Maak só jou medisynekas skoon

Argieffoto (Foto: Michal Jarmoluk/Pixabay)

Die inhoud van jou medisynekas kan meer skade as goed doen as die produkte daarin verval het of as die houers al té lank oop is.

Om seker te maak dat jou medisynekas veilig en gereed is vir die jaar, moet jy dit minstens een keer per jaar skoonmaak en produkte van kant maak wat nie meer bruikbaar is nie.

“Medisynekaste moet gereeld skoongemaak word, aangesien sekere soorte medikasie ná ʼn tydperk minder doeltreffend raak en selfs skadelik kan wees,” sê Gerda Potgieter van Medipost Apteek.

Vervaldatum

“Ondersoek alles, waaronder salf, aanvullers en vitamiene, en raak ontslae daarvan as dit oor die vervaldatum is. Gooi enige items weg wat van kleur verander het, lyk of dit vervalle of troebel is, of wat ʼn vreemde reuk het,” raai Potgieter aan.

Volgens haar verstaan baie mense nie hoe medisyne se vervaldatum werk nie, en dit lei daartoe dat mense medisyne gebruik wat nie meer gepas is vir gebruik nie. Dit is belangrik om te verstaan dat ʼn vervaldatum op medisyne na die ongeopende produk verwys. Dit dui aan dat die medisyne veilig gebruik kan word tot op die vervaldatum.

“Sodra medisyne oopgemaak is, kan dit besmet word. Om ʼn pil uit sy houer te haal, om met ʼn oogdruppel-bottel aan jou wimpers te raak of om ʼn bottel medisyne aan lug bloot te stel kan alles tot besmetting lei en daarom die vervaldatum belemmer.”

Dit is raadsaam om enige orige medisyne weg te gooi nadat dit oopgemaak is, sê Potgieter.

Verpakking

Argieffoto (Foto: Pexels/Pixabay)

Gooi eerder medisyne weg wat oorgebly het en in ʼn ander verpakking geberg is en jy nie kan onthou wat dit is nie, raai Potgieter mense aan. “As die medisyne nie meer in sy oorspronklike verpakking is nie, moet jy eerder veilig bly en dit weggooi om moontlike verwarring te voorkom.”

Dit is ook belangrik om die voubiljet binne-in die verpakking te hou vir toekomstige verwysing.

Antibiotika

“Antibiotika moet nooit gehou word vir toekomstige gebruik nie en mense moet altyd die kursus voltooi wat die dokter voorgeskryf het,” sê Potgieter.

Antibiotika verloor nie net hul doeltreffendheid nie, maar ʼn spesifieke antibiotikum word vir spesifieke infeksies voorgeskryf.

“As die verkeerde antibiotika geneem word, kan dit ondoeltreffend wees, of tot nog ernstiger siektes en antibiotikaweerstandigheid lei.”

Bêreplek

Argieffoto (Foto: Steve Buissinne/Pixabay)

Volgens Potgieter is jou badkamerkassie nie die ideale plek om medikasie te bêre nie, aangesien die temperatuur en humiditeit van ʼn badkamer die doeltreffendheid van die medisyne kan belemmer.

“Berg medisyne in ʼn koel, droë plek, uit die son uit en buite die bereik van kinders en diere,” sê sy.

Daar is geen voordele daarin om medisyne in jou yskas te berg nie, behalwe as dit só op die verpakking gespesifiseer word.

Hoe om medisyne weg te gooi

Die veiligste en omgewingsvriendelikste manier om medisyne weg te gooi is om dit na jou apteek te neem wat dan veilig daarvan ontslae sal raak.

“Dit is gevaarlik om medisyne wat jy nie gebruik nie, in die toilet af te spoel of bloot in jou vullisdrom te gooi omdat water en stortingsterreine daarmee besmet kan word,” sluit Potgieter af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Blommie ·

Ons neem ons ou medisyne na Clicks, hulle konfiskeer dit op die korrekte manier. Ons gaan gee jaarliks ‘n sak vol ou medisyne in. Niks word in die toilet afgespoel nie.

TJ ·

Ja dis seker die korrekte manier, maar medisyne is so duur!! Ek sal ook nie medisyne na die vervaldatum gebruik nie, maar tot dan, al was dit oop, sal ek dit gebruik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.