Maak jou grimeerkwaste só skoon

(Foto: Pixabay)

Ons grimeer ons gesigte byna elke dag, maar dieselfde kan nie gesê word oor hoe gereeld ons die kwaste en borsels waarmee ons dit aanwend, skoonmaak nie.

Die meeste dermatoloë sal jou aanmoedig om jou grimeringsgereedskap ten minste een maal per week skoon te maak om te voorkom dat dit vuil raak en bakterieë daarop begin bou.

ʼn Mens bestee baie geld en tyd op goeie gesigsreinigingprodukte, maar dit help nie as jy elke dag jou grimering met ʼn vuil kwas of spons aanwend nie. Om jou gereedskap gereeld skoon te maak, sal ook die aanwending van grimering verbeter omdat daar nie ou produk aan vassit nie.

Die algemene riglyne is dat jy gereedskap wat jy vir nat produkte soos onderlaag gebruik een maal per week moet skoonmaak, en borsels wat jy gebruik vir droë produkte soos oogskadu, ten minste een maal elke twee maande skoonmaak.

Hoe maak ek my grimeerkwaste en -borsels skoon?

Gebruik louwarm water en ʼn sagte soort seep van jou keuse. ʼn Bietjie opwasmiddel of babasjampoe werk ook goed.

  1. Vryf kwaste en sponsies liggies onder louwarm water.
  2. Druk ʼn bietjie seep in jou hand uit en masseer die sponsie of kwas in die palm van jou hand.
  3. Spoel die borsel goed uit met skoon water.
  4. Druk die orige water uit die borsels of sponsies.
  5. Vorm die borsel se hare weer in die vorm en rigting wat dit moet wees.
  6. Laat die borsels natuurlik droog raak deur die borsels plat op ʼn toonbank neer te sit, met die kwasgedeelte wat van die kant af hang. Jy kan die borsels oor jou wasbak laat hang sodat die nattigheid daarin drup. Moet dit nie op ʼn handdoek laat droog raak nie.

Wenk: Moenie die borsels regop was nie en weer versigtig om nie te veel water toe te laat op die basis van die kwas (waar die handvatsel en die kwas bymekaarkom) nie om te voorkom dat die gom wat die kwas se hare vashou, nie loskom nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Verisca

Die pienk vanish sepia werk fantasties vir sponsies en kwaste