Maak ’n hangende Delft-hart vir Valentynsdag  

(Foto: Verskaf)

Deur Cay Momberg van Glacermo

Maak hierdie veeldoelige Valentynsdag-hart om ʼn romantiese aandete te versier en gebruik dit daarna om enige kamer op te kikker. Die woord découpage kom van die Franse werkwoord découper, “om uit te sny”. Wikipedia se definisie is: “Die kuns om ʼn voorwerp te versier deur gekleurde papieruitknipsels daarop te plak in kombinasie met ʼn spesiale verf-effek.” Die découpage-tegniek kan gebruik word om byna enige item in jou huis op te kikker of te verander en die ontwerpe kan so eenvoudig of kompleks wees as wat jy dit wil hê. Daar is ʼn groot verskeidenheid voorraad spesifiek vir découpage te koop, maar jy het waarskynlik reeds die meeste van die voorrade by die huis om sommer dadelik met ʼn eenvoudige projek te kan begin.

(Foto: Verskaf)

Benodigdhede:

  • Keramiekhart (enige basis kan gebruik word, byvoorbeeld hout, glas, karton, blik of papiermaché)
  • Skêr (opsioneel – want ek skeur eerder voor ek knip)
  • Geskenkpapier, tydskrifte of papierservette
  • Kwas
  • Modge Podge (die gom wat jy gebruik om te découpage)
  • Kleurlose vernis

Só maak mens:

Jy kan die basis (keramiekhart) eers met ʼn onderlaag (kleur van jou keuse) verf voor jy met die découpage begin. In hierdie geval het ek verkies om die basis wit te hou en nie te verf nie. In die projek gebruik ek papierservette en omdat dit so dun is, is dit baie moeilik om te découpage sonder dat daar plooie vorm. Die goeie nuus is dat plooie tipies deel is van die sjarme van die gebruik van papierservette en ʼn bietjie karakter by jou oppervlak kan voeg.

1.Voordat jy begin, maak seker dat jou oppervlak gereed is en die basis wat jy wil découpage skoon is. Plaas koerantpapier op die oppervlak en vee die keramiekhart met ʼn klam lap skoon.

2. Begin deur die papierservette in kleiner dele te skeur.

3. Wend ʼn dun tot medium laag Modge Podge (découpage-medium) op die oppervlak van die basis met ʼn kwas aan.

4. Neem nou ʼn stukkie servet en plaas dit bo-op die Modge Podge.

(Foto: Verskaf)

5. Plaas ʼn stuk kleefplastiek bo-oor die servetgedeelte wat op die Modge Podge geplak is. Gebruik jou hand en vryf oor die kleefplastiek op die servet om dit plat en egalig te kry. Hou aan om dit glad te maak totdat al die borrels weg is. Deur die plastiek bo-oor te sit, verhoed jy dat die servet aan jou hand vasklou en skeur.

(Foto: Verskaf)

6. Herhaal die plak-en-vryf-proses totdat die keramiekhart heeltemal met die servet toegeplak is.

7. Baie belangrik: Laat jou projek vir 15 tot 20 minute droog word voordat jy die laaste twee lae Modge Podge verf.

8. Herhaal dan nou die laaste twee lae Modge Podge.

9. Laat goed droog word totdat jy nie meer die klewerigheid kan voel nie.

10. Wend ʼn deursigtige sproeiverseëlaar bo-oor aan en laat droog word. Jou Valentyn-handewerk is nou gereed vir gebruik.

Wenke:

  • Te min Modge Podge sal plooie veroorsaak, terwyl te veel Modge Podge altyd weggevee kan word.
  • Indien jy met groot stukke servet werk, moet jy dit van die middel af na buite plak om dit glad te maak.

Besoek Cay Momberg se Facebookblad vir nog projekte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.