Kersboom­versierings in ’n japtrap van lugdroogklei

Kom maak jou eie Kersversierings vanjaar. (Foto: Verskaf)

Deur Cay Momberg

Daar is net iets aan die Desembervakansie wat my vingers laat jeuk om kreatief te wees en Desember 2020 gaan met goud bedek wees! Gebruik lugdroogklei en gee jou Kersboom daai tikkie persoonlike aanslag met handgemaakte Kersboomversierings wat ’n storie vertel.

 Jy benodig:

  • Gekoopte lugdroogklei – (waarvan jy Kersboomversierings gaan maak)
  • Koekiedrukkers
  • Sosatiestokkie
  • Akrielverf – verskeie kleure
  • Handgemaakte keramiek bisque-KersboomornamenteViltpenne – enige soortSwart permanente merkerKleurlose vernisVerfkwaste
  • Water
  • Tou
  • Krale

Kry al jou benodighede bymekaar. (Foto: Verskaf)

Só maak mens:

Klei vir lugdroging kan gebruik word vir juweliersware, ornamente en verskillende handwerkprojekte. Die beste van alles is dat lugdroogklei nie ‘n oond benodig om ‘n pragtige, unieke produk te skep nie. Gewoonlik sal lugdroë klei ná 24 uur droog genoeg wees om aan te raak. Hoe dikker die klei is, hoe langer neem dit om droog te word.

1.Neem jou blok klei en gebruik ’n mes om ’n stukkie af te sny wat net groot genoeg is om omtrent een vorm uit te druk. Bêre die res van die klei weer in bak wat kan verseël om uitdroging te voorkom.

2. Knie jou klei totdat dit sag is. Deur die klei te knie en te hanteer, word dit sagter en sal dit makliker wees om mee te werk. Neem nou die klei en vorm ’n bal met jou hande. Druk die balvorm nou plat op ’n houtoppervlak. Jy kan bietjie water met jou vinger neem en oor die klei smeer om ’n gladde oppervlak te kry.

3. Neem jou koekiedrukker en druk jou vorm uit. Neem ’n sosatiestokkie en maak ’n gaatjie in die vorm waardeur die toutjie moet gaan vir ophang.

4. Sit jou klaargemaakte kleivorms eenkant op ’n gelyke oppervlak en laat staan vir 24 uur om droog te word. Moenie die klei steur of skuif terwyl dit nog besig is om droog te word nie. Let wel, dit kan tot 48 uur neem vir klei om droog te word in koel of vogtige weer.

(Foto: Verskaf)

5.Wanneer jou klei droog is, is dit gereed om geverf te word. Gebruik ’n verfkwas en verf ’n onderlaag op die vorm met die kleur van jou keuse. Laat dit droog word. Neem ’n kontrasterende kleur viltpen en gee jou kreatiwiteit vrye teuels deur detail aan elke vorm te gee deur middel van sirkels, kolletjies, strepe of patrone daarop aan te bring.

6. Nadat al die verfwerk gedoen is, wend ’n laag kleurlose vernis aan vir beskerming.

(Foto: Verskaf)

7.Laastens, ryg ’n toutjie met krale deur vir die finale afronding.

(Foto: Verskaf)

8. Jou handgemaakte Kersversierings is nou voltooi en gereed om gehang te word of om as present weg te gee.

My storie: Ek sorg dat my handwerk altyd ’n storie vertel, en daarom verduidelik ek graag die gebruik van die spesifieke kleure:

  • Swart onderlaag simboliseer die hartseer van Covid-19 in 2020.
  • Die groen simboliseer lewe.
  • Die goud wat die swart en groen bedek, simboliseer hoop en vrede.

(Foto: Verskaf)

Wenk: Ongeverfde wit klei-Kersversierings kan ook met die découpage-tegniek in pragtige Kersversierings omskep word, of gebruik dit sommer as ’n unieke geskenketiket.

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.