Maak ’n houthaas vir jou tuin

Al jou benodighede vir jou tuin se eie houthaas. (Foto: Life is a garden.)

Hierdie projek is ideaal om die kleiner tuinvingers in die buitelug besig te hou. Die handwerkprojek is so eenvoudig dat die hele gesin sommer saam daaraan kan werk terwyl julle die heerlike Suid-Afrikaanse herfsweer geniet.

Jy benodig:

  • agt stompe in verskillende groottes van sirkels gesny
  • ʼn ketting- of handsaag indien jy nie gesnyde houtskywe gekoop het nie
  • ʼn boor en skroewe
  • houtlym

Jy kan vooraf gesnyde houtskywe by jou plaaslike tuinsentrum koop, maar in die inperkingstyd kan die gesin ʼn avontuur aanpak en die tuin deursoek vir ʼn tak of stomp wat ideaal vir die handwerkprojek is.

Die houtskywe wat jy benodig:

  • twee groot skywe vir die haas se lyfie
  • een mediumgrootte houtskyf vir sy kop
  • twee lang ovaal skywe vir die ore
  • twee klein ovaal of sirkelvormige skywe vir die pote
  • een klein skyf vir sy stert

(Foto: Life is a garden.)

Sit jou haas so aanmekaar:

Stap 1

  • Begin deur twee gate in die haas se lyf te boor om die pote aan elke skyf te heg.
  • Wend houtlym om die gate aan en laat dit vir ʼn paar minute om droog te word.
  • Draai dan die skroewe vas om die bene se pote aan die lyf vas te maak.

(Foto: Life is a garden.)

Stap 2

  • Kies een kant van die lyf en poot van die houtstruktuur.
  • Maak die klein skyf as die stert vas aan die haas se lyf en voeg die mediumgrootte skyf vir sy kop aan.
  • Herhaal die vasmaakproses deur twee gate vir elke liggaamsdeel te boor, houtlym aan te wend en die skroewe vas te boor.

Stap 3

  • Laat die lyf van jou haas regop staan om te sien of hy op sy voete balanseer. Voeg die anderkant van die haas se lyf aan die basis van die kop deur twee gate te boor en dit met houtlym vas te maak. Draai dit met skroewe vas.

(Foto: Life is a garden.)

Stap 4

  • Boor dan laastens nog gate om jou haas se ore vas te maak, en siedaar, daar het jy jou eie houthaas vir jou tuin gemaak. Dit is net die regte versiering om jou tuin ʼn Paasfees-tema te gee.
  • Moedig jou gesin aan om die haas te versier met ʼn strik, of verf vir jou haas ʼn paar oë of ʼn oulike gesig.

Jy kan jou houthaas met die Life Is a Garden-span deel deur ʼn foto te neem en dit op Facebook of Instagram te laai met die hutsmerk #lifeisagarden en @maroelamedia.

Besoek www.lifeisagarden.co.za vir nog wenke en inspirasie vir tuinmaak, of besoek hulle Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.