Internasionale handsakdag: Só beskerm jy jou handsak

Argieffoto (Foto: Unsplash, Pixabay)

’n Vrou se handsak is nie net ʼn kosbare besitting nie, dit is ook ’n weerspieëling van haar persoonlikheid.

In Oktober vier ons internasionale handsakdag, ʼn dag waarop vroue verenig in hul waardering vir die voorwerp waarsonder hulle nie kan klaarkom nie: die handsak. Ter viering van handsakdag word vroue in die land ook weer daaraan herinner om hul handsakke ten alle tye veilig te hou om handsakdiefstal te voorkom.

Volgens ’n onlangse opname deur Stats SA is daar ’n aansienlike toename in die aantal straatrooftogte in die land. Die polisie se misdaadstatistieke dui aan dat algemene rooftogte tot 51 765 voorvalle vanaf 2018 tot 2019 gestyg het.

Casey Rousseau, woordvoerder van die 1st for Woman-versekeringsmaatskappy, sê vroue moet ten alle tye paraat wees omdat hulle sagte teikens vir handsakdiefstal is. “Vroue is gewoonlik platgeslaan wanneer hulle hul handsakke verloor. Nie net oor finansiële redes nie, maar veral oor persoonlike redes,” sê sy.

Luidens ’n opname van 1st for Women blyk dit dat meer as ’n derde van Suid-Afrikaanse vroue meer as tien handsakke besit. Die meerderheid van dié vroue bestee tot R400 per handsak. Nege persent van dié vroue sê hulle betaal meer as R1 000 vir ’n handsak.

Meer as die helfte van die vroue wat aan die opname deelgeneem het, sê grypdiewe is hul grootste kommer wanneer dit kom by die veiligheid van hul handsakke.

Volgens ’n verklaring uitgereik deur 1st for Women is daar ’n paar stappe wat vroue kan volg om hul handsakke te beveilig.

Rousseau beveel aan dat vroue hul handsakke hul hoofprioriteit moet maak wanneer hulle uit hul huise gaan. “Wees gedurig bewus van waar jou handsak is. As jou handsak ritssluiters het, hou dit toe. Dra ook jou handsak naby jou lyf,” sê sy.

Luidens die verklaring moet vroue ook weet waar en wanneer die meeste handsakdiefstalle plaasvind om handsakdiefstal te voorkom:

  • Moenie jou handsak op die motor se passasiersitplek los nie. Plaas eerder jou handsak altyd in die bagasiebak wanneer jy ry.
  • Wees versigtig wanneer jy fliekteater toe gaan. Omdat die teater donker is tydens die vertoning van die fliek, is dit vir die handsakdief maklik om vinnig jou handsak onder jou sitplek of by jou voete te gryp. Hou jou handsak toegerits op jou skoot tydens die fliek.
  • Moet nie jou handsak in jou inkopietrollie bêre wanneer jy inkopies gaan doen nie. Dra eerder jou handsak by jou.
  • Omdat jou handsak so maklike teiken in ’n skare mense is, moet jy veral paraat wees in stampvol openbare ruimtes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.