
  • Verdunde huishoudelike bleikmiddel kan ook gebruik word. Maar maak seker die produk het nog nie verval nie.
  • Verdun so jou huishoudelike bleikmiddel deur 5 t bleikmiddel per 1 liter water te verdun.

Sagte oppervlakke

  • Oppervlakke soos matte, gordyne en banke
  • Maak die oppervlakke skoon met seep en water of met skoonmaakmiddels wat geskik is.
  • Was items in die wasmasjien volgens die vervaardiger se aanwysings.

Elektronika

  • Items soos sleutelborde, rekenaars, afstandbeheerders en tablette
  • Oorweeg dit om ʼn tydelike bedekking om/oor te sit wat maklik afgevee kan word.
  • Gebruik alkohollappies of -sproei en maak items goed droog na die tyd.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.